Leeujagter kan hom vasloop
Des Erasmus
'n Applousgans van die Palmwag-geweste in Damaraland kan kniediep in die moeilikheid beland weens sy spogpraatjies dat hy twee leeus doodgeskiet het.
Die name en besonderhede van die beweerde onwettige jagter en sy ewe bekkige handlanger is aan die owerheid bekend. 'n Beweerde voorval Maandag het weer die erns van die konfliksituasie tussen mens en dier naby Palmwag as gewilde toeristebestemming beklemtoon. Die betrokke leeujagter wie se naam aan die voorval gekoppel word, moes die afgelope weke ook verantwoording doen vir sekere transaksies met vee waarvoor hy glo nie die nodige permitte kon toon nie.
Nog 'n onskuldige rolspeler in die omstrede jagtog is 'n nederige beeswagter wat Maandagmiddag met 'n trop beeste na krale vir die nag getrek het. By Palmpos, 'n voorpos van Palmwag, het hy op leeuspore oor die beesspore afgekom. Sy kudde beeste het dieselfde tyd weggehardloop. Die wagter het glo boere van die omgewing ingelig oor die bewegings van die leeus. Dit was toe dat die beweerde jagter na vore getree het en die twee leeus geskiet het.
Die voorval volg op inligtingsessies deur amptenare van die ministerie van die omgewing en toerisme waar nomade gewaarsku is dat leeus 'n beskermde spesie is. Wanneer leeus voor die voet geskiet of vergiftig word, kan ingevolge die wet teen hulle opgetree word. 'n Vereiste is dat probleemleeus eers by die ministerie aangemeld moet word sodat daar dan oor optrede besluit kan word.
Op die toneel is vasgestel die beeste het tot by die hek van veeartsenydienste by Palmwag gehardloop. Deur die loop van die nag is die gebrul van leeus ook tot gisteroggend gehoor.
Die voorval het hom afgespeel nadat die mens-dier-konflik die afgelope tyd aansienlik afgeneem het, blykbaar te danke aan skadunet wat deur die Desert Lions Human Relations Aid (Delhra) by krale aangebring was. Nou wil dit voorkom asof leeus toenemend beestroppe op paaie na krale voorlê.
Leeubewaring kan ook op dié gebied 'n treetjie voor wees met die aanbring van satelliettoerusting, maar dit ontbreek nog. Sonder nekbande kan die bewegings van leeus nie gemonitor word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie