'n Liefdesgedig aan bedreigde spesies

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Wilde Kind se vollengte studio-album Omhanda is gister op alle stromingsplatforms uitgereik.

“Omhanda” is die Oshiwambo-woord vir renoster.

“Renosters is spesiaal vir Namibië en die wêreld. Hulle loop al miljoene jare op dié aarde rond en vorm ’n belangrike deel van 'n gesonde ekosisteem. Tog veg hierdie magtige dier nou vir sy voortbestaan en het 'n teken van bewaring oraloor die wêreld geword. Ongelukkig is die renoster nie die enigste dier wie se voortbestaan bedreig word nie,” vertel die groep.

Dié snit is ’n ode aan die diere soos die renoster, olifant, ietermago en vele meer - wat deur uitsterwing in die gesig gestaar word as gevolg van mense se gedrag en onwilligheid om in te gryp.

Die blaasinstrument-gedeelte van die liedjie is geskep om die trompetter-geluide van olifante na te maak, terwyl die stemme van die kinderkoor die onskuld weerspieël van 'n spesie wat deur uitsterwing bedreig word, sowel as ’n gevoel van hoop en ’n pleidooi om die natuurlike wêreld vir toekomstige geslagte te bewaar en te beskerm.

Wilde Kind se nuwe album, vernoem na dié snit, is 'n huldeblyk aan die huis en die natuur. Die stigter en hart van die groep, die Namibies-gebore sanger en kitaarspeler Danella Smith, het die meeste van die snitte op Omhanda neergepen. Sy het twee huise: haar geboorteland en haar huidige tuisbasis, Den Haag in Nederland. Haar liedjies weerspieël haar liefde vir en kommer oor die toestand van die natuur in Afrika en die wêreld.

Haar liefde vir reën (die snit “Liquid Sunshine”) en eindelose padavonture deur die woestyn (“Lost the Sunscreen”) aan die een kant, en sosiopolitieke kwessies soos stropery (“Omhanda”) en wêreldwye konflikte (“Earth for Sale”) aan die ander kant, sorg vir 'n uiteenlopende reeks luisterervarings.

Luisteraars word op ’n reis deur baie verskillende emosies en plekke geneem - en dít in ’n mengsel van drie tale: Engels, Afrikaans en Oshiwambo.

WIE IS WILDE KIND?

Wilde Kind se lirieke en komposisies word sterk deur Danella se Namibiese erfenis beïnvloed. Die melodieë en klanke verpersoonlik 'n unieke Afrika-gees.

Die “wilde kinders” sê hulle wil 'n “onafhanklike produk” skep – van die produksie tot die ontwerp van die omslag. Wilde Kind beskou hulself as 'n groep kunstenaars wat die kreatiwiteit van die lede van die groep se agt verskillende nasionaliteite kombineer.

Die groep bestaan uit lede van Namibië, Spanje, Engeland, Duitsland, Nederland, Estland, Frankryk en Ecuador.

Die meeste van Wilde Kind se liedjies kombineer elemente van alternatiewe folk, indie rock en melancholiese klanke.

Danella se lirieke is waaghalsig en betekenisvol; huidige sosiopolitieke kwessies vind 'n plek in haar komposisies, maar ook haar liefde vir die natuur en haar nostalgie vir haar vaderland. Sommige liedjies is in Engels geskryf en ander in Afrikaans.

Ten spyte van haar gelukkige lewe in haar nuwe tuiste, het Danella nie haar Afrika-wortels agterweë gelaat nie. In haar liedjies neem sy haar gehoor gereeld op 'n nostalgiese reis van die Namibiese natuur en kultuur.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!