Loftie-Eaton steek kleim af

22 February 2021 | Sport
Tielman van Lill

Samsung FNB Wanderers 1 en CCD Tigers 1 het Saterdag onderskeidelik hul 50-beurtkragmetings in Krieket Namibië se premierliga teen Trustco United 1 en MR24/7 Welwitschias 1 met vier paaltjies en 100 lopies in die hoofstad beklink.

Tigers (250 almal uit in 42.3 boulbeurte) was voor die naweek se botsing teen die kusspan (133 almal uit in 27.4) derde met 47 op die punteleer. Met dié oorwinning het CCD die gaping tussen hulle en United (4de, 44) aansienlik vergroot. Die Welwitschias bly egter op 19 in die vyfde en laaste posisie.

Wanderers (145/6 in 41.1) het laasweek met 82 ligapunte in die tweede plek gelê. Hulle is in ’n verbete stryd met Ceiling Centre WHS Old Boys 1 (93) vir die topposisie gewikkel. Ná hul naelbytsege oor die Filistyne (144 almal uit in 42.3), sal hulle weer die voorste posisie inneem.

Old Boys het die afgelope naweek ’n ruskans gehad en sal komende Saterdag sy heerskappy teen die Hingste in Pionierspark wil bevestig.

By CCD in Pionierspark het die besoekers die loot gewen en die gasheer ingestuur om eerste te kolf. Die aanvangskolwers van Tigers, Stephen Baard en Ramon Wilmot, het tesame 54 lopies van 100 aflewerings bygedra.

Baard (26, 39b, 4x4) word deur Fungai Hlupo van ’n aflewering van John-Eric Thierauch uitgevang, terwyl Wilmot (28, 61b, 1x4) deur Matthew de Gouveia van Pieter Smit se boulwerk uitgevang is.

Joshuan Julius (19 lopies, 32 balle, 1x4, 1x6, geboul Smit) op nommer drie en Ben Shikongo (22 van 28b, 1x4, 1x6, gevang Michael van Lingen, geboul Zhivago Groenewald) op nege, lewer sinvolle bydraes. Maar dit is Nicol Loftie-Eaton wat die kollig steel met sy blitsige 87 van 62 aflewerings om die Tiere se kolfbeurt te red.

Hy moker vyf sesse en vier viere voordat ’n aflewering van Hlupo hom fnuik en hy deur Mias Strauss uitgevang word. Behalwe sy skitterbeurt met die kolf, slaan hy toe met sy draaiballe en eis vier paaltjies in agt boulbeurte vir 33 lopies.

Vir die besoekers is Hlupo (1/49 in 9 boulbeurte), Groenewald (2/25 in 8.3) en Thierauch (3/36 in 9) suksesvol as boulers. Dit is egter Smit met 4/63 in 9 wat die kusspan se suksesvolste bouler is. Die besoekers stuur 28 wydlopers en vier foutballe af.

Vir die Welwitschias lewer slegs Smit (34, 49b, 3x4, 1x6, geboul Loftie-Eaton), die aanvallende Groenewald (36 van 21b, 4x6, gestonk van Picky Ya France se boulwerk) en Allistair Gurirab (22 van 23b, 2x4, 1x6, geboul Tawanda Sithole) goeie spel met die kolf.

Die draaier-kombinasie Loftie-Eaton en Ya France is die Welwitschia-kolwers se tier en eis beide 4/33 in agt. Shikongo met 1/8 in vier en Sithole met 1/8 in 2.4 rond die gasheer se vertoning af.

Val van paaltjies

CCD: 1 Baard 68/1 ná 13.2, 2 Wilmot 87/2 ná 18.4, 3 Julius 106/3 ná 23, 4 Ya France 112/4 ná 25.3, 5 Raw 113/5 ná 26.1, 6 Sithole 120/6 ná 27.4, 7 Cloete 134/7 ná 30.3, 8 Shikongo 243/8 ná 40.4, 9 Loftie-Eaton 250/9 ná 41.5, 10 Bampton 250/10 ná 42.3.

Welwitschias: 1 Herridge 37/1 ná 6.5, 2 Van Lingen 49/2 ná 10.5, 3 Smit 57/3 ná 13.3, 4 De Gouveia 57/4 ná 13.4, 5 Strauss 94/5 ná 19.2, 6 Groenewald 102/6 ná 20.4, 7 Thierauch 102/7 ná 21, 8 Hlupo 102/8 ná 21.1, 9 Nuuyoma 103/9 ná 22.4, 10 Gurirab 133/10 ná 27.4.

WANDERERS ONTSNAP TEEN UNITED

By die Filistyne se tuisveld moes die Wit Hingste hard veg om ’n oorwinning te behaal.

United het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar kon slegs 144 lopies in 42.3 boulbeurte versamel.

Die kolwers wat dubbelsyfers behaal het, was Adam Bassingthwaighte (19 van 38b, gevang en geboul Karl Birkenstock), N. Nyasha (25 van 41b, 1x4, 1x6, gevang Ruben Claassen, geboul Birkenstock), Lo-han Louwrens (12 van 23, gevang Danie van Schoor, geboul Nicolaas Sholtz), T. Chiwara (19 van 23b, 2x6, gevang Niko Davin, geboul Birkenstock), André Siepker (20 van 50b, gevang Claassen, geboul Dewald Nell) en Hendrik van der Walt (21 van 56b, 1x6, gevang Niko Davin, geboul Van Schoor).

Vir Wanderers was Birkenstock (3/26 in 6) die beste bouler, gevolg deur Jan Frylinck (2/17 in 6.3), Nicolaas Scholtz (2/19 in 8), Van Schoor (1/20 in 5), Bernard Scholtz (1/20 in 10 met 3 leë bb) en Nell 1/35 in 6).

Die gasheer se boulers het absoluut puik begin en Wanderers se eerste drie kolwers is uit met net drie lopies op die telbord. Michau du Preez op nommer vier het egter sy kalmte gewys en hard gewerk om sy span se bootjie uit onstuimige waters te stuur.

Sy 46 van 88 aflewerings (2x6, 1x4, gevang Brendan Britten, geboul Louwrens) was opnuut ’n teken van dié jongman se waarde onder druk.

Birkenstock (18, 30b, 1x6, gevang Bassingthwaighte, geboul Louwrens), Claassen (36* van 37b,) en Nicolaas Scholtz (27* van 49b) bly kalm om met nege boulbeurte oor die wenlopies te slaan.

Die Filistyne se grootste boulangels was Dickson Vambe (2/12 in 6), Nyasha (2/31 in 10) en Louwrens (2/37 in 10). - [email protected]

Soortgelyk

 

Vrou woon in haar motor by hospitaal

6 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

6 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

6 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

6 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

6 ure gelede | Byvoegsels

Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes...

Hof kry Heritage Health voor stok

6 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die mediese fonds Heritage Health het 'n bloutjie in die hoërhof geloop nadat hy sy jaarlikse premies wou verhoog, maar dié stap...

'IEB in nuwe formaat is hier om te bly'

6 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die nuwe leerplan vir skole in Namibië wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-stelsel volg, is vergelykbaar met die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS)...

#Indigiwalk Namibia in die pyplyn

6 ure gelede |

Augetto Graig – Die pad na 'n beter wêreld is eensaam en lank en mnr. Craig (Q7) Beckett, 'n Suid-Afrikaanse Khoisan-jagter, geneser en menseregte-aktivis, sal...

‘Geen personeel betrokke by stropery’

6 ure gelede | Ministeries

Francoise Steynberg Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig dat geen van sy personeel by wildstropery betrokke was nie en stropery het...