Landbou en ekonomiese herskikking

15 September 2020 | Landbou
Dr. Kobus Laubscher



Namate die ekonomie begin stabiliseer soos die land deur die verskillende vlakke van die inperking beweeg, is daar met reg kommer oor die beplanning van dié herskikking.

Landbou se rol in die ekonomiese herskikking is van onbetwisbare belang, trouens, daarsonder sal die pasiënt sonder een van sy krukke moet klaarkom, al is albei sy knieë spreekwoordelik lam!

Daar is 'n meesterplan op die tafel, maar dié dreig om vroeg-vroeg te ontspoor omdat belangrike kragte binne die sektor nie volledig genoeg verreken word nie.

Die staat kan nie die heropbouing alleen aanpak nie. Daar waar die private sektor wil saamwerk, geld voorskrifte wat hulle laat wegskram. Dit is byvoorbeeld algemene kennis dat die meeste ingrype vanaf regeringskant as gevolg van 'n klomp redes hopeloos gefaal het, maar nogtans bly die betrokke departemente tegnies in die pad van wat redelikerwys gedoen moet word.



DIE MAG VAN DIE SWAARD

Vorige strategiese beplannings se begrotingsbesteding het telkens doelwitte gemis. Die implementering van planne is en was deurspek met onbeholpenheid, maar is afgedwing deur middel van die mag van die swaard – die staat het in vele opsigte deur middel van wette en regulasies uitkomste probeer rig, sonder om die teiken te tref.

Vir talle in die ontluikende landboubedryf is hul drome in ellende gedompel. Daardie planne kon in die meeste gevalle nie naastenby die uitdagings oorkom nie.

Om onder omstandighede van beperkende fiskale vermoë dieselfde planne te wil afstof vir implementering tydens die pandemie, grens aan kriminaliteit. Ons weet dat die meeste departemente al in die laaste kwartaal van die finansiële jaar nie eers oor genoeg geld beskik het om te reis nie.

Noodsaaklike dienste is gewoon ingekort en amptenare was vasgekluister agter hul lessenaars.

Om dié toedrag van sake te beskryf, het 'n boer opgemerk dat daardie amptenare wat so moet sit (en dus nie plase kan besoek nie) op “volspoed” is wat hulpverlening betref.

Dit is tragies en om van te ween, sou dieselfde boer opmerk wanneer hy telkens met leë hande die pad terug na 'n bankrot plaas moet vat. Bygesê, hy het aanvanklik op die plaas danksy staatshulp beland, maar is sedertdien aan sy eie lot oorgelaat sonder die nodige bedryfskapitaal en voorligting.



REËNDANS

Die situasie vergelyk met die waarde wat voorgeslagte aan die sogenaamde reëndanse geheg het.

Die feit dat dit tydens of ná sulke danse gereën het, was dalk bloot toevallig, maar het die idee geskep dat die dansers van voldoende watervoorsiening in beheer was.

Geen reëndans gaan egter dié keer werk nie, want die klem het verskuif.

Tot op hede is maatskappye by wyse van beïnvloeding (Engels: lobbying) strategies deur hul leiers gerig met die fokus op die bestuur van die waar­skynlike. In so 'n proses word probleme en uitdagings aan die hand van sogenaamde standaardprosedures oorweeg.

Nuwe probleme is tegnies en dikwels deur veral goeie finansiële ingenieurswese, afgebreek om die toepassing van vorige oplossings te regverdig. Goeie leierskap is beskou as die vermoë om te weet waarheen die onderneming gelei moet word – bykans soos om heldersiende te wees.

Scenario's word ontwikkel aan die hand van al hoe meer komplekse modelle en te midde van baie onsekerheid. Volgens sekere denkskole het dit skynbaar stabiliteit tot gevolg gehad.

Aanhangers van dié filosofieë het egter skeppende denke ingeperk en wanneer besluit is op die sogenaamde “regte strategie”, het implementering te dikwels tot verspilde energie gelei. Daar moes baie oorreding gedoen word om almal te laat glo so 'n instansie is op koers.

Wat egter nou nodig is, is dat leiers op die moontlike fokus. Om dit te laat werk, moet daar ánderste en méér vrae gevra word.

Ons het dikwels by moontlike oplossings verbygekyk omdat alle tersaaklike moontlikhede nie behoorlik beredeneer is nie.

Die uitgangspunt was om die probleem te panel beat totdat dit op 'n antwoord uitloop.

Wat nou nodig is, is om alternatiewe te ontwikkel. Hieruit moet ons kies sodat ons kan bereik wat dalk tot nou toe as die onmoontlike beskou is.

Soortgelyk

 

Min kans vir vlieg na SA

1 uur gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer - Hoewel Suid-Afrika Donderdag sy grense vir besoekers uit goedgekeurde lande, waaronder Namibië, heropen, moet Namibiërs vir eers verlief neem met die feit...

Remaining powerful through education

1 uur gelede | Mense

Ester Kamati With a key interest in space science and the history of science, watching videos on these topics is Hosea Hashili’s favourite pastime. Hasili...

Weer, Dinsdag 29 September 2020

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm, maar baie warm in die Noorde. Enkele wolke sal na verwagting oor die Zambezistreek voorkom.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

Vroeggebore tweeling sterk goed aan

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Twee maande nadat hulle te vroeg op 27 weke in die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek gebore is, kan die ouers...

Nuwe Fenata-voorsitter vanuit ontluikende toerismebedryf

1 uur gelede | Toerisme

Francoise Steynberg - Geskiedenis is gemaak toe die nuwe voorsitter van die Namibiese Toerismevereniging (Fenata), me. Netumbo Nashandi, vir die eerste keer uit die geledere...

Onopgeloste verdwynings, moorde stapel op

1 uur gelede | Misdaad

Ellanie Smit – Terwyl die familie van die 22-jarige me. Shannon Darlikie Wasserfall met die trauma van haar verdwyning ses maande gelede worstel, dreig die...

One ­Africa TV ­partners with NMH

1 uur gelede | Onderwys

Distributed through Namibia Media Holdings' (NMH) youth brand, My Zone, the newly added grade zero to seven lessons form part of a ­collaboration with the...

A look at National Readathon, Heritage Week

1 uur gelede | Onderwys

Enzo AmueleThe National Readathon and Heritage Week, which were launched by the minister of education, arts and culture Ester Nghipondoka, took place last week.The Readathon...

Dagboek vir die landbouer

1 uur gelede | Landbou

Agra ProVision se kursusseAgra ProVision bied van 5 tot 8 Oktober 'n kursus oor plaasbestuur in Windhoek aan en daarna van 6 tot 8 Oktober...