Kyk saam na finale, waar jy ook al is

Sportmedia
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Komende Saterdag se drie eindstryde van die Namibië Rugby-unie (NRU) se eerste liga, reserweliga en premierliga sal regstreeks op die Facebook-blad van Republikein gebeeldsend word.

Vir dié produksie deur NMH Events sal soos gebruiklik ’n stewige spannetjie werknemers van Namibia Media Holdings voor én agter die skerms werksaam wees.

Die maatskappy het hom die afgelope jare – selfs voordat die Covid-19-pandemie so ’n groot demper op toeskouers se bywoning van sportgeleenthede geplaas het – reeds op regstreekse beeldsending van sport- en ander geleenthede begin toespits.

Skolesport soos die Momentum-rugbyligas, interhoërbyeenkomste of die Gravity Cup; dekking van die afgelope jare se Nedbank Desert Dash bergfietsritte tussen Windhoek en Swakopmund asook die eindrondes van netbal- en hokkieligas is ook aan kykers gebring, ongeag waar in die wêreld hulle mag wees.

Verdere belegging in opleiding en behoorlike toerusting vir die uitsaaibedryf, asook die opgeboude ondervinding oor die afgelope jare, het NMH in staat gestel om die gehalte van sy produksie algaande te verhoog.

In die proses is ook reise na bestemmings buite die hoofstad aangepak – soos die Woestynfees van skolesport op Walvisbaai, en die klubrugbywedstryde in Rehoboth en Grootfontein vroeër vanjaar.

DIE SPAN

Deeglike beplanning en ’n ware spanpoging voor én agter die kameras is nodig om so ’n produksie vlot te laat verloop en om flaters te vermy wat maklik die kyker se ondervinding kan bederf.

Dani Booysen, die redakteur van Republikein, was in die afgelope weke se uitsendings van die klubrugby meestal ons aanbieder voor die kameras. Die stem van ons kommentator Fanie Cronjé, die bekende afslaer, sal ook bekend wees aan diegene wat tevore na enige van ons uitsendings gekyk het.

Agter die skerms is egter die grootste deel van die span wat die onontbeerlike rolle vervul. Drie lede word toegeken om elkeen ’n kamera te beman wat hopelik die beste moontlike kykershoek kan bied namate die spel oor die veld beweeg.

’n “Geheime wapen” is die hommeltuie (meestal een, soms twee) wat die kamerahoek vanuit die hoogte op die speelveld bied. Hiervoor is uiteraard ook een (of twee) kundige operateurs nodig.

Nog een se taak is om die telbord in die hoek van die kyker se skerm tydig op datum te hou.

Vir die grafiese ontwerper moet die meeste van sy werk reeds voor die wedstryd klaar wees, om seker te maak dat van die voorbereide inligting oor die wedstryd kykbaar aangebied word.

Nog ’n hand is nodig om ons sosialemediabladsye met die nuutste verwikkelinge op datum te hou en ook op gegewe tye van die aksiefoto’s te publiseer wat deurentyd deur die aangewese fotograaf langs die veld geneem word.

Binne-in ons mobiele ateljee – en verskoon maar die gebruik van die meer algemeen bekende Engelse terminologie – werk mense soos die “mixer” en die “boxer”, wat op die regte oomblikke die inkomende beeld van verskillende kameras moet kies wat vertoon moet word, of wat insetsels soos die naam van die persoon in beeld of ander inligting moet invoeg.

Twee tegniese personneellede sal uiteraard ook komende naweek betrokke wees om al die vooraf werk van kabelverbindings te hanteer, te verseker die klankgehalte is na wense en om asook om gedurende die dag enige ander moontlike tegnologiese probleme in die kiem te smoor.

Ons oorhoofse spankoördineerder vir die naweek, Natalie van Wyk, is in beheer om toe te sien dat die trein teen die regte tempo op spoor bly.

KOMENDE NAWEEK

Die NRU-eindstryde sal om 12:00 begin tussen die twee voorste spanne in die eerste liga – Sparta van Walvisbaai teen FNB Unam se derde span.

• Om 14:15 volg die reserweliga se finaal tussen FNB Kudus II (Walvisbaai) en die huidige titelhouer, FNB Wanderers II.

In vorige jare het die Wit Hingste se paaie in die reserweliga-eindstryd meestal met Unam se tweede span gekruis, maar dié het laas naweek op hul tuisveld met ’n enkele punt (16-15) teen Kudus II vasgeval.

Die heelagter Algirnon Kolz het Kudus se enigste drie gedruk, terwyl losskakel Ulriato Lawrence die Walvisbaaiers se skopheld vir die dag was met ’n doelskop en drie strafdoele.

Wanderers II was in die semifinaal op sy tuisveld met rustyd 8-9 agter teen FNB Western Suburbs II, maar het sy voete gevind om danksy drieë deur losskakel Johan Zaayman (2), linkervleuel Allistor Jacobs, senter en kaptein Bredell Wessels en slot Johan Meyer ’n gemaklike oorwinning met 32-17 te behaal.

Die skrumskakel Oela Blaauw het as skopper begin met ’n strafdoel, maar het toe ’n rooi kaart vir ’n boorvat gekry, terwyl die haker Giel Blaauw ook vir tien minute in die koelkas was. Wessels het later met twee doelskoppe geslaag.

• Die hoofwedstryd, bestem vir ’n afskop om 16:30, sal ’n baie kompeterende NRU premierliga-eindstryd tussen FNB Unam en FNB Wanderers wees, wat eerste en tweede op die puntelys geëindig het.

FOTO’s
Anousga Routh (voor) en Gabriela Dawids.
Selvanus Valombola agter die kamera tydens Andrew Poolman se onderhoud met FNB Unam se afrigter, mnr. Johan Diergaardt.

Johan Zaayman Junior van FNB Wanderers se tweede span word deur sy kaptein Bredell Wessels gelukgewens met sy tweede drie in die semifinaal. Foto Andrew Poolman

Richard Botha aan die werskaf tydens die voorbereiding om FNB Grootfontein se tuiswedstryd teen FNB Kudus te beeldsend.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!