Nooit te klein om ’n groot verskil te maak

Cat Adams sorg vir mens en dier

17 May 2019 | Mense
Tanja Bause - 'n Mens moet nooit te skaam wees om die regte ding te doen nie.

Dit is Laliq Cat Adams se lewensleuse. Cat Adams, soos sy alombekend is, ondersteun onder meer verskeie liefdadigheidsorganisasies, doen haar eie liefdadigheidswerk, gee om vir die omgewing, skep bewustheid oor outisme en neem aan skoonheidskompetisies deel. Dít op sesjarige ouderdom.

Haar ma en pa, Celene en Ronnie Adams, is al jare by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) betrokke. Hulle help ook mense in nood en het Cat van kleins af saam gevat.

“Kinders moet van kleins af leer dat liefdadigheid en omgee vir jou medemens baie belangrik is,” sê Celene.

Op driejarige ouderdom het Cat aan haar eerste skoonheidskompetisie, Miss Princess Namibia, deelgeneem en by liefdadigheid betrokke geraak. “Elke skoonheidskompetisie het ’n baie sterk liefdadigheidsafdeling. Cat het by die eerste kompetisie in haar ouderdomsafdeling eerste gekom. Sy het ook die liefdadigheidsafdeling gewen en dít is die regte kroon,” vertel Celene.

“Dit is die kroon wat ek soek,” sê Cat.

Vir haar vyfde verjaardag het Cat haar ma gevra om ’n “veeartspartytjie” vir haar te reël.

“Al die maatjies wat ek genooi het, moes in plaas van om vir my speelgoed te gee, hondekos skenk,” sê Cat.

Nou en dan wanneer Cat iets in die winkel sien terwyl sy en haar ma inkopies doen, sal sy vra of sy dit mag kry.

“Ek gee altyd vir haar ’n keuse. Jy kan daai speeldingetjie kry of jy kan iets kleiner kies en dan kan ons nog ’n sak of blikkie hondekos vir dieselfde waarde bykoop. Cat sal altyd iets baie kleins kies en nog kos vir die diere bysit,” sê Celene.

Vir Cat maak dit nie saak vir wie sy geld insamel of help nie. Van diere van die DBV en honde in die DRC- informele nedersetting van Swakopmund tot bejaardes in ouetehuise, ma’s met pasgebore babas in staatshospitale en mense wat honger is; sy help waar sy kan.

HONDEHOKKE

Sy help ook die Feed a Paw-projek wat honde in DRC op Swakopmund voer, met hul hondehokprojek.

“Laas jaar het ons 120 hondehokke en dié jaar reeds 12 hokke afgelewer. Ons het ook al borge vir 25 hokke gekry,” sê Celene.

“Ons het die eerste drie hondehokke gekoop, maar dit is net te duur. Nou maak ons palette bymekaar en Feed a Paw het mense in die informele nedersetting wat die hokke bou. Sodoende verdien die mense ook ’n klein inkomste.”

Borge kan ’n hondehok vir N$150 koop. Met die geld word die hok gebou en ’n groot blik hondekos gekoop. Die eienaar van die hond ontvang die hok, kos, ’n Panty-kussing en, as daar genoeg geld is, ’n halsband vir sy dier.

Die Panty-kussing word deur Cat se tannie Lollo de Klerk gemaak.

“Ek maak die hondekussings uit alle soorte tekstielafval. Ek gebruik ou gordyne, tafeldoeke en beddegoed vir die kussingslope. Die slope word dan gevul met ou onderbroeke, sokkies, sykouse en bra’s. Dit is items wat jy nie as tweedehandse klere aan iemand kan skenk nie, maar as vulsel is daar niks met hulle verkeerd nie en die honde slaap lekker sag,” vertel De Klerk. “As jy iets in jou huis of motorhuis het wat jy nie meer wil hê nie, kom gee dit vir ons en ons sal iemand vind wat dit benodig. Ons gooi niks weg nie. Ook al jou ou onderklere of stukkende klere kan ons gebruik.”

Maar Cat het nie net vir troeteldiere 'n hart nie. Sy besoek ook gereeld bejaardes in die ouetehuise.

