'n Passie vir rekeningkunde én letterkunde

Jungu Josh-trilogie bekend gestel

27 July 2020 | Kuns en vermaak
Yandi du Plessis



Die Namibiese boorling Constant van Graan is 'n man van vele talente. Nie net is hy 'n senior lektor in forensiese rekeningkunde aan die Noordwes-universiteit nie, maar ook 'n vryskutmusikant en die skrywer van 'n splinternuwe jeugverhaalreeks waarvan die eerste boek vandeesweek bekend gestel is. Republikein het met hom gesels.

Die Jungu Josh-trilogie is 'n splinternuwe reeks waarvan die eerste, Jungu Josh 1: Die goue kalbas, vandeesweek amptelik bekend gestel is.

Die boek is in boekwinkels oraloor Suid-Afrika en Namibië beskikbaar, asook aanlyn, en is deur Tafelberg-uitgewers uitgegee. Daar is drie boeke in die reeks. Die tweede boek sal einde September op die rakke wees. Constant vertel hy werk tans aan die derde boek wat volgende jaar uitgereik word.

Die hoofkarakter in Die goue kalbas is Josh, 'n seun wat by sy tannie woon nadat sy ma spoorloos verdwyn het. Toe 'n vreemdeling opdaag en hom probeer ontvoer, lei dit tot allerhande avonture. In die magiese vallei Kalimbula soek hy na antwoorde, onder andere oor sy ma se verdwyning. Toe die goue kalbas oopgemaak word, kry Josh die verrassing van sy lewe.

Constant vertel Die goue kalbas was 'n langtermynprojek. “Ek het vir 'n volle sewe jaar daaraan gewerk. Veral omdat ek nog vol­tyds klasgee ook. Hierteenoor het die tweede boek net sewe maande gevat om af te handel. Party stories praat vinniger met 'n mens as ander.”

Hy vertel hy geniet dit veral om vir kinders en adolessente te skryf.

“Daar is net iets aan jeugverhale. Miskien omdat die lesers hulle so volkome aan hul verbeelding oorgee, wat oneindige moontlikhede vir nuwe stories bied.”

Soos reeds genoem is die skrywer ook 'n deeltydse musikant. Sy band Pelican State het 'n oorspronklike temalied vir die reeks, ook getiteld Jungu Josh, uitgereik. Jy kan daarna op enige sosialemediaplatform of die musiekvideo op KykNET luister. Die skakel na die liedjie is ook in die boek.

Constant vertel daar sal binnekort ook 'n Jungu Josh-webtuiste bekend gestel word waar die leser meer oor Kalimbula en die karakters kan uitvind. Hy is ook op die uitkyk vir vertalingsmoontlikhede, sodat ander jong lesers ook van Josh en sy vriende kan lees.

Sy reise deur Suider-Afrika en spesifiek sy liefde vir Etosha en die Kruger-wildtuin het 'n groot invloed gehad op die ruimte waarin die boek afspeel en die diere wat in die boek voorkom.



oor die skrywer

Constant het in Windhoek grootgeword en was in Laerskool Eros. Daarna is hy na Windhoek Hoërskool. Hy wou aanvanklik regte op Stellenbosch gaan studeer, toe hy in matriek van forensiese rekeningkunde in 'n Sondagkoerant lees. Dit was destyds 'n splinternuwe kursus wat die PUK sou aanbied en kort voor lank is hy op pad Potchefstroom toe.

“Ek verlang baie na Namibië, veral omdat my familie steeds in Windhoek is en ek min kan kom kuier,” sê hy.

Hy het ongetwyfeld 'n passie vir kuns en kultuur en probeer ook gereeld nuwe liedjies opneem en by kunstefeeste optree.

Hy voeg by hy sal nooit nee sê vir 'n kunsfliek-uitnodiging nie. Hy het egter 'n manier gevind om sy beroep en sy passie te kombineer.

“Die interessante ding van forensiese rekeningkunde is dit verg nogal kreatiwiteit om ondersoeke te beplan en uit te voer. Miskien is die boeke 'n uitvloeisel van die kreatiewe omgewing waarin ek myself bevind,” vertel hy.

“Ek het van vroeg af begin skryf. Dit begin mos maar altyd met opstelle op skool, maar op universiteit het ek kortverhale begin aanpak en later bundels gepubliseer voor ek met die Jungu Josh-reeks begin het,” antwoord hy op die vraag of hy lankal belang stel in Afrikaanse literatuur.

Die skrywer Neil Gaiman, die “meester van magiese realisme”, het 'n sterk invloed op Constant se skryfwerk gehad. Neil se The Truth is a Cave in the Black Mountains en Coraline tel onder sy gunstelinge. Hy wil self graag in die toekoms verhale in magiese realisme vir 'n ouer mark skryf, vertel hy.

“Op die ou end kom die karakters uit die bloute na 'n mens toe, dikwels in die middernagtelike ure en sonder rede, en dan begin jy skryf,” sê hy.



INSPIRASIE

Hy mag dalk deesdae in die buurland woon, maar hy het nie van sy Namibiese herkoms vergeet nie.

“Namibië se landskappe en mense sal altyd 'n groot invloed op my skryfwerk hê, veral omdat ek sulke goeie herinneringe van my grootwordjare het. Alhoewel Kalimbula, die geheime vallei waar die verhaal afspeel, se woude en geilte baie van die dorre Namibiese landskap verskil, is daar byvoorbeeld in die tweede boek 'n berg waar ek Spitzkoppe as inspirasie gebruik het. En die hoofstam van Kalimbula, die Magani's, herinner my baie aan tradisionele stamme van die Noorde,” sê Constant.

Die pandemie en gepaardgaande inperking het skrywers, soos baie ander in die kuns- en vermaakbedryf, hard getref. Volgens Constant is dit vir hulle 'n moeilike situasie – aan die een kant is daar meer tyd vir skryf, maar terselfdertyd is dit moeilik om 'n bron van inspirasie te identifiseer weens beperkte geleenthede. Hy vertel hy kan ook nie 'n amptelike bekendstelling van die boek hou nie, iets wat hy hopelik met die opvolgboeke sal kan doen.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Profeet TB Joshua sterf

4 ure gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

14 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

20 ure gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

1 dag gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

2 dae gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...

Avonturier verdrink byna tydens riviervaart

2 dae gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by...

Harmse on unlimiting the future

2 dae gelede | Mense

Barney Harmse was born in Mafikeng in South Africa in 1970 and his family moved to Namibia when he was just four years old. From...