Mynbou boer agteruit met 9,1%
Die Suid-Afrikaanse mynbousektor het ’n besonder droewige Augustus agter die blad. Die sektor het 9,1% minder minerale in Augustus as ’n jaar gelede geproduseer. Dit is luidens die jongste syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Donderdag gepubliseer het. Luidens SSA se verslag is dit sedert Januarie 2013 die tweede swakste vertoning op ’n jaargrondslag. Die sektore wat die swaarste getrek het was ystererts (-19,9%), goud (-15,5%) en die platinumgroepmetale (-7%). Seisoenaal aangepaste syfers wys dat mynbouproduksie ook met 1,2% tussen Augustus en Julie vanjaar gekrimp het. Ondanks die laer produksiesyfers het Suid-Afrika meer geld uit die verkope van minerale in Augustus verdien. Verkope van R43 miljard was 4,3% meer as ’n jaar te vore. Dit was meer as die R37 miljard van Julie en naas die R45 miljard van Junie die meeste wat die land sedert Oktober 2017 verdien het. Verkope van mangaanerts (47,2%), steenkool (7,3%) en ander metaalagtige minerale (86,5%) het gestyg. Dit volg nadat verkope op ’n jaargrondslag in Julie met 5,7% gedaal het. Op die foto is die Bafokeng-Rasimone-platinummyn naby Rustenburg. Foto Netwerk24
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie