Namibiese skrywer palm groot literêre prys in

Swaargewigte uitgestof

23 June 2020 | Kuns en vermaak
Francoise Steynberg



Die eerste Namibiese skrywer ooit het die oudste prys vir Afrikaanse fiksie, die W.A. Hofmeyr-prys, gewen.

Zirk van den Berg het vir sy roman Ek wens, ek wens stof in die oë van die Afrikaanse skrywersreuse Etienne van Heerden en Kerneels Breytenbach geskop. Van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld en Breytenbach se Hond se gedagte was op die kortlys.

Van den Berg het voor die naweek uit Auckland in Nieu-Seeland aan Republikein gesê: “Ek kan nie glo ek het ’n literêre prys gewen nie – en dit vir daardie klein boekie. Ek was regtig oortuig Etienne sou wen.”

Van Heerden het al vier keer met die gesogte prys weggestap.

Ek wens, ek wens handel oor die gelate Seb, ’n begrafnisondernemer wat ’n terminaal siek kind ontmoet en herbesin oor sy eie lewe en hartsbegeertes. Die boek is deur Kwela uitgegee.

Die beoordelaars – die bekende Afrikaanse skrywers Sonja Loots, Francois Smith en Bibi Slippers – noem Van den Berg se boek ’n “groot, klein boek” en “’n oorrompelende leeservaring”.

“Daar is boeke wat ’n mens in ’n ommesientjie kafdraf, maar wat jou jare lank bybly. Ek wens, ek wens is ook so ’n groot, klein boek. Dit sorg vir ’n oorrompelende leeservaring, maar dit kom die leser se wêreld in sonder ’n gedawer of gedruis. Dit is, in elke sin van die woord, ’n betowerende teks,” sê die beoordelaars.

Die pryse is deel van die jaarlikse Boeke en Literêre pryse van Media24 en kon vanjaar vir die eerste keer in meer as 60 jaar nie persoonlik oorhandig word, weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls. Die geleentheid is op Netwerk24 se Facebook-blad uitgesaai.

“So slaap ek toe deur die ding, want ek was oortuig ek het geen kans nie en het in elk geval gedink dis eers die volgende dag. Hoe ook al, ek dink daai beoordelaars was erg dapper,” het die nederige Van den Berg aan Republikein gesê.

Hy sê Van Heerden het hom gelukgewens en ’n mooi boodskap aan hom geskryf: “So ’n boek soos joue is ’n leeftyd se lewe opgebottel. En erkenning beteken ander sien hul eie lewens weerspieël daarin. Sien uit na die volgende boek!”

Oor sy groot prestasie het Van den Berg gesê: “Ek voel soos Kim Basinger toe sy die Oscar (in 1998 vir beste ondersteunende aktrise in LA Confidential) gewen het en gesê het sy wil sommer vir die hele wêreld dankie sê”.

Sy tweede boek in sy Hochnamib-reeks ná Die vertes in wat in Namibië afspeel, Tweegevreet, sou vandeesweek gepubliseer word, maar is weens die Covid-19-pandemie tot begin Augustus uitgestel.

Van den Berg het verlede jaar in Namibië navorsing oor Tweegevreet kom doen en sou ook later vanjaar in Namibië kom kuier het om die boek bekend te stel.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

6 ure gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

6 ure gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

9 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

9 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

10 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

20 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

20 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

20 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

20 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...