Meatco met slagmes teen keel

Drie direksielede bedank

01 June 2021 | Landbou
Ronelle Rademeyer – Meatco se voortbestaan is op 'n mespunt nadat dié vleiskorporasie binne twee maande sy voorsitter, ondervoorsitter asook bykans die helfte van sy topbestuur verloor het.

Kommer oor die volhoubaarheid van die land se beesvleis-uitvoerabattoir het gister verdiep met die aankondiging dat die voorsitter en ondervoorsitter asook die direksielid wat kommersiële produsente se belange op die raad verteenwoordig het, die naweek bedank het.

Mnr. Johnnie Hamman, voorsitter, sê hy en mnr. Kai-Dieter Rumpf, het lynminister Leon Jooste Vrydag in kennis gestel hulle bedank. Sondag het die ondervoorsitter, me. Clara Bohitile, die minister laat weet sy bedank ook met onmiddellike effek.

Hulle het gister gesê “wesenlike en onversoenbare verskille met die bestuur en die res van die raad van direkteure” ná 'n indringende direksievergadering Donderdag, het tot dié besluit gelei.



DEKADES SE ERVARING WEG

Hul bedankings volg minder as twee maande ná die aankondiging deur die hoof uitvoerende beampte, mnr. Mwilima Mushokabanji, dat alle werk­nemers van 55 jaar en ouer afgelê word.

Dit het drie ­topbestuurslede met dekadelange ondervinding in die vleisbedryf ingesluit. Hulle is die gewese operasionale hoof, mnr. Jannie Breytenbach, die gewese uitvoerende bestuurder vir ­bemarking en verkope, mnr. André Mouton, asook mnr. George Kotze wat as uitvoerende bestuurder vir lewendehaweproduksie en waardetoevoeging verantwoordelik was.

Hamman wou gister by navraag nie uitbrei op wat die “wesenlike en onversoenbare verskille” was nie.

Intussen het Jooste só hierop reageer: “Ek het aan al drie van hulle geskryf en hulle versoek om die werklike redes wat hulle tot die besluit gelei het, op skrif te plaas om my sodoende te help om op die ­korrekte manier in te gryp”. Hy sê hy wag nog op hul antwoord.

Jooste het laat blyk hy is bekommerd oor die gebeure en het ook gister met mnr. Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, vergader. “Produsente moet weet dat ons alle nodige maatreëls sal inspan om te verseker dat Meatco volhoubaar bly, aangesien dit 'n kritieke entiteit is. Ons sal binnekort besluit wat die regte manier is om die direksie in pas met die Wet op die Vleiskorporasie van Namibië en die Wet op die Bestuur van Staatsondernemings, aan te vul.”

Schlettwein het op sy beurt aan Republikein gesê die vleisbedryf kan nie sonder 'n uitvoerabattoir soos Meatco volhoubaar voortbestaan nie. “Hierdie is 'n ernstige saak en ek is baie bekommerd oor die vleisbedryf. Die droogte het die bedryf erg geknou en toe kom Covid. “Die plaaslike mark kan net 30% van die vleis wat ons produseer, absorbeer. Die res moet uitgevoer word.”

Hy sê landbou se bedrae van 7,5% tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP), het as gevolg hiervan reeds tot 3% gedaal.

Mnr. Thinus Pretorius het as voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in reaksie op die nuutste verwikkelinge gesê 'n onstabiele en onvolhoubare vleisbedryf sal landelike gemeenskappe en die ekonomieë van dorpe knou, wat mense uit die platteland sal dwing om in stedelike gebiede hul heil te soek.

Pretorius waarsku die reeks van gebeure by Meatco sal 'n negatiewe impak op produsentevertroue en die vleiswaardeketting hê. “Produsente is die kern van die waardeketting en sonder hul steun sal die waardeketting in duie stort; werksgeleenthede en belastinginkomste sal verlore gaan.”



GELDKRISIS

Ingeligtes met wie Republikein gister gepraat het, meen die naweek se gebeure hou onder meer met Meatco se jaarverslag vir die 2020-'21-boekjaar verband.

Dit moes reeds op 19 Februarie tydens die algemene jaarvergadering aan produsente voorgelê word. Die jaarvergadering het egter nooit plaasgevind nie, skynbaar omdat Hamman dit nie wou afteken nie.

Meatco se ouditeure het reeds in die vorige boekjaar die finansiële jaarverslag gekwalifiseer en gesê daar bestaan 'n wesenlike onsekerheid oor dié entiteit se vermoë om as lopende saak voort te bestaan.

Meatco het verlede jaar 'n bedryfsverlies voor belasting van N$123 miljoen gely. Dié van die groep (voor belasting) was N$113 miljoen.

Volgens die 2019-'20-jaarverslag het Meatco se totale skuldlas vir die groep N$814,6 miljoen beloop.

– [email protected]

Soortgelyk

 

Profeet TB Joshua sterf

5 ure gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

14 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

21 ure gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

1 dag gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

2 dae gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...

Avonturier verdrink byna tydens riviervaart

2 dae gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by...

Harmse on unlimiting the future

2 dae gelede | Mense

Barney Harmse was born in Mafikeng in South Africa in 1970 and his family moved to Namibia when he was just four years old. From...