Min kans vir vlieg na SA

Air Namibia se toekoms nog duister

29 September 2020 | Toerisme
Ronelle Rademeyer - Hoewel Suid-Afrika Donderdag sy grense vir besoekers uit goedgekeurde lande, waaronder Namibië, heropen, moet Namibiërs vir eers verlief neem met die feit dat vlugte en die keuse van rederye in die afsienbare toekoms min gaan wees.

Geen vlugte is vir Donderdag geskeduleer nie en in die daaropvolgende dae lyk die situasie nie juis beter nie.

Trouens, met die uitsondering van ’n retoervlug Vrydag met FlyWestair na Kaapstad en Johannesburg, kry voornemende reisigers eers weer op 12 Oktober kans om te vlieg wanneer Flyairlink sy vlugte hervat.

Die private Suid-Afrikaanse redery, Airlink, het verlede week aangekondig dat hy sy geskeduleerde vlugte op 12 Oktober tussen Johannesburg en Walvisbaai, asook tussen Kaapstad en Windhoek, hervat.

Die beleërde nasionale redery, Air Namibia, het nog nie aangekondig wanneer hy weer sy vlugte na Kaapstad en Johannesburg, asook dié via Gaborone in Botswana na Durban, gaan hervat nie.

Volgens Airlink se besturende direkteur, mnr. Rodger Foster, sal dié redery binnekort weet of die Internasionale Lugdiensraad sy aansoek goedgekeur het om tussen Johannesburg en Windhoek te vlieg.

Aangesien die Suid-Afrikaanse rederye South African Airways (SAA), Comair (wat vir British Airways vlieg) en SA Express in sakeredding is, het Airlink aansoek gedoen om een van dié drie rederye se onbenutte lisensie op hierdie roete te gebruik.

Volgens mnr. Fred Ribeiro, bestuurder van sakeontwikkeling by Westair, beplan hierdie private Namibiese redery om eers vanaf die derde week in Oktober sy geskeduleerde vlugte te hervat. FlyWestair sal dan twee keer per week na Suid-Afrika vlieg, sê hy.

Mnr. Theo Mberirua, Air Namibia se tussentydse uitvoerende hoof, het gister by navraag gesê die publiek “sal minstens ’n week” voor die hervatting van vlugte na lande in die streek daarvan in kennis gestel word. Hy kon nie sê wanneer dit sal wees nie.

Intussen het dit bekend geword dat Air Namibia nie Vrydag sy personeel kon betaal nie. Werknemers is in kennis gestel dat “’n vertraging met die prosessering van betalings” ervaar is en hulle eers vandag (Dinsdag) betaal sal word.

Verder sal alle werknemers soos vlieëniers, kajuitbemanning en ander wat tuis is omdat die redery nie vlieg nie, se salaris met 50 persent gesny word.

Mberirua sê in ’n brief aan werknemers die redery se geldelike situasie belemmer die plan om vlugte te hervat aangesien hy sukkel om kritieke krediteure en vaste maandelikse uitgawes soos salarisse te betaal.

Mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings (SOE’s), het gister aan Republikein gesê die ministerie van finansies het Vrydag geld aan Air Namibia oorbetaal om vir die betaling van salarisse voorsiening te maak.

Hy sê ’n aankondiging oor Air Namibia se toekoms sal hopelik binnekort gemaak word.

Die nuwe geïntegreerde strategiese sakeplan waarvolgens die bestuur glo die redery binne die volgende vyf jaar winsgewend kan bedryf, is reeds aan die kabinet voorgelê.

KASSIE

Só mag jy na SA reis:

Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa het aangekondig besoekers van goedgekeurde lande kan vanaf Donderdag na die buurland reis op voorwaarde dat hulle in die voorafgaande 72 uur negatief vir Covid-19 getoets het.

Hulle sal nie nodig hê om te kwarantyn nie, tensy hulle met aankoms by die lughawe (Johannesburg, Kaapstad of Durban) simptome toon.

Namibiërs sal ook per voertuig na Suid-Afrika kan reis, en dieselfde voorwaardes sal geld. Net die grensposte by Nakop en Viooldrift kan as deurgangsroete gebruik word.

Wanneer Namibiërs terugkeer uit Suid-Afrika, sal hulle by ‘n kwarantyn-fasiliteit moet tuisgaan wat deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste goedgekeur is. Tuiskwarantyn word slegs toegelaat in uitsonderlike gevalle, soos byvoorbeeld vir diplomate en mits die ministerie toestemming daarvoor gegee het.

Sonder daardie toestemming, moet mense met hul terugkoms na kwarantyngeriewe gaan wat deur die ministerie aangebied word, en self die koste dra.

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

10 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

10 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

10 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

10 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

10 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...