Nghiwete-skadu hang nog oor NSFAF
Nghiwete-skadu hang nog oor NSFAF

Nghiwete-skadu hang nog oor NSFAF

Jare se verlore finansiële inligting lê dalk by die ministerie van hoër onderwys wat nie tegemoetkomend is nie.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die nalatenskap van die eerste uitvoerende hoof van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) kniehalter steeds pogings om boekhouding by die instansie reg te kry.

Die fonds stel jaarliks gemiddeld N$1,5 miljard vir naskoolse studies aan Namibiese studente beskikbaar.

Die NSFAF betaal nog elke maand me. Hilya Nghiwete se salaris, ten spyte van ’n skending van vertroue in haar vermoë om verslag te doen oor uitgawes. Dit het daartoe gelei dat die raad haar geskors het.

Die waarnemende uitvoerende hoof van die NSFAF, mnr. Kennedy Kandume, het gister saam met die visevoorsitter van die NSFAF-raad en voorsitter van die fonds se oudit- en risikokomitee, mnr. Stephen Tjiuoro, indringende vrae voor die parlementëre staande komitee oor openbare rekening probeer beantwoord.

Kandume het verskeie kere verwys na die periode vanaf 2010 tot 2013 waarvoor daar geen finansiële rekords of geouditeerde verslae gevind kan word nie, en dit voorgehou as kernrede hoekom beskikbare antwoorde nie voldoende is nie.

Mnr. Dudu Murorua, die komiteevoorsitter, het beklemtoon dat Nghiwete destyds as ondersekretaris verantwoordelik was vir die fonds onder die ministerie van hoër onderwys. Toe die fonds onafhanklik geword het, was sy dus verantwoordelik vir finansiële boekhouding, “voor, gedurig en ná,” die oorgang uit die ministerie.

“Ek het doelbewus genoem dat sy toe ondersekretaris in die ministerie was, en dieselfde persoon was wat uitvoerende hoof geword het. As rekenpligtige beampte was sy verantwoordelik vir alle uitbetalings. Sy was veronderstel om daardie dokumente te hou en sáám met die dokumente na die fonds oor te skuif,” het Murorua gesê.

Hy het gesê die komitee het ’n brief van Nghiwete ontvang, waarin sy sê sy kan nie voor die komitee verskyn nie. Die rede is NSFAF se appèl teen die arbeidskommissaris se bevinding dat sy heraangestel moes word, en vorige salarisse aan haar betaal moet word.

Kandume moes oor die NSFAF se pogings uitbrei om dokumente van ’n dekade gelede op te spoor.

Nghiwete het glo in 2014 ’n brief aan die ministerie se permanente sekretaris gestuur waarin die vermiste dokumente aangevra is. Geen antwoord is ooit ontvang nie.

“Daar was ook opvolg- en persoonlike besoeke, maar sonder enige positiewe reaksie. Die inligting oor uitbetaling aan studente moes ons herwin uit fisieke lêers en bankstate,” sê hy.

Die ministerie het glo meer as 100 000 lêers met die oorgang van die fonds by ’n onafhanklike instansie afgelewer. Hierdie lêers is egter eers met die NSFAF se data-integriteitsprojek in 2019, deurgegaan en die inligting opgeteken. Dit is later gebruik om uiteindelik vir die fonds ’n leningsboek op te stel.

Op die adjunk-ouditeur-generaal, mnr. Goms Manette, se vraag: “Sal ons aanneem die dokumente is vernietig?” het hy geantwoord: “Ons weet nie.”

Volgens Kandume is die dokumente “waarskynlik iewers in die ministerie waar dit stof opgaar.”

Hy sê egter: “Ons mag blou of groen word, maar ons mag nooit daardie rekords vind nie. Transaksies van latere jare is in orde, maar daardie vroeë jare spook nog met ons. Ons sal die ministerie nader en ’n manier vind om dit af te sluit en ’n oplossing te vind waar ons oor kan begin,” het hy gesê.

Vrae wat aan Nghiwete, die huidige minister van hoër onderwys, me. dr. Itah Kandjii-Murangi en die ministerie se amptelike woordvoerder gestuur is, was teen druktyd nog onbeantwoord. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!