Mwatile voer skrikbewind teen Kameroen met 5/6
Mwatile voer skrikbewind teen Kameroen met 5/6

Mwatile voer skrikbewind teen Kameroen met 5/6

Namibië is deur na die semifinaal komende Vrydag.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die verswelgende gapings in die vernuf en ervaring van sommige spanne was gister ooglopend by die Internasionale Krieketraad se kontinentale kwalifiserende toernooi in Gaborone, waar 'n enkele vrouespan van Afrika tot die latere finale wêreldwye T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi sal deurdring.

Namibië se Capricorn Eagles het die arme Kameroen gister vir 'n skamele 30 lopies uitgeboul, met die Wes-Afrikane se laaste paaltjie wat ná 15.5 boulbeurte geval het.

Met haar regterarm mediumsnel boulwerk het Wilka Mwatile haar reeds tevore as een van Namibië se staatmakers bewys. Sy was gister welverdiend die speler van die wedstryd, met haar loopbaanbeste boulvertoning in 'n internasionale T20-wedstryd.

Mwatile het 'n skrikbewind gevoer deur vyf paaltjies vir net ses lopies in vier boulbeurte laat kantel.

Suné Wittmann met 2/11 in 4 boulbeurte en Kayleen Green (2/2 in 1.5 bb) was ewe dodelik, terwyl die kaptein Irené van Zyl onspeelbaar was met drie boulbeurte, twee leeg, geen paaltjies ten koste van net een lopie.

Afrigter Francois van der Merwe sal gewis veel minder tevrede wees met die wyse waarop sy twee aanvangskolwers hul paaltjies weggesmyt het. Adri van der Merwe (1 van 5 balle) is binne die eerste boulbeurt uitgehardloop. Met die volgende bal moes Suné Wittmann ook terugstap, toe sy vir 'n nulletjie uitgevang is.

Kameroen se beweegruimte op die telbord het egter opgeraak voordat Yasmeen Khan (11 nie uit nie van 13 balle, twee viere) of Kayleen Green (4* van 6 balle, 1x4) eens behoorlik in sweet kon uitbars.

Die oorwinning met agt paaltjies (97 balle oor) verseël Namibië se topposisie boaan groep B, met 'n foutlose agt punte uit vier wedstryde (netto kolftempo 2.795).

Uganda vorder ook na die semifinale, wat komende Vrydag gespeel word (NRR 3.030).



ZIMBABWE DIE GROOT BEDREIGING

In groep A – waarin ses spanne meeding teenoor die vyf in groep B – is die gunsteling Zimbabwe sover oordonderend op dreef.

Die Zimbabwiërs se netto kolftempo staan op 4.901 ná vier oorwinnings – met 171 lopies teen Mosambiek (205/3 teen 34); met 82 lopies teen die gasheer Botswana (113/5 teen 31); met tien paaltjies teen Eswatini, wat vir net 17 lopies uitgeboul is voor Zimbabwe die wenlopies in twee boulbeurte moker, en met ses paaltjies teen Tanzanië, wie se 103 almal uit hulle op die eerste wedstryddag eers in die laaste boulbeurt kon verbysteek.

Tanzanië en Rwanda (6 punte elk ná twee wedstryde) is in die binnebaan om tweede te eindig en 'n semi­finaal teen Namibië se Eagles te bespreek.
[email protected]

FOTO
Wilka Mwatile in aksie in ’n vorige toernooi. Foto argief

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer