Mooi rokkies wil sy dra

28 June 2019 | Toerisme
Dalk het jy al die dinamiese toergids op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako met haar kleurvolle Herero-rokke gewaar waar sy internasionale toeriste vriendelik verwelkom, want Katrina Kandjii-Black staan uit!

Sy pronk flambojant met 'n breë glimlag in 'n Herero-rok met die Namibiese, Duitse of Italiaanse vlag. Selfs haar naels is in die kleure van die vlae geverf.

Katrina is nie net vlot in onder meer Duits en Italiaans nie, maar is die enigste swart vroulike eienaar van 'n toer­operateurmaatskappy wat as toergids self toeriste in die land rondry.

Die 41-jarige toergids is gebore op Gobabis en haar huistaal is trots Otjiherero. Sy is ook vlot in Afrikaans en Engels en kan 'n bietjie Damara/Nama praat.

Sy was in die Primêre Skool Epako op Gobabis en Sekondêre Skool Paresis op Otjiwarongo.

Toe sou Katrina nooit kon raai dat sy vir nege jaar ver paaie in Italië en ­Duitsland moes loop om hul vreemde tale en ­toerisme daar te studeer nie.

As bedryfstudent by die destydse ­Politegnikum van Namibië, het sy 'n beurs losgeslaan by die Universiteit van Trento in noordelike Italië op die grens van Oostenryk in die Italiaanse Alpe waar sy ses jaar studeer het. Sy vertel hoe koud dit was om in die Alpe te ski.

Daarna het sy vir drie jaar aan die Duitse Universiteit van Münster in die staat Noord-Ryn Wesvale studeer.

“Dit was vir my baie swaar, want ek moes eers Italiaans en Duits leer vir my studies in hierdie mediums. Ek het altyd geweet ek wil terugkom huis toe sodra ek klaar studeer het,” sê Katrina.

“Ek het geweet dit is nie my plek nie en daar was altyd iemand wat jou daaraan herinner jy is nie van hier nie.”

In 2010 het sy met 'n blye hart na Namibië teruggekeer en haar eerste werk was as 'n lektor in Italiaans vir beginners as semesterkursus by die Politegnikum.

Katrina het 'n oproep van 'n toeroperateur gekry wat 'n tolk gesoek het.

“Italiaanssprekende Namibiese toer­gidse is so skaars soos hoendertande” en dit het die saadjie geplant om in 2013 haar eie toeroperateurmaatskappy, Ipaha Travels, te stig. Sy is meestal toergids vir Italiaanse en Duitse toeriste.

Katrina was ook vir ses jaar die president van die Emerging Tourism Enterprises Association of Namibia, “maar ek sit nie in 'n kantoor nie, ek reis die land vol met my toeriste”.

In 'n maand is sy tussen 10 en 20 dae weg van die huis, soms met dubbelskoftoere. Sy bied standaardtoere na Sossusvlei, die Visrivier-canyon, Sandvishawe, Twyfelfontein en die Etosha Nasionale Park aan, maar sy beskou haarself as 'n kulturele toergids.

“Ná jare se ondervinding in die toerisme­bedryf blyk dit die toeriste stel meer belang in die diversiteit van ons kulture. Hulle wil sien hoe ons Namibiese mense van dag tot dag leef.”

Op die Twyfelfontein-roete vat Katrina haar toeriste na die Damara Lewende Museum. Op Okahandja besoek hulle die Herero-grafte waar sy hulle met trots van die geskiedenis en erfenis van die Herero vertel.

“Om die kulturele aspekte te weergee, is deel van my. Dis wat my anders maak, saam met my taalvaardigheid. Ek is 'n ­kulturele toergids. My werk is om in te lig, te onderrig en te vermaak.

“Ek gee persoonlike aandag aan my ­toeriste, dit is waarom ek hulle met 'n Herero-rok met die Duitse of Italiaanse vlag verwelkom,” sê Katrina.



KARAKTER EN HOUDING

Sy is besig om 'n boek te skryf wat handel oor haar ondervindinge in Europa, die kulturele verskille en haar ervaring as toergids vir Duitsers en Italianers.

Sy hoop die boek sal ook as 'n gids vir toekomstige toergidse dien.

“'n Toergids het vaardighede nodig om onverwagse probleme op enige tyd te hanteer. Dit verg vaardighede om 38 vreemdelinge vir 10 tot 25 dae as 'n groep te verenig.

“Elke gas moet as 'n individu in 'n groep hanteer word. Om 'n toergids te wees, moet jy 'n spesiale karakter en te alle tye die regte houding hê,” verduidelik Katrina.

Sy sê die boek het nog nie 'n titel nie en sy sal dit in Duits en Italiaans vertaal.

“Die boek is ook vir my twee kinders sodat hulle eendag kan verstaan waarom hul ma altyd van die huis af weg is.”



GESIN

Katrina is vyf jaar getroud met Sylvester Black wat in die Omahekestreek boer. Hulle het twee dogters, Uaundjua(4) en die driejarige Tangee.

“As 'n ma van twee kan ek slegs my drome bereik met die voortdurende steun van my man wat altyd bereid is om die ­moederrol te vervul as ek weg is.

“Ek hoef nooit oor enigiets by die huis bekommerd te wees nie en kan my volle aandag by my toeriste bepaal.”

Omdat Katrina haar eie besigheid het, sorg sy dat sy altyd met haar dogters se verjaardae by die huis is en van einde ­November tot einde Januarie saam met haar gesin vakansie hou.

“Ek wil graag my kinders se horisonne verbreed en ek vat hulle ook op reise in ons land. Vanjaar gaan ons gesin vir die eerste keer saam oorsee,” vertel Katrina opgewonde.

Hierdie toergids dra nie net mooi rokkies nie, maar dra ook die belange van haar toeriste, kultuur én gesin op haar hart.

Soortgelyk

 

Valskerm-ongeluk eis Chinese vrou

4 ure gelede | Ongelukke

'n Valskerm-ongeluk het die lewe van 'n Chinese vrou, me. Ran Lei (33), Sondagmiddag geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag het die voorval...

Frankfurt-vlugte het hervat

5 ure gelede | Vervoer

Air Namibia se vlugte na en vanaf Frankfurt in Duitsland het hervat.Die Airbus A330-200 is ná die vlerkskade tydens ‘n ligte botsing Saterdagaand by die...

Beserker slaan 2-jarige nefie na bewering met graaf dood

5 ure gelede | Misdaad

‘n Tweejarige seuntjie is vroeg Saterdagoggend dood toe sy 50-jarige oom hom na bewering met ‘n graaf aangeval het, terwyl ‘n driejarige meisie wat hy...

Man vas oor 'diamantsmokkelary'

6 ure gelede | Misdaad

'n Nambiese man is Vrydag in verband met diamantsmokkelary op die grenspos tussen Suid-Afrika en Namibië by Oranjemund in hegtenis geneem.Volgens die Namibiese polisie se...

Laat koppe rol - Jooste, SPYL

21 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Stemme uit die regerende party dring toenemend aan dat diegene wat beskuldig word van korrupsie onder sy geledere verwyder word.Nadat die beleërde...

Gertze skiet glo vrou

21 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) het die naweek agter tralies deurgebring nadat hy na bewering sy vrou Saterdag in...

Namibiërs betoog oor korrupsie

21 ure gelede | Plaaslik

Tanja Bause - Meer as 200 mense van alle rasse en ouderdomme het Vrydag deelgeneem aan ’n teenkorrupsie-optog in Windhoek wat deur aktiviste gereël is....

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

21 ure gelede | Politiek

McHenry VenaaniPopular Democratic Movement (PDM)McHenry Venaani is die leier van die amptelike opposisie en het in 2014 as mees suksesvolle opposisiekandidat 44 271 stemme (sowat...

Weer vir 18 November

21 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met 'n paar donderbuie oor die verre Noordooste, andersins gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm. Winderige...