Negatief, maar in kwarantyn

‘Besluite maak nie sin’

26 June 2020 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – ’n Dokter wat reeds ’n week in kwarantyn by die munisipale rushuise in Swakopmund is, al het hy negatief vir Covid-19 getoets, sê drakoniese optrede sal ander dokters ontmoedig om pasiënte vir toetse te stuur.

Die dokter was in kontak met ’n pasiënt op die kusdorp wat positief vir Covid-19 getoets het.

Volgens die dokter wat verkies het om anoniem te bly, is dokters op Swakopmund dit na dese eens hulle is nie langer bereid om pasiënte aan te beveel om vir Covid-toetse te gaan nie.

“Nie as dit is hoe ’n dokter van ’n positiewe pasiënt behandel word en waar selfisolasie wel moontlik is nie,” het hy gesê.

Twee ouer spesialiste het ook volgens hom aangedui hulle sluit dan eerder nou hul praktyke as om dieselfde paadjie te stap.

“Besluite maak nie sin nie. Ek aanvaar mense moet in kwarantyn wees, maar ek verstaan nie waarom ek nie kan selfisoleer nie.”

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, tel enige persoon wat aan ’n positiewe geval blootgestel is, as ’n kontak.

“Die naaste gesondheidsowerheid moet gekontak word sodat die span ’n bepaling kan doen en op ’n plan van aksie kan besluit,” het Shangula gesê.

Volgens die dokter handhaaf hy voorsorgmaatreëls teen Covid-19 by sy praktyk, insluitend die dra van maskers en minimum kontak met pasiënte. Met verwysing na die pasiënt wat positief getoets het, het hy beklemtoon alle protokol, ook met verwysing na ’n pasiënt met koors, is gevolg.

Volgens hom het lede van ’n Covid-19-span aanvanklik gesê die uitslae van sy toets vir Covid-19 sou bespoedig word en hy sou kon huis toe gaan as dit negatief is. Die proses sou volgens die span hoogstens 48 uur duur. ’n Spesialis wat ook getoets is en by die pasiënt se behandeling betrokke was, is egter volgens die dokter toegelaat om na sy praktyk terug te keer omdat hy by ’n dialise-eenheid by die private hospitaal se intensiewesorgeenheid betrokke is.

Die dokter sê ’n versoek vir selfisolasie in ’n tuinwoonstel waar hy selfonderhoudend is en geen kontak met ander sou hê nie, is van die hand gewys omdat niemand hom tuis kan “polisieer” nie.

“My integriteit word bevraagteken en ek word soos ’n krimineel behandel.”

Volgens hom moes sy familie van kussings tot breekgoed tot kos na die rushuise bring wat “vuil en in ’n ernstige staat van verwaarlosing” is.

“Dit gaan nie oor vuil nie, ek kan ook skoonmaak, maar dis die hele manier hoe dit hanteer word. Daar is niks wat dit regverdig nie.”

Herhaalde navrae oor waarom hy nie kan selfisoleer nie, word volgens hom beantwoord met “dit is ’n instruksie van die minister”.

Nog ’n dokter op die dorp sê die grootste probleem blyk te wees dat “’n konstante benadering en protokolle” nie gevolg word nie. Dié dokter, wat ook gister vir ’n Covid-19-toets moes gaan, het ook verwys na dokters wat getoets en gevolglik gestigmatiseer word.

Nog ’n dilemma is “wat om te doen” met ’n pasiënt wat moontlik Covid-19 het.

“Jaag ek hom weg, waarheen stuur ek hom? Wat maak ons met al hierdie mense wat nou in Walvisbaai getoets word, waarheen gaan hulle? Die dilemma is daar is nie behoorlike samewerking tussen die verskillende partye nie,” het hy gesê.

Hy het verwys na Blok 6 by die staatshospitaal op die dorp wat as isolasiegeriewe geoormerk is, maar wat “nie eens genoeg beddens het nie”.

Volgens hom sou ’n senior beampte in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gesê het “as ons nou pasiënte kry, dan moet ons nou maar net bid, want ons het niks”.

Intussen sê die Namibiese Private Praktisynsforum (NPPF) in ’n verklaring die bogenoemde optrede van die regering stel meer lewens in gevaar.

“Dit verminder gesondheidsorg in ’n tyd wanneer dit die nodigste is en sal meebring dat verskaffers van gesondheidsdienste weier om pasiënte te toets uit vrees vir optrede van die regering,” lui die verklaring.

Teen druktyd gister is 14 nuwe gevalle, die hoogste nog op een dag, aangemeld waarvan 12 in die Erongostreek was. Tans het Namibië 90 bevestigde gevalle van Covid-19.

[email protected]

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

5 ure gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

6 ure gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

8 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

9 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

9 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

20 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

20 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

20 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

20 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...