Loervink pleit vir borgtog

Suid-Afrikaner verduidelik

25 April 2019 | Howe
Erwin Leuschner – “Ek is teleurgesteld in myself. Dit was skaamteloos en skandalig. Ek weet nie hoe om my twee dogters in die oë te kyk nie,” het ‘n tranerige mnr. Gavin Booth gister in die landdroshof op Swakopmund gesê.

Booth het tydens sy borgtogaansoek getuig en gesê die tronkstrafvonnis wat hy opgelê is, is te swaar.

Booth is op 19 Maart tot ‘n jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan huisbraak met die doel om crimen iniuria te pleeg.

Booth is daarvan aangekla dat hy foto’s geneem het van ‘n vroulike toeris wat besig is om te stort. Hy is danksy ‘n kringtelevisiebeeldmateriaal uitgeken.

Die video wys hoe Booth ‘n badkamervenster oopmaak, inloer en dan foto’s met sy selfoon neem. Ná sy skuldigbevinding het hy teen sy vonnis geappeleer.

Die beslissing sal eers oor “sowat ses maande” verwag word, derhalwe het Booth intussen ‘n formele borgtogaansoek van stapel gestuur.

Tydens gister se borgtogverhoor het hy getuig die foto’s wat hy geneem het, was dof en hy het dit onmiddellik uitgewis.

“Ek het impulsief opgetree, maar onmiddellik siek en teleurgesteld gevoel,” het hy gesê. Hy is tans in die tronk vir meer as vyf weke en is sedertdien “wedergebore” en het “God gevind”.

“Ek het ‘n nuwe hoofstuk in my lewe begin,” het Booth huilend gesê.

“Ek is in die tronk gedoop en woon byna elke diens by,” sê hy.

Booth, wat in Pretoria, Suid-Afrika woon, was ten tyde van die oortreding op ‘n werkverwante besoek aan Namibië.

Hy is ‘n uitvoer- en verkoopsbestuurder by Kärcher en is vir die hele Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-streek verantwoordelik.

Hy wil graag na sy werk in Suid-Afrika terugkeer sou hy borgtog kry en het beloof om tydens sy appèlverhoor in die hoërhof te wees.

“Sou die hoërhof besluit ek moet die res van my vonnis uitdien, sal ek dit sonder vrae doen,” het hy gesê.

Me. Blaine Carstens, besturende direkteur van Kärcher in Suid-Afrika, het ook gister vir Booth getuig.

“Sy optrede was heeltemal buite karakter. Hy is ‘n rolmodel vir die jong personeellede. Hy is betyds, betroubaar en sou hy in die tronk bly, sal dit die hele maatskappy negatief beïnvloed,” het Carstens gesê.

Tydens kruisondervraging het staatsaanklaer Latoya Katjitundu gesê Booth het “geen kans op ‘n suksesvolle appèl in die hoërhof nie”.

“Jy het baie lig daarvan afgekom. Huisbraak is ‘n ernstige oortreding en langer tronkstrawwe word daarvoor opgelê,” het sy gesê.

Volgens haar was die hof baie “toegeeflik” en indien Booth borgtog kry, sou hy homself maklik uit die voete kon maak omdat hy geen familie of besittings in Namibië het nie.

“Ek sal nie vlug nie. Ek is ‘n eerbare man en hou by my woord,” het Booth geantwoord.

Booth word deur mnr. Marinus Scholtz verteenwoordig.

Die saak duur vandag voor landdros Nelao Brown voort.

Soortgelyk

 

Hanse-Himarwa se getuienis vals, sê hof

7 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Nadat die hof al die getuienis in ag geneem het, is die enigste gevolgtrekking die staat het bo redelike twyfel bewys Katrina...

Katrina se toekoms duister

7 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Teen gistermiddag was pres. Hage Geingob nog stil oor een van sy kabinetsministers wat aan korrupsie skuldig bevind is.Katrina Hanse-Himarwa, die minister...

Jessné struts her stuff

7 ure gelede | Mense

Mariselle Stofberg Even though Jessné Swart is only in grade 5, she has already made a name for herself in the modelling industry. Her love...

Weer vir 9 Julie 2019

7 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Ooswindtoestande sal oor die kus vir die res van die week heers, asook stofstorms op plekke.BINNELAND: Koud aanvanklik, andersins mooi weer en warm tot...

Eenjarige brand in sinkhuis dood

7 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause – Twee mense het die afgelope naweek doodgebrand toe hul sinkhuise aan die brand geslaan het. Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het...

Bekentenis was glo vrywillig

7 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner op Swakomund – Mnr. Ernst Lichtenstrasser, wat van die moorde op mnre. Eckhart Mueller en Heimo Hellwig aangekla is, was ten tyde van...

Dragtige ietermagô uit drom gered

7 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - ’n Ietermagô wat dae lank in ’n brandstofdrom gelos is, se verhaal het ’n gelukkige einde.Volgens me. Maria Diekmann, van die Rare...

Pasgebore baba sterf ná val

7 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht - Die Engela-hospitaal in die Ohangwenastreek word van nalatigheid aangekla nadat ’n baba by geboorte op die grond geval en onmiddellik gesterf het.Die...

Interns by staatshospitale uitgeplaas

7 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht - ’n Totaal van 131 leerlingdokters is by verskeie hospitale oraloor die land uitgeplaas om met hul internskap van twee jaar te begin....