“Ek gee vir die oumas drukkies, koekies en wol,” sê Cat.

“Wol is baie duur, maar baie van die oumas kan en wil nog hekel en brei. So ons gee vir hulle die wol en hulle maak blokkies. Dan vat ons die blokkies en maak liefkomberse daaruit,” verduidelik Celene.

“Ek het my maatjies by die skool gesê hulle moet ook begin om diere te help en vir mense om te gee,” sê Cat.

SENTEPROJEK

Cat het saam met haar medefinalis van die Toddler en Tween World-skoonheidskompetisie Danel du Toit in Maart begin om 5c- en 10c-stukke bymekaar te maak om geld ingesamel sodat die Oshana DBV hul eie voertuig kan koop.

“Ons wou wys dat dit nie nodig is om duisende dollars te gee om liefdadigheid te ondersteun nie. Elke sent help en kan ’n groot verskil maak,” sê Cat.

Die meisies het N$15 635.65 ingesamel en aan die DBV op Oshana oorhandig.

“Mense is nog steeds welkom om hulle 5- en 10-sente by ons te kom afgee. Die geld word nou gebruik om kos te koop vir die troeteldiere wat deur Feed a Paw gevoer word,” sê Celene.

MA'S EN BABAS

Cat maak sorgpakkies vir die vroue wat in die staatshospitale geboorte gegee het.

“Vroue wat in ’n privaat hospitaal geboorte gee, kry so ’n pakkie wanneer hulle huis toe gaan, maar die vroue wat in staatshospitale geboorte gee, en die pakkies die nodigste het, kry nie een nie. Dis waar Cat inkom,” vertel Celene.

Die pakkies sluit ’n “liefkombers”, ’n gehekelde mussie en seekat, babatoiletware en -klere in. Die mussies en seekatte word deur verskillende vroue gehekel. Celene en Lollo word hier ook ingespan.

“Nes die blokkies vir die liefkomberse en die Panty-kussings vir die honde word die babagoedjies ook vir vroue gemaak. Mee. Linda Gärtner van Tsumeb hekel nie net mussies vir vroeggebore babas nie, maar ook babapakkies en seekatte. Sy is die vrou wat die meeste bydra met gehekelde klere. Ons het tot dusver 130 vroeggebore babas en hulle mammas ondersteun.”

Op Moedersdag het Cat vir die ma's by die staatshospitale in die hoofstad geskenke uitgedeel.

OMGEWING

Cat is van kleins af deur haar familie geleer alles wat jy in die natuur invat, vat jy weer uit.

“Wanneer ons strand toe gaan, maak ons altyd eers skoon daar waar ons gaan kuier en visvang. Dit het nou so ’n gewoonte vir haar geraak dat sy altyd met ’n swartsak strand toe gaan en op en af loop om hom vol te maak,” sê Celene.

“Laas Desember het ek net baie vislyn opgetel. Ek dink mense begin self meer en meer skoonmaak,” sê Cat.

Ter wille van die natuur gebruik Cat nie meer plastiekstrooitjies nie.

“Wanneer sy ’n melkskommel bestel, vra sy altyd vir ’n papierstrooitjie. As daar nie een is nie, drink sy die melkskommel sonder 'n strooitjie,” sê Celene.

Cat is baie omgewingsbewus en ’n groot voorstander van herwinning en hergebruik.

Tydens die onlangse vakansie het Cat en haar maatjies die rivier naby hul huis skoongemaak.

“Die kinders het na my toe gekom en gesê dat hulle verveeld is en wil skoonmaak. Ouma het saam met hulle na die rivier toe gegaan om die gebreekte glasbottels op te tel en die kinders het die rivier skoongemaak.”

VRIENDELIKHEID KOS NIKS

Cat het onlangs kaartjies gemaak met spreuke op wat mense laat goed voel.

Sy is met die kaartjies na ’n inkoopsentrum toe waar sy dit aan vreemdelinge uitgedeel het.

“Dit kos my niks nie en dit is vir my baie lekker as ek die mense se glimlagte op hulle gesigte sien as hulle my kaartjie lees.”

