Kronieke uit die droogtepot
Daar is twee goed wat ek onthou van '74, die jaar toe ek skool toe is.
Hoe opgewonde ek was oor die ballon wat ek in my Jack & Jill-skoolskoene ontdek het. Ma het dit nog by die skoenwinkel langs die Schaefers se drankwinkel gekoop.
En hoe baie dit daardie eerste kwartaal van '74 gereën het ná '73 se droogte so met die boere gemors het.
Ek onthou die reën, want baie Maandagoggende het die rivier op die plaas geloop en kon Pa my nie met die ou groen Chev-bakkie skool toe vat nie.
Asseblief-asseblief, Liewe Jesus, laat die rivier nie môre loop nie, het ek soms op Sondae gebid. Hoewel ek die koshuis gehaat het, was ek bang as ek skool mis, dop ek sub A.
Vandag besef ek die kronieke van my familie se geskiedenis oor vier geslagte is onlosmaaklik verweef met die nat en die droë jare op die plaas.
Dit is die tydlyn waarlangs ons dinge onthou.
Oupa Zet het in Januarie 1929 as 'n jong man saam met sy ma, drie broers en suster op Erundu se werf stilgehou. Hulle het van Cradock se wêreld af gekom.
Vier jaar later was '33 se droogte hul eerste groot vuurdoop. Ek was nog baie klein toe weet ek al jy praat met groot ontsag van daardie droogte, want dit was boonop pens en pootjies in die tyd van die Groot Depressie.
Pa sê die annerdag dit het vanjaar 'n goeie duim of wat minder gereën as in '33. Daardie jaar het hulle so 'n raps oor die 200 mm (of 8 duim) gemeet en hierdie jaar het Pa nie eens 180 mm uit die meter gegooi nie.
In '34 het dit so baie gereën dat die Swakopmunders pampoene en tamaties en ander groente op die oewers van die Swakoprivier gepluk het. Soos vloedwaters die weg see toe gevind het, is alles in die pad daarvan saamgesleur. Dit sluit die organiese afval soos pitte en sade in wat op vullishope by plaasopstalle deur die vloedwater “geskep” is.
Die sestigs se droogte was ook 'n rukker, want toe breek bek-en-klouseer uit en moes die boere met hul vee na die Mangetti-blok trek.
By die herkou aan elke droogte word die boorstories onvermydelik ook in herinnering geroep. Want as die waterpompe begin lug sluk, is eers die waterwyser en daarna die boorman laat kom.
Soos Klein Johan wat een middag toe die grootmense op die buurplaas Phantom slaap, oorweldig deur die droogte en die waternood, 'n pik vat en in die agterplaas begin kap op soek na 'n aar wat sal uitkoms bring.
Toe hy 'n pyp raak kap en die water spuit in die dik straal die lug op, lê hy oop en toe die stukke in huis toe: Pa, Pa, kom kyk, ek het water gekry!
Daar was die droogtes van die tagtigs en dié van die negentigs.
Toe 2013 s'n.
Maar nie een van die kronieke in ons familie se droogtepot kon ons vir vanjaar se droogte voorberei nie.
Nie een nie . . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie