Om die wêreld
Ek het grootgeword in 'n huis waar alle groot besluite oor 'n koppie tee geneem is.
“Kom sit, ek maak vir ons tee.”
Alle skokke is met 'n koppie tee gelaaf en alle krisisse daarmee beredder.
Voor 'n groot taak aangepak word, drink ons eers tee. En as ons klaar is daarmee, sit ons weer die ketel aan.
Daar is iets aan die ritueel van tee maak wat troos en koester.
My ma skink nooit tee in 'n beker nie; dit moet in 'n fyn koppie bedien word. Des te beter as dit bone china is. Ons het dikwels gehoor dit is danksy haar Britse bloed dat tea and sympathy soos asem vir ons is.
Ek lees die teekultuur in Engeland dateer uit die 1700's, maar dit was eers omtrent 200 jaar later wat high tea met komkommertoebroodjies en 'n verskeidenheid soetgebak sy inslag gevind het. Anna, die sewende hertogin van Bedford, het haar personeel versoek om smiddae vieruur so 'n mini-maal te berei om te verhoed dat sy en haar gesin tussen die middagmaal en aandete té honger word.
Maar dit is nie net die Engelse wat van teedrink 'n hele affêre maak nie.
Die Turke is nóg groter teepotte. Hulle is amptelik die nasie in die wêreld wat die meeste tee drink. Die Turke se gemiddelde verbruik is iets soos 3,6 kg teeblare per persoon per jaar.
As jy in Turkye by 'n winkel instap, staan die eienaar dadelik met 'n glaskoppie çay nader. Ek het een oggend van Belek af met die bus na Kadriye gery om inkopies te doen toe ek met die betaalslag in 'n winkel besef ek het my beursie in die bus vergeet.
“Nô probrem,” het die eienaar doodluiters beduie, vir my çay geskink en my al drinkend na die busstop begelei. Daar het hy op Turks rondgevra en nie lank nie toe kom 'n man met my beursie in die hand aangehardloop – die lira daarin onaangeraak.
In Suid-Amerika teug nasies soos die Argentyne, Uruguayane en Paraguayane ook heeldag en aldag aan 'n bekertjie yerba mate. Met 'n onlangse besoek aan Uruguay het my seun 'n pak van dié groen kruieblare en die toebehore bestaande uit 'n klein kommetjie (calabaza) en 'n staalstrooitjie met siffie aan die onderkant (bombilla) om die blare te keer, vir ons as geskenk saamgebring.
Wanneer Suid-Amerikaners kuier, word die kommetjie omgestuur en teug hulle om die beurt aan hierdie kruietee wat hulle die drank van die gode noem.
Die Marokkane se Touareg-tee (ook soms Maghrebi-tee genoem) is 'n groen mintdrankie met baie suiker en welbekend in groot dele van Noord-Afrika. Dit word in lang, delikate glase bedien en moet volgens tradisie drie keer aan 'n gas voorgesit word: “Die eerste glas is so sag soos die lewe, die tweede is so sterk soos die liefde en die derde is so bitter soos die dood,” verduidelik die Marokkane die rede hiervoor.
Indiese chai met kaneel, neut, kardemon, gemmer en peper word deesdae al veel wyer as net in Indië gedrink.
Die Pakistani's se noon chai is selfs nóg lekkerder as die chai van hul bure met die bykomende mengsel van pistasieneute en amandels, sout, melk en steranys vir ekstra geur en smaak.
Die Russe se sterk, swart zavarka-tee, gebrou in 'n metaalkan bekend as 'n samovar, het ook al internasionaal neerslag gevind. Dit word as uiters onbeskof beskou om hierdie konkoksie “kaal” aan 'n gas voor te sit, dit wil sê sonder koekies, beskuitjies of ander lekkernye.
Op daai noot gaan ek nou eers die ketel aanskakel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie