Lin-Mari, ons nuwe goue stem

'Ek kan nie my lewe sonder musiek indink nie

19 October 2021 | Kuns en vermaak
Yandi du Plessis – Vanjaar se soektog na die land se beste sangstem het op 9 Oktober tot 'n einde gekom toe die 20-jarige Lin-Mari Coetzee as die wenner van die vierde seisoen van die Voice of Namibia-sangkompetisie aangekondig is.

“Ek het dit regtig glad nie verwag nie! Ek het nog 'n rukkie bly staan, want ek het nie besef hulle het regtig my naam gesê nie. Ek was heel in skok en vol emosie,” vertel die boorling van Swakopmund oor die oomblik toe sy as die nuwe stem van Namibië gekroon is.

Sy vertel sy het nie eens verwag om die topdrie te haal nie.

“Dit was net ongelooflik. Dit het 'n tydjie gevat om in te sink, maar ek sal die oomblik nooit vergeet nie. Almal het so baie talent en soveel passie vir musiek gehad, so niemand kon eens raai wie hulle dínk sou wen nie. Dit was regtig 'n groot verrassing en ongelooflike gevoel!”

Lin-Mari sê sy het haarself nooit as 'n vermaaklikheidspersoonlikheid gesien nie. Maar toe sy vir die eerste keer in 2020 aan Voice of Namibia deelgeneem en tweede geëindig het, het sy 'n nuwe faset van haarself ontdek. “Dit het my uit my dop laat kruip en toe ek begin optree, was ek gaande daaroor.”

'n Definitiewe hoogtepunt in haar sangloopbaan, behalwe natuurlik dié nuwe toekenning, was om haar eerste enkelsnit “The Fool” op 20 Augustus uit te reik. Sy het glo dié liedjie binne tien minute geskryf.

Sy het destyds vertel die snit handel oor die oogklappe van die liefde. “Dis 'n wonderlike gevoel om 'n storie met my musiek te kan vertel en dit dan met die wêreld te deel. Ek is eintlik 'n liedjieskrywer – dít is my groot liefde.

“Ek het baie liedjies wat ek nog wil opneem en vrystel! Dié een was veral spesiaal, want dit is die eerste liedjie wat ek op kitaarklanke geskryf het,” vertel die jong sangeres wat al sedert haar kinderdae klavier speel. “Dit was iets heel nuuts vir my.”

Musiek is nog altyd 'n onvervangbare deel van haar lewe, en sy is in haar element wanneer sy agter die klavier inskuif of besig is om nuwe lirieke neer te pen. Haar ma is 'n kranige pianis wat haar geïnspireer het om haar eie musiektalent te ontwikkel.

Op skool het sy ook baie gedigte geskryf en het een dag besluit om haar passie vir poësie en klavier saam te voeg. Nét daar is die liedjieskrywer in haar gebore.

“Ek dink musiek is so ongelooflik, want jy kan ander mense iets laat voel met die melodie of met die woorde. Musiek is eindeloos – daar is iets vir almal, en dít is wat dit vir my so spesiaal maak. Elke mens het 'n gunstelingliedjie of iets waarmee hulle kan connect. Ek kan nie my lewe sonder musiek indink nie.”

Haar musieksmaak strek oor 'n breë spektrum, vertel sy. “Ek hou van kunstenaars soos Beth Hart, 'n blues-sangeres, The 1975 en van classics soos Bon Jovi. Ek hou van musiek wat my iets laat voel en ek hoop dít is wat my musiek aan ander mense doen.” Sy wil “eerlike” musiek skryf – musiek wat hopelik “praat met dié wat luister”.



NUWE TITEL

Lin-Mari hoop haar nuwe Voice of Namibia-titel kan nuwe, ­opwindende geleenthede oor haar pad bring. Sy beplan om nuwe musiek op te neem en vanjaar nog twee enkelsnitte uit te reik.

“Ek wil hê my musiek moet by soveel mense as moontlik uitkom en dat hulle my stories kan hoor.”

