‘Jy beter by die huis bly’

Landswye inperking op pad

26 March 2020 | Gesondheid
Denver Kisting – ’n Landswye inperking is vir Namibië in die vooruitsig in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in die kiem te smoor.

So sê dr. Bernard Haufiku, die voormalige minister van gesondheid en maatskaplike dienste wat tans aan die spits staan van pres. Hage Geingob se Covid-19-taakspan.

Trouens, het Haufiku laat gistermiddag in ’n onderhoud gesê, sommige lede van die tegniese komitee wou hê ’n landswye inperking moet uit die staanspoor geld.

Haufiku sê dié maatreël hou egter talle logistieke uitdagings in. Boonop is daar in hierdie stadium nog geen bevestigde geval van die coronavirus in die Noorde van die land aangemeld nie.

“Dit beteken nie daar is nie ’n geval nie, maar ons het (nog) nie (een nie).”

Volgens hom is die hoop met die inperking van die Khomas- en die Erongostreek dat die verspreiding van die virus gerem kan word.

Die besluit om dié twee streke te hok, is omdat Khomas die ekonomiese hoofstad is en daar die meeste interaksie tussen dié twee streke is, sê hy.

Haufiku sê padblokkades gaan oraloor op teer- en grondpaaie wat van en na die streke lei, opgerig word.

Omdat baie mense vir werk tussen die hoofstad en Okahandja en Rehoboth onderskeidelik pendel, gaan dié twee dorpe van onderskeidelik die Otjozondjupa- en Hardapstreek by Khomas ingesluit word, sê hy.

Die twee streke gaan “grootliks gesluit wees vir die publiek soos per gewone, normale lewe”.

Uitsonderings sal geld vir noodsaaklike en kritieke dienste.

Haufiku sê enige dienste of goedere wat met die lewering van gesondheid, kos, water en krag verband hou, word as noodsaaklik geag en uitgesluit.

Die media, ambulans-, brandweer- en verwante dienste geld ook as uitsonderings, sê hy.

Volgens hom word die media uitgesluit omdat “die media daar is om ons boodskap te versprei. As jy hulle keer om te werk, verminder jy die kanse op sukses (om die virusverspreiding te stuit).”

Mense uit ander streke wat operasies moet ondergaan tydens die inhoktydperk sal net magtiging kry om na en van die twee streke te reis indien dit ’n kritiese operasie behels wat nie uitgestel kan word nie, sê Haufiku.

Sulke pasiënte moet vooraf met hul dokter en die polisie reëlings tref om ’n magtigingsdokument te bekom wat by padblokkades getoon sal word, sê hy.

Op ’n vraag oor of besighede aanhou mag sake bedryf, sê hy: “Die fokus is nie regtig op sake nie – dit is op die aantal mense op ’n gegewe plek en hoe hulle met mekaar omgaan.”

Sommige nywerhede sal sukkel om met ’n klein aantal mense aan te gaan, terwyl ander se tipe besigheid dalk makliker is om te bestuur, meen hy. “Konstruksie is moeilik om te beheer.”

Hy gee toe “logisties word dit so moeilik” om sakebedrywighede te beheer. “As jy met volle mag en krag ingaan en niks toelaat nie, het jy ’n beter kans op sukses. Jy beter by die huis bly. Die risiko is hoër as jy nie toemaak nie (shut down).”

Hy verwag spoedig ’n aankondiging van die prokureur-generaal, mnr. Festus Mbandeka, oor hoe dié spesifieke situasies hanteer sal word.

Haufiku sê mense in informele nedersettings is meer uitgelewer. “Enigiemand wat vasgekeer is in armoede, is aan enige siektes uitgelewer. Dit is ’n aaklige situasie om in te wees.”

Dit is ook hoekom Khomas eerste gehok word, sê hy. Indien die virus informele nedersettings tref, “is dit ’n inferno, ek sê vir jou”.

Haufiku erken daar heer steeds verwarring oor die praktiese reëlings rondom die inperkingsbevel. Hy sê hulle werk tans aan die vestiging van ’n sentrale punt van waar inligting verwerk en verprei kan word.

Namibië het teen gisteraand steeds sewe bevestigde gevalle van Covid-19 aangemeld.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Geld rol vir ramp

3 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Die regering se N$8-miljardvoorskrif teen die ekonomie se Covid-koors is gister deur ekonome verwelkom, veral omdat dit amptelik as die eerste fase...

Baba jongste Covid-19-geval

3 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - ’n Nege maande oue baba is saam met sy pa die nuutste twee gevalle van Covid-19 in Namibië. Dit bring die nasionale...

Só werk landbou in inperkingstyd

3 ure gelede | Landbou

Elvira Hattingh - Tydens die inperkingstyd mag naweekboere nie heen en weer vanaf hul plase en wonings in dorpe beweeg nie. Voltydse boere en plaaswerkers...

NMH skenk toerusting, kospakkies vir padblokkades

3 ure gelede | Gesondheid

In ’n poging om die vinnige vloei van noodsaaklike vragverkeer by die vier padblokkades na die Khomasstreek te bewerkstellig, het Namibia Media Holdings (NMH) gister...

Noodtoestand: ‘Niks is normaal’

3 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê Namibiërs bevind hulle midde-in ’n buitengewone situasie. “Ons is in ’n noodtoestand. So, niks...

Weer vir 2 April 2020

3 ure gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie warm in die Weste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie in die...

Pandemie slaan toerismebedryf hard

3 ure gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Die toerismebedryf gaan heel waarskynlik die hardste deur die Covid-19-pandemie getref word. Só sê die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië...

Fishrot-hokaairoeper glo gedreig, vergiftig

3 ure gelede | Misdaad

Catherine Sasman – Mnr. Jóhannes Stefánsson, hokaairoeper in die internasionale korrupsieskandaal, oftewel die Fishrot-sage, het aan Yslandse verslaggewers gesê hy is al verskeie kere vergiftig...

Fitch gradeer SA banke verder in rommel in

3 ure gelede | Afrika

Nellie Brand-Jonker - Fitch het die vyf groot banke van Suid-Afrika naamlik Absa, FirstRand, Investec, Nedbank en Standard Bank verder in rommel afgradeer.Alle nasionale langtermyngraderings...