Landbou verloor sy geliefde dr. Archie

13 January 2021 | Landbou
Ronelle Rademeyer – Die dogter van die dieregesondheidskenner en afgetrede veearts dr. Archie Norval (76) wat vroeg Maandagoggend ná twee hartaanvalle op sy plaas Licabettus naby Stampriet dood is, sê haar pa het “met 'n big bang gegaan”.

“Ons het 'n wonderlike gesinsvakansie op Terracebaai agter die blad. Hy het al sy kinders en kleinkinders gesien en was op 'n goeie voet met almal, én sy plaas is grasgroen,” sê me. Madelein Norval-Lubbe (46), een van sy drie kinders.

Norval het 36 jaar as veearts in Namibië gewerk en was ten tye van sy dood visevoorsitter van die Vleisraad, voorsitter van die FANMeat-komitee en visevoorsitter van dié raad se dieregesondheidskomitee.

Madelein sê haar pa het omstreeks halfelf Sondagaand die eerste hartaanval gehad. “Die paaie op ons plaas is vreeslik verspoel; die plaas is eintlik omring met water,” vertel sy.

Sy sê haar ma, Limmie (70), het noodbehandeling toegepas en wou wag vir daglig om hom dokter toe te neem, maar toe het hy kort ná drieuur Maandag­oggend 'n tweede, fatale hartaanval gehad.

“Wat vir ons so hartseer is, is dat my ma en pa op 9 April vanjaar hul 50ste huweliksherdenking sou vier,” sê Madelein.

Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad, sê hulle paaie het “lange jare” gelede gekruis. “Dit was voor onafhanklikwording toe ek begin het by die landboulaboratorium en hy na veeartseny se hoofkantoor gekom het, waar hy later die hoof was.

“In sy tyd het dit baie goed gegaan met dieresiektebeheer in die land. Selfs in die Noorde het hy probeer om 'n wesentlike bydrae te maak om die dieregesondheidstatus te verhoog, maar die oorgrensbeweging van diere uit Angola was maar altyd 'n probleem.

“Hy was 'n dierbare mens. En hy was 'n goeie klankbord; vir my persoonlik, maar ook vir ander. Ons kon goed bespreek en beredeneer, al het ons verskil,” sê Strydom.

Norval was tot 2004 met sy aftrede verantwoordelik vir dieresiektebeheer in die land. In 2014 het hy raadslid van die Vleisraad geword en het sy rol ook na dierebemarking uitgekring, vertel Strydom.

Wat die FANMeat-stelsel betref, sê hy Norval het dit na nuwe hoogtes gevoer deur die proses van naspeurbaarheid meer prakties te maak en aanlyn funksies vir boere in te stel om die integriteit van die stelsel te verbeter.

Me. Patricia Gurubes, voorsitter van die Vleisraad, sê Norval het met ongelooflike persoonlikheid en uitgebreide ervaring van die vleis­bedryf, veral op die gebied van dieresiektebeheer, asook sy buitengewone insig waardevolle bydraes tot die groei van die Namibiese vleisbedryf gelewer.

Norval laat benewens sy vrou en Madelein, ook sy dogter Jackie (48), sy seun James (41), sy skoonseuns en -dogter en sy sewe kleinkinders agter.

Vanweë die Covid-regulasies sal 'n private verassing gehou word waarna die familie sy as op die plaas gaan strooi.

Madelein sê 'n gedenkdiens sal later gehou word.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Nege sterftes, 307 nuwe gevalle

12 ure gelede | Gesondheid

Nege nuwe Covid-19-verwante sterftes het die getal vir Namibië sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie in Maart verlede tot 328 opgestoot. Dit sluit vier in...

Hof sal later sê of Shoprite bevel geminag het

14 ure gelede | Howe

Regter Collins Parker sal op 15 Februarie 2021 uitspraak lewer in die teenaansoek deur die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) teen Shoprite...

Eloïse bring dalk storms

18 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Die tropiese depressie, of dit wat oorgebly het van wat aanvanklik sikloon Eloïse was, kan vanaf môre vir kwaai storms in Namibië...

Swakoppoortdam loop oor

1 dag gelede | Weer

Die Swakoppoortdam, een van die drie damme wat ook vir Windhoek van water voorsien, het gister begin oorloop. Volgens die NamWater se damverslag van gister...

Voorvaderlike eise: Alle grond benut

1 dag gelede |

Mathias Haufiku en Ogone TlhageDaar is tans geen oop grond in Namibië beskikbaar nie aangesien alles benut word. Die Kommissie van Ondersoek na Voorvaderlike Grondregte...

Woestynrivier laat lóóp

1 dag gelede | Weer

Mnr. Joseph Kafunda het Sondag die Kuisebrivier in volle vloed by die Kuiseb-brug op die C14-pad afgeneem. Sy foto’s is op die Facebook-blad, Reën in...

Noorde: Té nat én té droog

1 dag gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl boere in Namibië se Mieliedriehoek reeds drie weke lank wag dat die reën hulle net ’n paar dae kans moet gee...

Making the art of painting look easy

1 dag gelede | Mense

Enzo AmueleBorn in the early ’90s, the cool and calm Nambowa Malua has been drawing since he was a child and has made art look...

Shoprite steeds in die hof

1 dag gelede | Arbeid

Augetto Graig en Elvira HattinghDie staking by Shoprite is ná meer as ’n maand verby, maar die hofgeveg wat daaruit gespruit het, woed opnuut vanoggend...