NMH vier groot mylpaal

Die opvoedkundige projek wat in 2020 van stapel gestuur is, maak dit moontlik om leerlinge oraloor die land in hul moedertaal te bereik.
Sanet de Waal
Namibia Media Holdings (NMH) het Vrydag die 10 miljoenste opvoedkundige boekie gedruk.

Dié projek, wat NMH in staat stel om studiemateriaal in verskillende tale te druk en landswyd te versprei, is moontlik gemaak deur die ministerie van onderwys, kuns en kultuur in samewerking met Unicef, Bank Windhoek/Capricorn Foundation, die Namibia Community Trust en tegniese ondersteuning deur 'n toegewyde span onderwysers van verskillende skole in Windhoek.

Dit is een van die grootste projekte wat deur ’n openbare-private-vennootskap in die onderwyssektor van stapel gestuur is.

’n Span van agt onderwysers; twee senior onderwysbeamptes; 18 vertalers; 15 ontwerpers; 37 motorbestuurders; 54 drukkers; twee gebaretaalonderwysers; en twee aanlyn skoolonderwysers verseker die sukses van die projek.

Die projek wat in 2020 begin is, maak dit moontlik om leerlinge oraloor die land in hul moedertaal te bereik. NMH poog om die projek so kostedoeltreffend as moontlik te maak, want die mediahuis se droom is om onderwys vir elke leerling toeganklik te maak.

“Hoewel die proses ook sy uitdagings gehad het, het ons soveel meer oor onderwys in ons land geleer. Ons bemagtig ons leerlinge en deur hierdie inisiatief sien ons weer eens hoeveel ons kan bereik as ons saamwerk,” het mnr. Albe Botha, NMH se uitvoerende hoof, gesê.

“Covid-19 het soveel uitdagings gebied, maar ons het besluit om eerder deel van die oplossing te wees as om in die uitdagings vas te kyk,” het hy gesê.

Hierdie projek het ons onderwysstelsel vlerke gegee en ons toegelaat om leerlinge uit alle agtergronde in hul moedertaal te bereik," sê Octavia Tsibes, hoof van die My Zone-span wat die projek in 2020 begin het.

“My Zone is passievol oor onderwys en sy vermoë om ons leerlinge op te hef, te bemagtig, te inspireer en toe te rus om sterk leiers te word wat hul toekoms in hul eie hande kan neem.

“Hierdie projek is soveel meer as net boekies. Dit is ’n meganisme vir verandering. ’n Manier om te inspireer. ’n Manier om ons land vorentoe te neem. Met die ondersteuning van die ministerie en hul geloof in NMH om hierdie projek na die volgende vlak te neem, kan ons die uitdagings van Covid-19 oorkom en moontlikhede binne die onmoontlikhede sien,” het Tsibes gesê.

“Die boekies is uiters belangrik in die holistiese ontwikkeling van ons kinders om te verseker hulle het ’n stewige grondslag vir akademiese sukses en lewenslange leer, veral tydens die uitdagende tye van die Covid-19-pandemie. Ons is dankbaar vir NMH se opregte belangstelling en ondersteuning, want deur hierdie projek kan ons verseker geen kind sal agter raak nie,” het me. Sanet Steenkamp, die ministerie se uitvoerende direkteur, gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer