Net plek vir één vooraan Cycle Challenge
In Nedbank se immergewilde “beste resies onder die son” sal daar Sondag aan die voorpunt min ruimte vir vriendskappe wees.
Andrew Poolman - Geen buitelander kon nog tevore die uiters gesogte Nedbank Cycle Challenge padfietsresies wen nie – maar gaan dit dalk hierdie naweek gebeur?
Die wêreldrekordhouer vir die langste afstand binne een uur, Victor Campenaerts van België, sal een van die fietsryers wees wat vroeg Sondagoggend in Windhoek se hoofstraat vir die wegspring van die 100 kilometer resies gaan aantree.
Campenaerts en van sy landgenote was die afgelope weke hier vir ’n oefenkamp op Windhoek se beduidende hoogte bo seespieël. Hoewel die laaste twee van sy maats ook voor Sondag na Europa terugkeer, sal die kragtige Campenaerts gewis ’n faktor wees om mee rekening te hou in sy laaste resies hier voordat hy vertrek om by ’n nuwe oorsese span aan te sluit.
Dan Craven, wat verlede jaar die wenren in Nedbank se kleure gewen het, sal Sondag weer deelneem. Verlede jaar het hy die driemalige Suid-Afrikaanse padresieskampioen Nolan Hoffman, wat as ’n bitter sterk naelryer bekend is, met die vroeë tydsberekening van sy eindpoging verras om uiteindelik met ’n gemaklike een sekonde oor die eindstreep te seil (2:26:19).
Craven, wat in Maart verlede jaar vir Namibië ’n plek by die 2020 Olimpiese Spele behaal het toe hy algeheel negende by die Afrika-padfietskampioenskap in Ethiopië geëindig het, voorspel dat die wedren wéér opwindend sal wees.
“Die Cycle Challenge is die tweede van die vier wedrenne wat die Namibiese Fietsryfederasie sal gebruik om te bepaal watter mansryer die land by die Olimpiese Spele in Tokio sal verteenwoordig. Ek is een van dié wat alles sal gee vir daardie posisie en ek weet dat ons ’n vinnige en vinnige wedloop voor ons het!”
Die 37-jarige Craven, wat onlangs spesiaal vir die Olimpiese kwalifisering vanuit sy woonplek San Francisco hierheen gereis het, is deeglik bewus dat ’n lang lys jonger jaers hul visier op dieselfde teiken het. Manne soos Alex Miller (derde in 2019), Drikus Coetzee, Martin Freyer, Kai Pritzen en verskeie ander het gewis die vermoë om die wenstreep in die eerste plek te bereik.
Craven sê hy weet nie of Hoffman of enige ander topklas jaers uit Suid-Afrika dalk wil kom meeding nie, maar hy sal dit inderdaad verwelkom.
“Ek hoop beslis so. Dit is altyd wonderlik om buitelandse fietsryers hier te hê om die resies harder te maak. Dit bied ’n geleentheid vir enigiemand wat gewillig en oopkop genoeg is om by hulle te leer – óf deur te kyk na wat hulle doen, óf op hul agterwiel te bly.”
In die vroueresies oor 100 km het Vera Adrian verlede jaar haar koms uit ’n yskoue Europa laat geld om haar Cycle Challenge-titel te behou – hoewel Michelle Vorster haar hard gedruk het en net sentimeters agter haar voorwiel klaargemaak het.
Die nasionale padfietskampioenskap aanstaande naweek, waarvan Nedbank ook die borgskap ná ’n klompie jare by Pupkewitz Megbuild oorgeneem het, sal as die volgende nasionale Olimpiese kwalifiserende byeenkoms dien.
Die getal inskrywings vir Sondag is nog onbekend, maar die verwagting is dat opnuut meer as 1000 entoesiastiese fietsryers aan die gewilde afstande oor 20 km, 30 km, 60 km en elite 100 km afstande sal deelneem.
BERGFIETS-CHALLENGE
Die Nedbank MTB Challenge vind môreoggend by die Waldorf-skool in Avis plaas en begin om 07:00.
Die Nedbank Kidz Challenge vind ook op dieselfde plek plaas en begin om 08:30. Hierdie spesifieke wedren het ontwikkel tot ’n geleentheid in eie reg met 200 jong kinders wat na verwagting sal deelneem.
Registrasie vir die bergfiets- en padfiets-wedrenne vind vandag van 16:00 tot 18:00 by die Waldorf-skool in Avis plaas.
Registrasie vir die Kidz Race geskied môre tussen 07:00 en 08:00 by Waldorf. Registrasie vir die padfietsbyeenkoms kan ook môre van 16:00 tot 18:00 by Zoo Park in die hoofstraat gedoen word.
Die Nedbank Cycle Challenge word in samewerking met Namibia Health Plan en Coca-Cola gehou en word ondersteun deur die Namibiese Fietsryfederasie, Windhoek Pedal Power, Rock & Rut bergfietsklub, die Today-groep en Events Unlimited.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie