Lid van 1988-legendespan sterf
Lid van 1988-legendespan sterf

Lid van 1988-legendespan sterf

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die voormalige Suidwes-haker Chris du Toit is Woensdag op 58-jarige leeftyd oorlede op Delmas in Mpumalanga, waar hy afgetree was.

Du Toit het in 1987 as lid van die Suid-Afrikaanse weermag in die destydse Suidwes aangekom en dit het nie lank geneem voordat die afrigters van hom kennis geneem het nie. Hy het nie familiebande gehad met die drie rugbyspelende broers van daardie era – Sarel, Tinie en Jan du Toit – nie.

Hoewel Chris du Toit destyds met hakers soos Eben Beukes en Stephan Smith meegeding het, het hy in ’n era van sterk provinsiale mededinging ’n gerekende loopbaan opgebou in skaars twee seisoene hier.

Dit was die era lank voordat reserwebanke sewe of agt spelers bevat het. Rugbyspanne het meestal net twee reserwes gehad, wat gewoonlik ook net opgestuur is wanneer ’n beginspeler behoorlik kruppel met ’n besering was.

So was Du Toit byvoorbeeld ’n reserwe in die 1988-wedstryd op Nuweland, toe Suidwes met 24-21 teen Carel du Plessis se Westelike Provinsie-span aan die wenkant was. Die SWA-span het daardie seisoen oorwinnings teen elke opponent behalwe Noord-Transvaal behaal op hul pad na die derde posisie in die Curriebeker.

“Chris was ’n grapjas en ’n ywerige storieverteller. By partytjies was hy die ‘main konyn’, ’n allemansvriend,” vertel Sarel Losper, agtsteman van die destydse span wat ’n langer loopbaan op die topvlak as die meeste van sy tydgenote gehad het.

Losper sê Du Toit se liggaamlike krag, veral in sy nek en bolyf, het ’n spanmaat soos André Stoop genoop om hom “Kopborsstuk” te doop.

“Chris het planne gehad om laasjaar in Namibië te kom kuier, maar dit het toe nie uitgewerk nie. Hy het die laaste tyd siek geraak en glo omtrent 52 kg van sy liggaamsgewig verloor.”

In huldeblyke op sosiale media het oudlede van die SA weermag ook sy liggaamlike krag uitgewys en hoedat hy as stafsersant hulle laat klippe kou het tydens opleiding.

Wally Bredenhann, oudkaptein van Suidwes, sê hy kan getuig van Du Toit se skrumkrag nadat hy ’n nekbesering opgedoen het in ’n tweede wedstryd binne ’n week tussen sy klub Polisie en Weermag in 1987, Bredenhann se laaste seisoen as speler.

- [email protected]


FOTO
Chris du Toit kry sy aangee weg teen Paraguay tydens Suidwes se toer na Suid-Amerika in 1988. Foto’s Facebook

Kommentaar

Republikein 2024-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Brighton 0 vs 4 Manchester City | Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth LaLiga: Real Sociedad 0 vs 1 Real Madrid SerieA: Frosinone 3 vs 0 Salernitana | Udinese 1 vs 2 AS Roma European Championships Qualifying: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City English Championship: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City Katima Mulilo: 16° | 33° Rundu: 16° | 33° Eenhana: 16° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 32° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 18° | 30° Henties Bay: 15° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:03, High tide: 05:02, Low Tide: 23:14, High tide: 17:32 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 05:00, Low Tide: 23:12, High tide: 17:30 Walvis Bay: 16° | 26° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 04:59, Low Tide: 23:12, High tide: 17:29 Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 20° | 34° Keetmanshoop: 22° | 34° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 35° Oranjemund: 17° | 30° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 27° Lubumbashi: 11° | 25° Mbabane: 13° | 17° Maseru: 9° | 23° Antananarivo: 14° | 27° Lilongwe: 14° | 26° Maputo: 18° | 25° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 15° | 27° Durban: 17° | 22° Johannesburg: 15° | 23° Dar es Salaam: 23° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 14° | 26° #N/A #N/A