N$1 000-borgtog vir perdeman

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Mnr. Phillipus (Flip) Hanekom van Okahandja wat daarvan beskuldig word dat hy sy perd Troy Sondag erg mishandel en laat vrek het, het gister in die dorp se landdroshof op 'n klag van dieremishandeling verskyn.

Hanekom is op borgtog van N$1 000 vrygelaat. Landdros Khaeprimus Swartz het die saak tot 7 Maart vir verhoordoeleindes uitgestel. Me. Hilma Mwata het vir die staat opgetree.

Die ooggetuie, mnr. Willie Taljaard, wat as buurman van die Reit Club op Okahandja die toneel aanskou het, het gister sy skok uitgespreek oor hoe en waar Hanekom Troy se karkas gestort het.

"Flip het die karkas van die perd net so op die Omaruru-grondpad gaan 'dump' en nie eens begrawe nie. Troy se laaste rusplek is in die son langs die pad. My vrou het in trane uitgebars toe sy dit sien," het Taljaard gister aan Republikein gesê.

Intussen het die Namibiese Perdesportvereniging (Namef) die Reit Club van Okahandja se onmiddellike skorsing van Hanekom as lid, gesteun.

"Namef beveel aan dat geaffilieerde lede Hanekom nie as lid toelaat nie en dat hy by geen Namef-funksies teenwoordig mag wees nie voor die ondersoek deur die Namibiese polisie, die Dierebeskermingsvereniging of die Reit Club-komitee afgehandel is," lui 'n mediaverklaring van Namef.

Die saak spruit uit Hanekom wat in die teenwoordigheid van sy vrou en kinders glo Sondag sy perd agter sy bakkie gesleep het tot sy nek gebreek het.

Kommentaar

Republikein 2026-07-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer