Marsbanker-ooreenkoms glip deur net

Seaflower vandag in hof oor viskwota

25 August 2020 | Visserye
Ronelle Rademeyer - Die vismaatskappy waarvan ’n gewese direkteur as deel van die Fishrot-kwotaskandaal deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) vir beweerde geldwassery ondersoek word, veg vandag in die hof vir die behoud van die marsbanker-kwota wat die regering se vismaatskappy hom skuld.

Seaflower Pelagic Processing (SPP) op Walvisbaai se dringende hofinterdik teen die minister van visserye en mariene hulpbronne, dr. Albert Kawana, asook sy 40%-regeringsvennoot, die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor) en die ministers van finansies en staatsondernemings, mnre. Iipumbu Shimi en Leon Jooste, sal om 14:15 in die hoërhof in Windhoek gehoor word.

Seaflower vra dat Kawana, met wie die maatskappy "nou maande sukkel om ‘n vergadering te belê", verbied word om sy ooreengekomde sowat 24 333 ton marsbanker-kwota in die ope mark op te veil.

Die gewraakte veiling waarop die regering sy oorblywende kwota van die land se totale toegelate vangste (TAC) vir 2020 teen die hoogste bod aanbied om sy leë beursie te vul en die Covid-19-pandemie te bekamp, het reeds om 10:00 Vrydag gesluit.

Mnr. AJ Louw, voorsitter van Seaflower se direksie, sê in sy funderende eedsverklaring die vismaatskappy het ’n ooreenkoms met Fishcor vir ‘n jaarlikse marsbanker-kwota van 50 000 ton. Die ooreenkoms is vir 15 jaar geldig.

Dié maatskappy het in 2017 tot stand gekom nadat Fishcor met African Selection Trust SA Group (AST) ’n ooreenkoms gesluit het om as bedryfsvennoot ’n visverwerkingsaanleg op te rig, vissersbote te kontrakteur en die vangste te bemark. Fishcor besit 40% van die aandele in Seaflower en AST 60%.

Volgens Louw betaal Seaflower vir Fishcor ’n gebruikersfooi van 8% per ton om die 50 000 ton kwota jaarliks te benut.

Hy sê die minister het in die 2020-visvangseisoen wat op 1 Januarie begin het, ’n 16 666,67 ton marsbanker-kwota ingevolge dié benuttingsooreenkoms aan Fishcor toegeken, gevolg deur ’n verdere 5 000 ton in Junie.

Louw sê hy het op 27 Julie aan Fishcor se direksie geskryf en gesê Seaflower sal genoodsaak wees om 655 mense af te lê as die res van sy 50 000 ton-kwota (28 333 ton) nie toegeken word nie.

“Ons het opgemerk die minister het kwotas aan ander maatskappye toegeken, maar niks aan ons nie. Ons het alle roetes probeer om 'n vergadering met dr. Kawana te belê om uit te vind wat die rede is vir hierdie straf wat ons ervaar,” het hy in sy brief gesê.

Op 9 Augustus het Fishcor ’n kwota vir 4 000 ton aan Seaflower toestaan “met die uitsluitlike doel om werksgeleenthede in die maatskappy tot 31 Desember 2020 in stand te hou”, sê Louw in sy verklaring.

Volgens hom het hy op 11 Augustus in Republikein gelees viskwotas gaan opgeveil word, en in ’n opvolgberig op 19 Augustus gesien die totale oorblywende regeringskwota van 72 000 ton marsbanker gaan onder die hamer kom.

Louw sê hy het dadelik sy prokureur opdrag gegee om ’n junior en senior advokaat aan te stel en tydens ’n virtuele direksievergadering op Donderdag 20 Augustus, is besluit om vir ’n dringende hofinterdik aansoek te doen.

FISHROT

Die wyse waarop ’n gewese direkteur van Seaflower, die Windhoekse prokureur mnr. Marén de Klerk, voordeel getrek het uit Fishrot se korrupsie-opbrengste, vorm deel van die ACC se ondersoek wat reeds ses sleutelverdagtes agter tralies het.

Hulle is Kawana se voorganger, mnr. Bernhard Esau, asook die voormalige minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, die gewese besturende direkteur van Investec Asset Management Namibia en voorsitter van Fishcor, mnr. James Hatuikulipi, asook mnre. Ricardo Gustavo, Tamson “Fitty” Hatuikulipi en Pius “Taxa” Mwatelulo.

Republikein is in besit van bankstate wat toon nagenoeg N$75 miljoen het na bewering onregmatig deur De Klerk se trustrekening, asook dié van sy maatskappy Celax Investment Number One gevloei. De Klerk besit 100% van die aandele in Celax.

Maatskappy-dokumente toon dié maatskappy is geregistreer op 24 Januarie 2017 – sowat ’n maand nadat Fishcor die aandeelhoudingsooreenkoms met African Selection Trust SA Group onderteken het waaruit Seaflower sy beslag gekry het.

De Klerk het op 15 Januarie vanjaar as ’n direkteur van Seaflower bedank en op 17 Januarie het hy Namibië verlaat.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Covid-19: Aankondiging kom oor pad vorentoe

1 uur gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê pres. Hage Geingob sal vandeesweek ’n aankondiging maak oor die regering se voortgesette hantering...

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

13 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

13 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

13 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

13 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

13 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

13 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

13 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

13 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...