Die prysgeld wat sy ontvang het, is die kersie op die koek van dié ongelooflike mylpaal, en sy gaan dit in haar musiek­loopbaan belê deur al die musiek op te neem wat sy kan en dalk selfs 'n musiekvideo te maak.

Lin-Mari is in Swakopmund gebore en het haar lewe lank daar gebly. Sy was min of meer 'n jaar lank in La Rochelle-meisieskool in die Wes-Kaap, maar het gou weer teruggekeer omdat sy te veel na haar “tuisdorpie” verlang het.

Daarna het sy haar skoolloopbaan by die Duitse privaatskool in Swakopmund voltooi. Sy vertel hoewel sy Afrikaans is, het sy baie Duits grootgeword.

Benewens haar ontluikende sangloopbaan, is Lin-Mari ook tans 'n regstudent aan die Universiteit van Namibië (Unam), wat sy baie geniet.

“Ek dink regte en musiek deel 'n ontmoetingspunt. In albei probeer jy mense van jou siening oortuig,” het sy in Augustus in 'n onderhoud met Erongo gesê.

Musiek is vir haar 'n manier om haar ­gedagtes 'n blaaskans van al die werk te gee. “Ek het 'n goeie balans gevind.”

Volgens Alinda Lu'Mar, die stigter en eienaar van Voice of Namibia, is die doel van dié sangkompetisie om 'n platform te bied om ­sangtalent in Namibië op 'n prestige vlak te ontdek. Sy sê dit lewer al sedert die instelling in 2018 verstommende resultate. Die kompetisie gee aan opkomende plaaslike sangers die geleentheid om hul vokale vermoëns ten toon te stel, en groei steeds elke jaar.

– [email protected]

Soortgelyk

 

Namibiër by Oxford vereer vir doktorale proefskrif oor waterrregte

1 uur gelede | Onderwys

Ronelle Rademeyer - ‘n Namibiër wat aan die Universiteit van Oxford in Engeland in die regte studeer het, is met die Dr. Surya Subedi-prys vir...

130 nuwe gevalle, meeste in Windhoek

21 ure gelede | Gesondheid

Gister is 130 nuwe gevalle aangemeld, 'n positiewe koers van 8,4%. Die meeste (97) is in Windhoek aangeteken. Die nuwe gevalle sluit 13 studente, 11...

Uitstel van eksamens: Integriteit van eksamen, kwalifikasie moet beskerm...

1 dag gelede | Onderwys

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sê dit het 'n wettige kontrak met Cambridge International om te verseker dat kredietwaardige eksamens geskryf word wat...

Styging van 56% in nuwe gevalle, 184 gister aangemeld

1 dag gelede | Gesondheid

Gister is 184 nuwe gevalle aangemeld, 'n positiewe koers van 3,9% en 56% meer as die vorige dag. Die meeste gevalle is in Windhoek en...

Veldbrande woed al tien dae

2 dae gelede | Ongelukke

Tanja Bause’n Groot aantal beeste loop langs distrikspaaie noordoos van Windhoek waar verwoestende veldbrande boere tussen Steinhausen en Omitara genoop het om grensdrade te knip...

‘Voltooi vanjaar se eksamen’

2 dae gelede | Ministeries

Henriette LamprechtSkryf die vraestelle wat moontlik is vóór die einde van die jaar met nuwe vraestelle in die plek van dié wat uitgelek het, identifiseer...

Oscar-benoeming dalk in ‘The White Line’ se visier

2 dae gelede | Byvoegsels

Die plaaslike rolprent The White Line is amptelik in die wedloop om oorweeg te word vir ’n moontlike Oscar-benoeming. Dit is die eerste Namibiese rolprent...

Voortrekkers trap vir renosters

2 dae gelede | Byvoegsels

Karli RudolphDie Voortrekkers vier vanjaar hul 90ste bestaansjaar met die tema “Voortrekkers gaan groot”. Die Namibiese Voortrekkers het daarom besluit om hul eie span vir...

V5 Digital a forerunner in digital solutions

2 dae gelede | Tegnologie

Iréne-Mari van der WaltMore than three years ago, Armin Wieland founded his business, V5 Digital, after noticing that there was a lack of companies in...