Haar ma het aan die begin van die Desemberskoolvakansie vir haar ’n handsak vol toiletware en lekkergoed gegee.

“Cat moes ’n man en ’n vrou kies, en motiveer hoekom hulle die geskenkpakkie moet kry,” vertel Celene.

“Aan die einde van die vakansie het sy na my toe gekom en gesê sy het die tannie gekies wat by die Motocross die draagbare toilette skoongehou het. Haar motivering was dat die tannie die hele vakansie die toilette vir ander mense skoongemaak het, en dit terwyl sy altyd geglimlag het en baie vriendelik was.”

TUNA

Cat het 42 katte, vyf honde en twee hase as troeteldiere, maar Tuna die hond is haar gunsteling.

“Ons het so twee jaar terug in Swakopmund by die hardewarewinkel gestop en gesien hoe mense ’n hond onder ’n voertuig probeer uitlok. Cat het soontoe gestap en die hond geroep. Hy het onmiddellik uitgekom en sy het op die randsteen gaan sit en vir hom kos gegee,” vertel Celene.

Die hond is na die plaaslike DBV toe geneem en die Adams-familie het na hul huis in Windhoek teruggekeer.

“Cat het bly vra waar haar hond is. Sy het oor haar hond gehuil. Ons het met ons volgende besoek aan Swakopmund by die DBV gaan inloer en hy was nog steeds daar. Ons het vir haar gesê dat sy ’n babahondjie kan kies en huis toe neem, maar Cat wou net vir Tuna hê. Vandag is hulle onafskeidbaar.”

Cat sal later vanjaar op Klerksdorp in Suid-Afrika aan die Toddler en Tweens World-skoonheidskompetisie deelneem.

Mense wat afvalmateriaal, palette of enige ander ongebruikte items het, kan dit by R+R Importers in Gutenbergstraat in Windhoek of by die Fruit and Veg-sentrum op Swakopmund op die eerste vloer gaan afgee.

Mense wat wil sien waarby Cat nog alles betrokke is of meer ligting soek, kan op Faceboek by die blad Cat Adams – Act of Kindness gaan inloer.

Soortgelyk

 

Regering staan bakhand vir 2% van Namibiërs se jáárlikse...

6 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die verwarring oor of die regering Namibiërs vra om 2% van een maand of een jaar se basiese salaris te skenk, is...

Making employees feel at home at Plastic Packaging

18 ure gelede | Mense

JONELL MALAN Human resource management is a function in organisations designed to maximise employee performance in the service of an employer’s strategic objectives. One empowers...

Duisende registreer vir e-taks

18 ure gelede | Ministeries

Elvira Hattingh - Altesaam 192 225 belastingopgawes is teen Dinsdag via die ministerie van finansies se nuwe aanlyn belastingdiens, die geïntegreerde belastingadministrasiestelsel (Itas), ontvang.Mnr. Tonateni...

Apollo 11-euforie só onthou

18 ure gelede | Tegnologie

Ronelle Rademeyer - Namibië se eie ruimteman, dr. Japie van Zyl, sê ’n getekende foto van die drie Apollo 11-ruimtevaarders, Neil Armstrong, Buzz Aldrin en...

Kalender 12 Julie

18 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Bottomless Coffee Band is ’n instrumentele, alternatiewe duo wat bestaan uit die getroude paartjie Lourens en Esté Rabé van Kaapstad, Suid-Afrika....

Weer vir 19 Julie 2019

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Noorde.KUS: Sonnig en matig tot warm.GETYE BY WALVISBAAI: H 04:47 L 10:41...

Nuwe begin vir vier wildehonde

18 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Ná die tragiese skietvoorval in Februarie waarin drie wildehonde van die N/a’an ku sê-stigting en -wildreservaat glo deur personeel van die...

Just a click away

18 ure gelede | Gesondheid

Michelline Nawatises Organic Box is an online grocery shop specialising in selling organic vegetables, meat and dairy products, farm produce, and speciality homemade products.It was...

Rundu surveys new extensions

18 ure gelede | Plaaslik

The Rundu town council plans to survey two new extensions in the Tuhingireni informal settlement for N$ 1 million, according to the head of town...