Lys van doendinge voor jou troudag

Yandi Du Plessis
Om jou troue te beplan is opwindend, maar om rokke, ruikers, ringe en wie weet wat nog alles te reël kan ook oorweldigend wees. Hier is raad. Onthou: wees bereid om aan te pas by die Covid-kwessie.

9-12+ MAANDE

Skaf vir jou ’n troulêer of -boek aan of maak ’n Pinterest-lêer van jou idees. Bepaal jou begroting en begin uitwerk hoeveel jy aan wat kan bestee. As jy moet bespaar, laat kwaliteit kwantiteit troef. Kies ’n troubeplanner as julle een wil gebruik en maak seker hulle weet wat jou begroting is. Besluit op ’n troudatum – dit is ’n goeie idee om ’n paar datums te identifiseer wat vir julle en die belangrikste gaste pas, want dan is daar ’n groter kans dat jul droomvenue julle sal kan akkommodeer. Hou ook in gedagte baie onthaalplekke is bereid om afslag te gee indien julle buiteseisoen of op ’n weeksdag trou.

Besoek moontlike trouplekke en bespreek so gou moontlik een wat pas by jul visie en begroting. Met ’n ruimte in gedagte sal dit ook makliker wees om jul idees te fokus. As julle in ’n kerk wil trou, moet dit ook nou bespreek word. Kies jou gevolg (strooijonkers en strooimeisies) en vra of hulle bereid is. Stel ’n gastelys op volgens die grootte van jul onthaallokaal en begroting (en Covid-regulasies). Bespreek die persoon wat julle gaan trou. Besluit op ’n fotograaf van wie se styl julle hou en met wie julle kliek. Die foto’s sal die heel mooiste wees as julle gemaklik voel voor die kamera. Begin soek na moontlike verskaffers. Jy kan ook nou al begin speel met idees vir jou hare en grimering. As jy professionele kunstenaars hiervoor wil gebruik, moet jy hulle solank bespreek. ’n Verlowingsfotosessie bied ’n goeie geleentheid om te eksperimenteer met jou grimeervoorkoms en die fotograaf te leer ken sodat jy gemakliker voel op jou groot dag. Boonop kan die foto’s ingespan word vir ’n save the date-ontwerp of selfs as deel van die troudekor.

8 MAANDE

Bespreek jou platejoggie of orkes, asook enige ander musikante betrokke by jul groot dag. Maak afsprake met spyseniers en proe die kos voordat julle op ’n spyskaart besluit. Besluit op ’n ontwerper en ontwerp vir jou trourok of begin solank aanpas, as jy wil koop. Kies een wat die beste by jou persoonlike styl en figuur pas. Maak ’n blokbespreking vir gaste wat van ver kom se verblyf.

6-7 MAANDE

Kies ’n ontwerper vir jul skryfbehoeftes en bespreek jul idees. Oorweeg gerus elektroniese uitnodigings en bedankings – dis ’n goedkoper opsie en boonop meer omgewingsvriendelik. Begin beplan aan jul wittebrood. Soek vir jou strooimeisies uitrustings of neem hul mates as jy dit gaan laat maak. Neem hul voorkeure ook in ag sodat hulle die rok weer kan dra. ’n Meng-en-pas-voorkoms vir strooimeisies is tans baie gewild en laat ruimte vir elkeen se unieke styl. Stuur ’n save-the-date-e-pos of -kaartjie aan almal op die gastelys. Bespreek jou bloemis. As jy dit nie reeds doen nie, begin nou om vir ’n maandelikse gesigbehandeling te gaan vir ’n stralende vel op jou groot dag.

4-5 MAANDE

Bespreek enige toerusting of dekoritems wat gehuur moet word (tafels, stoele, tafeldoeke, breekware). Kies bykomstighede vir jou en die strooimeisies. Koop die regte onderklere by jou trourok en trek dit aan elke keer as jy jou rok gaan aanpas. As jy ’n rehearsal dinner wil hê met al die betrokkenes, bespreek die plek waar dit gaan plaasvind. Stuur jul trou-uitnodigings uit. Gun gaste ten minste ’n maand om te RSVP. Besluit saam met jou bakker op ’n ontwerp vir die troukoek.

3 MAANDE

Finaliseer jou blomme en spyskaart. As jy geskenkies vir jou gaste wil gee, maak of bestel dit nou. Besluit wie toesprake gaan lewer en wie jul seremoniemeester gaan wees en vra of hulle kans sien. Koop die trouringe en laat dit graveer as julle wil. Maak ’n lys van die RSVP’s wat julle reeds ontvang het en begin om die gastelys te finaliseer. Maak ’n afspraak by jou haarkapper. Besluit saam op ’n styl wat by jou trourok pas en doen ’n toetslopie. Doen aansoek vir paspoorte en visums as julle gaan reis.

2 MAANDE

Volg op met alle verskaffers wat betrokke is by die onthaal. Maak seker almal weet presies wat om te doen en teen watter tyd. Besluit wie waar gaan sit by die onthaal. Stel ’n lys van verlangde foto’s vir jul fotograaf op. Stel nou die speellys op as julle self die liedjies vir jul troue wil kies. Bestel die wyn en ander drank indien dit nie deur die spysenier verskaf word nie. Reël jou troukar as jy een gaan gebruik. Laat stel jul voorhuwelikse kontrak by ’n prokureur op.

1 MAAND

Stel verskaffers in kennis van die finale getalle. Bevestig met die persoon wat julle gaan trou dat alles op koers is. Gaan pas jou rok vir die laaste keer aan. Loop jou trouskoene in. Jy wil jou beste voetjie met gemak kan voor sit op jou troudag! Besluit op uitrustings vir die bruidegom en sy strooijonkers. Stel ’n skedule vir die troudag op en deel dit met alle betrokkenes. As julle self jul troubeloftes wil skryf, is nou ’n goeie tyd om te begin.

DAG VOORAF

Laat doen jou naels ’n dag voor die tyd. ’n Jelmanikuur en -pedikuur sal langer hou en kan ’n bietjie vroeër gedoen word. Knyp gerus tyd af vir ’n ontspannende massering. Klim die aand voor jul troue vroeg in die bed om seker te maak jy lyk en voel vars en stralend.

JUL TROUDAG

Eet ’n gesonde ontbyt. Ontspan en geniet die dag! - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!