Namibsvrede
Elkeen van ons het moontlik ’n versugting, ’n verlange, ’n tipe heimwee of iets dergliks na sy heimat as die daaglikse lewe jou in die ribbes soos ’n grommende ondier staan en skop.
Sommige verlang na Ouma se kombuis of Ma se beskuit of dalk net ’n plekkie of gebeurtenis uit sy kinderjare wat neffens sy DNA genestel sit. Vir my as Namibskind en boorling van die suide van ons land, verlang ek na die oop vlaktes, kameel- en noeniebome, asook driedoringbosse en grasvlaktes en blou berge van my wêreld.
Of dit ooit sal vervaag weet ek nie. Daagliks ademloos vasgevang in die meule van verganklikheid, is dit soms bitter moeilik om normaal te funksioneer. Dis dan wanneer die meesleurende dae en rondrolnagte knellend vir my te veel word. Dit kom lê teen my hart en druk snoep soos ’n suigeling wat na sy Moeder se sagtheid en vertroostende bors vir lafenis soek.
Die sorge en bekommernis raak te veel vir ons. Veral 2020 se onnodige en onwelkome kuiergas klou soos ’n wanhoopsroofdier aan on psige en is genoeg om mens se dawerende hartklop teen gespanne ribbebene te laat vibreer. Rowend die lewensvreugde van gewone sterflinge met donker verskuilde bekommernisse gesetel aan die versteurde ekwilibrium van ons menswees.
Dan soek ek na die ooptes van die Namib uitgestrek tot by eindelose kimme waar verskeie kore ’n gebelgde siel vertroos en skaamteloos salf. Daar is elke nag ’n sterrekoor, ‘n maankoor, ’n vroegaand en sononder geitjiekoor aangestu deur ’n windkoor wat openlik deur ’n venster kruip en langs jou op jou lêplek kom lê.
Ek soek na die ooptes, die eindelose vertes waar die blou na die diep blou en later verblou insmelt. Die berge is grotesk soos ’n vredemaker wat beskermend oor jou buig met sy skadu’s vertroos as die dag se hitte aan jou hakskene kom hap.
Die duine se sagte rooi sand wil ek tussen my tone voel as ek gaan hout soek om ’n kampvuur onbeskaamd saam met die Suiderkruis op te steek om my heelnag geselskap te hou. Die donker trek wel kring om jou, maar dis vertroostend met sy eie verhale en geheimenisse wat hy mildelik deel.
Ek wil stil raak en na die nag se geluide, nee, die donker ooptes se koor en nagliedjie luister terwyl die vlamme oranje en geel sy eie deuntjie in die skoon naglug tokkel. Iewers in die verte sal wel ’n parmantige rooijakkals astrant na ’n maat roep, terwyl ’n skerpioen of twee braaf sy besoek aan die vuurlig bring.
Wanneer die son die volgende oggend in die laaste koelte welkomend sy strale oor die Namib baai, word ‘n nuwe dag, nuwe hoop en nuwe geloof soos ’n welkome nuweling gebore. Die Namib genees, die Namib vertroos en les bes, die Namib koester sy liefde onbeskaamd vir sy mense wat dit gulsig soos die droë sand opslurp.
Toe ek in Januarie 2008 vir die eerste keer in 16 jaar die Namib binnery, het die trane welkom oor my wange geloop. Dit was ’n vreemde emosie wat deur die Namib en sy bekende vertroostende panoramas voor my deur kom lê.
Ek het dit eers nie verstaan nie, maar later besef dat ’n boom afgekap kan word, maar sy wortels bly veilig in die diepte van die aarde gesetel om opnuut nuwe takke van lewe na bo te stoot. Grypend na die lug en bekende omgewing om weer hernude hoop aan ’n verdorde siel te skenk.
Dit is moeilik om te beskryf of te verwoord. Maar dié wat dit ken, sal weet waarvan ek praat. Vir my is dit die Namib wes van die Tsarisberge waar ek vir die eerste keer kaalvoet die sand tussen my tone kon voel en in die koeltes van ’n kameelskadu kon rus. Vir ander is dit die bosveld of dalk die Kalahari, maar ons het een gemene deler, ’n heimat wat vertroosting vir jou siel koester.
Een dag wanneer die Namib se sand vir oulaas op my laaste rusplek neerstuif, sal die sirkel voltooi wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie