Met Theissen is NCF in bekwame hande

Fietsry

29 July 2020 | Sport
Tielman van Lill – Mnr. Axel Theissen is onlangs as president van die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) vir die volgende twee jaar verkies.

Theissen is oor jare reeds geen onbekende in fietsrykringe nie en is self steeds 'n ywerige kettingkraker wat gereeld aan padfiets- sowel as bergfietsbyeenkomste, plaaslik asook in Suid-Afrika, deelneem.

Theissen se pa, Claus, het in 1985 saam met wyle Artur Kuppe die padfietsklub Windhoek Pedal Power (WPP) op die been gebring en daarna in 1986 die NCF tot stand gehelp bring. Franz Kipling was die eerste president van die NCF – 'n beheerliggaam wat in onlangse jare onder presidente soos Glen Howard, Louis du Pisani, Johnny Truter, Mannie Heymans en Rolf Adrian met bekwame administrateurspanne kon spog.

Theissen sê hy is die afgelope 35 jaar hetsy direk of indirek by die gesonde sport betrokke.

“Dit is 'n groot eer en voorreg om die NCF vir die volgende paar jaar te lei. Ek sal vanaf die begin my gewig as leier op bestuursvlak asook op enige ander platform ingooi.

“Hoewel ek in 1985 nog baie jonk was, is ek weens my pa se invloed vir meer as drie dekades reeds lank by fietsry in Namibië betrokke.

“Ek wil graag op die suksesse van my voorgangers voortbou om fietsry in die land groter en beter te maak.

“Met harde werk is fietsry tot 'n voorkeursport in Namibië bevorder. Ek is 'n groot voorstander van spanwerk en ons sal die NFC se uitvoerende komitee, klubs asook borge saamsnoer om ons planne vir die volgende drie tot vyf jaar tot uitvoer te bring.

“Die klem sal beslis op ontwikkeling wees en ook om 'n beter verhouding met ander lande en die wêreldbeheerliggaam (UCI) te smee.

“'n Strategiese vergadering word vir einde September beplan waar ons doelwitte sal bespreek en sal definieer. Ons sal met graagte die NCF se ambisieuse planne met die media en belanghebbende partye deel,” het Theissen aan Republikein gesê.



KOMITEELEDE

Die uitvoerende komitee van die NCF wat saam met Theissen die wiele aan die rol sal hou, is Nick du Plessis (visepresident), Rina Lambert (borgskappe), Brendan Dickerson (geleenthede), Irene Steyn (sekretaris-generaal), Jacob Kiyola (kommunikasie en skakeling), Stefan Böhlke (tesourier) en Volker Engling (infrastruktuur).

Theissen se eie stamboek op die fiets is ook nie sonder persoonlike suksesse nie. Hy het in 1988 die Namibiese padfietskampioenskap gewen.

Hy het ook al etlike kere aan die ikoniese Nedbank Desert Dash-bergfietsmarathon in verskeie spanformasies asook as solo-ryer deelgeneem en suksesvol voltooi, met twee podiumposisies in die gemengde tweeman­spanafdeling in die sak.

Theissen het oor die jare 24 keer vir die gewilde Cape Argus-fietstoer aangetree en die resies voltooi. Hy het ook vir die eenmalige Snow Epic in 2015 in Switserland ingeskryf.

Agter die skerms het Theissen en sy jarelange werkplek Cymot, waar hy die uitvoerende hoof is, ook op ver­skeie vlakke 'n belangrike rol in die groei en bevordering van Namibiese fietsry gespeel.



MOSIE VAN VERTROUE

Sy voorganger, mnr. Rolf Adrian, sê Theissen is 'n sterk leier en die res van die topbestuur kan inderdaad as 'n “droomspan” beskryf word.

Adrian moes terugstaan vanweë die Sportwet se bepaling wat uitvoerende, stemgeregtigde lede tot 'n maksimum van tien jaar diens beperk.

“Ek is baie tevrede en ek glo met finansiële steun kan hulle goed vaar. Fietsry is mos tans een van die land se prioriteitskodes – hoewel ons federasie ironies genoeg sedertdien minder geld as tevore ontvang het vanweë die algehele finansiële klimaat in die land.”

Nog 'n oudadministrateur, Frank Snyman, sê eertydse NCF-bestuurspanne moes oor die jare hard en krea­tief werk om fietsryers deurlopend oorsee te kon stuur.

“Die NCF was die afgelope jare baie georden en gestruktureerd, maar baie persoonlike tyd gaan onbetaald in fietsry se administrasie in. Dit is 'n ondankbare taak, maar ek weet die nuut verkose bestuur sal dit met liefde, trots en bekwaamheid aanpak.”

- [email protected]

Soortgelyk

 

Covid-19: Verkiesings ‘kompleks, intens’

1 uur gelede | Politiek

Denver Kisting en Kristien Kruger – Die hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), mnr. Theo Mujoro, sê om die plaaslike owerheid- en streekraadsverkiesings later...

Eina, jou doring

1 uur gelede | In beeld

Kristien Kruger het die foto van die geelvink wat op ’n doringdraad hardloop in haar tuin in Klein Windhoek geneem.

‘Kommerwekkende styging’ in Windhoek-gevalle

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die aantal Covid-19-gevalle in Windhoek is besig om vinnig te styg, ‘n situasie wat deur die minister van gesondheid en maatskaplike dienste,...

Sluit van howe in openbare belang- Dausab

1 uur gelede | Howe

Denver Kisting – Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê hoewel hofdienste, wat ’n integrale deel van geregtigheid vorm, beperk sal wees vanweë beskikbaarheid...

Weer vir 12 Augustus 2020

1 uur gelede | Weer

WEERWAAK: Koue toestande sal in die Suide voorkom. BINNELAND: Sonnig en matig in die Suide. Elders sal dit sonnig en warm tot baie warm wees....

Uitlewerings op ys weens virus

1 uur gelede | Misdaad

“Daar is individue van belang, wat vermoedelik in ons buurlande is; sommige is opgespoor en (ons) wag op die afhandeling van die vereiste administratiewe prosesse.”...

Eros se aanloopbaan opgeknap

1 uur gelede | Vervoer

Ronelle RademeyerOfskoon daar nie geld is vir omvattende rehabilitasie van die aanloopbaan by die ­Eros-lughawe in Windhoek, gaan tussentydse herstelwerk oor die volgende drie maande...

Trane loop nog steeds oor Frieda Ndatipo

1 uur gelede | Mense

Jana-Mari SmithSes jaar nadat die ­ongewapende protesteerder me. Frieda Ndatipo gedurende 'n geveg tussen die Swapo-strydkinders en die Namibiese polisie voor Swapo se hoofkantoor doodgeskiet...

Lesersfoto's 12 Augustus 2020

1 uur gelede | Lesersfoto's

Gelukkige varkie: “Dit is soos dit hoort,” sê Björn Basler. Familie: AK van Donkerhoek het die foto van die wilde perde by Aus geneem. Mooi:...