Nafau wen in hof teen Shoprite

Shoprite-werknemers was verjuig oor die hofbevel dat geen werknemer die werk van 'n stakende werker mag doen nie.

11 January 2021 | Arbeid
Kristien Kruger en Adolf Kaure – Stakende Shoprite-werknemers was Vrydagmiddag verjuig toe die hoërhof in Windhoek beslis het dat ’n interdik teen die Shoprite-winkelgroep uitgereik sal word sodat geen werknemers die werk van ’n stakende werknemer mag doen nie.
Regter Shafimana Ueitele se beslissing belet nie net Shoprite se aanstellings van seisoenwerkers of vaste termyn werkers in die plek van stakende werknemers nie, maar stel ook dat geen van die huidige niestakende werknemers, insluitend bestuurders, die werk van ’n stakende werker mag doen nie.
Ueitele het verder beslis dat die applikant, die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau), vir die duur van die staking op Shoprite se perseel toegelaat moet word om seker te maak dat die hofbevel nagekom word.
Die interdik sal geldig wees vir die duur van die staking.
Ueitele het Vrydagmiddag omstreeks vieruur die hofbevel gegee, maar die redes vir sy besluit sal eers vandag bekend gemaak word.
Stakers in die Erongostreek het saamgedrom om die uitspraak te hoor en was verjuig oor die nuus.
Nafau se hoofsekretaris, mnr. Jacob Penda, het die skare van stakers buite die Windhoekse hoërhof toegespreek en die bepalings van die interdik aan hulle oorgedra.
“Gaan nou uit en sê vir julle kollegas om by die staking aan te sluit. Ons hoef nie meer bang te wees nie. Jul werk sal nie meer aan ander oorgegee word nie,” het hy gesê.
AGTERGROND
Werkers van die Shoprite-groep in Namibië betree hul derde week van ’n landwye staking. Die kernpunte van die geskil is eise deur die werkers vir salarisverhoging, vervoertoelae en voorsiening van mediesefondse.
Die saak is een van twee dringende aansoeke wat ingedien is. ’n Vorige dringende aansoek is van die rol geskrap weens ’n tekortkoming in die magtiging van Penda om namens die werkers op te tree.
Volgens Nafau se takorganiseerder in die Erongostreek, me. Miena Ndapuka, het meer as 120 werknemers van Shoprite, Checkers en USave in Swakopmund tot die staking toegetree.
“Die meeste werknemers is vir langer as tien jaar op ’n tydelike basis aangestel en word tussen N$300 en N$400 per week betaal. Permanente aanstellings word tussen N$2 000 en N$3 000 betaal. Dit is baie laag gegewe die huidige lewenskoste in die land,” het sy gesê. Die werkers geniet geen voordele nie.
“Werknemers ontvang nie ’n vervoertoelaag nie en die onderneming voorsien geen vervoer aan werknemers nie. Hulle het ook nie ’n behuisingstoelaag, mediese fonds of enige
ander voordele nie.”
STAKERS SE EISE
Die vakbond het ’n salarisverhoging van N$600 per maand vir die werkers voorgestel, ’n vervoertoelaag van N$500 per maand, ’n behuisingstoelaag van N$450 asook ’n intreevlak-salaris van N$2 500.
Die vakbond eis ook dat alle werknemers wat langer as 12 maande gewerk het, permanent in diens geneem word en maandeliks eerder as weekliks betaal word.
Die maatskappy het ’n salarisverhoging van 5% aangebied (N$60 per maand) en het nie die ander voordele aangespreek nie.
Die staking het op 23 Desember begin nadat die meerderheid werknemers op 11 Desember ten gunste daarvan gestem het. Dit kom nadat die vakbond wat die werkers en die maatskappy verteenwoordig die reëls vir die staking onderteken het.
Die stakende werkers ontvang geen vergoeding sedert die staking begin het nie, soos uiteengesit in die reëls vir nywerheidsoptrede.
“Op die oomblik het ek geen kommentaar nie,” het die menslike hulpbronbestuurder van Shoprite-groep vir die Erongostreek, mnr. Joel Kapingana, gesê toe hy om kommentaar genader is.

Soortgelyk

 

Vrou woon in haar motor by hospitaal

7 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

7 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

7 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

7 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

7 ure gelede | Byvoegsels

Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes...

Hof kry Heritage Health voor stok

7 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die mediese fonds Heritage Health het 'n bloutjie in die hoërhof geloop nadat hy sy jaarlikse premies wou verhoog, maar dié stap...

'IEB in nuwe formaat is hier om te bly'

7 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die nuwe leerplan vir skole in Namibië wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-stelsel volg, is vergelykbaar met die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS)...

#Indigiwalk Namibia in die pyplyn

7 ure gelede |

Augetto Graig – Die pad na 'n beter wêreld is eensaam en lank en mnr. Craig (Q7) Beckett, 'n Suid-Afrikaanse Khoisan-jagter, geneser en menseregte-aktivis, sal...

‘Geen personeel betrokke by stropery’

7 ure gelede | Ministeries

Francoise Steynberg Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig dat geen van sy personeel by wildstropery betrokke was nie en stropery het...