Ludwigsdorf loop weer onder rowers deur
Ludwigsdorf loop weer onder rowers deur

Ludwigsdorf loop weer onder rowers deur

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Twee gewapende rooftogte het die afgelope naweek in Ludwigsdorf, Windhoek se oostelike spogwoonbuurt, plaasgevind, asook een op Usakos waar 'n vrou die slag­offer was.

'n Bejaarde man (72) is Saterdag omstreeks 01:00 ernstig beseer tydens die rooftog in Dr. Kwame Nkrumahstraat in Ludwigsdorf.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het vier verdagtes, waarvan een met 'n pistool gewapen, oor die heining aan die agterkant van die eiendom ingekom en het hulle deur die glasskuifdeur toegang tot die huis verkry.

“Die man en sy seun is met ystervoorwerpe oor hul koppe geslaan. Die 72-jarige man is ernstig beseer. Die seun kon daarin slaag om drie waar­skuwingskote te vuur en die verdagtes het weggehardloop sonder om enig­iets te steel,” sê die polisie.

Een van die verdagtes het glo 'n skoot in die rigting van die slagoffers afgevuur, maar gelukkig is niemand getref nie.

Niemand is al in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Die ander gewapende rooftog in Ludwigsdorf het Saterdag omstreeks 20:30 by 'n huis in Zenobiastraat plaasgevind.

“Die verdagtes het die slagoffers glo met vuurwapens aangehou en het glo goedere ter waarde van N$165 600 gesteel. Die gesteelde goedere sluit onder meer 'n skootrekenaar, 'n TV, horlosies, selfone, rekenaartablette en kontant in,” sê die polisie.

Niemand is al in hegtenis geneem nie en geen gesteelde goedere is ­teruggevind nie.

Die polisieondersoek duur voort.

Op Usakos is 'n 61-jarige vrou die slagoffer van 'n gewapende rooftog wat Saterdag omstreeks 20:00 in die Moermerberg-woonbuurt plaas­gevind het.

“Die vrou is na bewering deur drie Afrikaanssprekende mans van agter gegryp terwyl sy buite kos vir haar honde gemaak het,” sê die polisie.

“Sy is vasgebind en die verdagtes het haar bankkaart en pinnommer, die sleutel van haar minibussie en haar selfoon geëis. Hulle het die bankkaart, die selfoon en 'n ring gevat en saam met die vrou in haar voertuig na die OTM gery waar hulle glo N$2 000 uit haar rekening onttrek het,” sê die polisie.

“Daarna het hulle die voertuig by die verwelkomingsbord van Usakos geparkeer, haar losgemaak en haar beveel om huis toe te ry waarna hulle op die vlug geslaan het.”

Volgens die polisie bly die vrou alleen en is sy gelukkig nie beseer nie. Die totale waarde van die gesteelde goedere beloop glo sowat N$10 000. Niemand is al in hegtenis geneem nie en geen van die gesteelde goedere is teruggevind nie. Die ondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2024-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Brighton 0 vs 4 Manchester City | Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth LaLiga: Real Sociedad 0 vs 1 Real Madrid SerieA: Frosinone 3 vs 0 Salernitana | Udinese 1 vs 2 AS Roma European Championships Qualifying: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City English Championship: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City Katima Mulilo: 16° | 33° Rundu: 16° | 33° Eenhana: 16° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 32° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 18° | 30° Henties Bay: 15° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:03, High tide: 05:02, Low Tide: 23:14, High tide: 17:32 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 05:00, Low Tide: 23:12, High tide: 17:30 Walvis Bay: 16° | 26° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 04:59, Low Tide: 23:12, High tide: 17:29 Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 20° | 34° Keetmanshoop: 22° | 34° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 35° Oranjemund: 17° | 30° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 27° Lubumbashi: 11° | 25° Mbabane: 13° | 17° Maseru: 9° | 23° Antananarivo: 14° | 27° Lilongwe: 14° | 26° Maputo: 18° | 25° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 15° | 27° Durban: 17° | 22° Johannesburg: 15° | 23° Dar es Salaam: 23° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 14° | 26° #N/A #N/A