Krieket SA verklaar dispuut teen Aussies

19 February 2021 | Sport
Tinus van Staden – Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad het ’n amptelike dispuut teen Krieket Australië (KA) by die Internasionale Krieketraad (IKR) verklaar oor die Aussies se besluit om hul toer na Suid-Afrika te kanselleer.
Australië het Suid-Afrika aan die begin van die maand in kennis gestel dat hy nie meer vir ’n reeks van drie toetse hierheen sal reis nie. Die toer sou op 3 Maart begin.
Die Aussies het Covid-19-vrese vir hul besluit voorgehou, selfs al het KSA verskeie voorsorgmaatreëls getref om te sorg dat die toerspan sy tyd hier in ’n uiters veilige bioborrel deurbring.
KSA het kort daarna reeds aan die IKR geskryf om hulp, maar het vandeesweek ’n amptelike dispuut verklaar, sê dr. Stavros Nicoloau, die voorsitter van die tussentydse raad. Dit beteken dat die IKR nou amptelik kan intree en die dispuut kan probeer oplos.
“Australië sou op 24 Februarie hier aankom vir ’n toer waarna almal uitgesien het. Ons het vir baie maande lank met ons Australiese eweknieë geskakel. Pholetsi (Moseki, waarnemende uitvoerende hoof) en Graeme (Smith, direkteur van krieket) het veral groot werk verrig,” het Nicolaou Vrydag op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.
“Ons het uitermatige opgraderings aan ons bioveilige omgewing gedoen – ons was bereid om veel verder te gaan as vir Sri Lanka of die Pakistanse vrouespan.”
Nicoloau sê die Aussies het twee redes gegee vir hul besluit om die toer uit te stel: ’n Bewering dat Suid-Afrika se tweede vlaag ’n hoogtepunt bereik het en dat die variant van Covid-19 in Suid-Afrika meer kwaadaardig is; en dat hul spelers moontlik hier gestrand sou word.
“Ons was uiters teleurgesteld met hierdie brief en ons was erg verward. Op die dag wat die brief hier aangekom het, het Suid-Afrika ’n afname van 75% in koroavirusgevalle gehad. Die variant is ook nie meer kwaadaardig nie, net meer aansteeklik.
“Ons het ook die versekering van die regering gekry dat enigiemand van Australië wat die virus opdoen, terug huis toe sou kon vlieg.”
Nicoloau sê hoewel die beheerliggaam ’n dispuut verklaar het by die IKR, is hy nie seker wat die “kanse op sukses” is nie.
“Daar word in die reëls (van die IKR) voorsiening gemaak vir reekse wat weens Covid-19 uitgestel is, om plaas te vind. Ek dink egter nie dit is die hoofkwessie hier nie.
“ ’n Mens moet hierdie kansellasies en/of uitstellings beoordeel op grond van die skade wat dit aan die kleiner unies aanrig. Daar is ’n herkalibrering wat in krieket moet plaasvind.
“Ons sal wel met KA se raad praat om te sien watter reëlings getref kan word.”
Hy twyfel egter of die reeks gou sal kan plaasvind.
Haroon Lorgat, gewese uitvoerende hoof van KSA en ’n lid van die tussentydse raad, sê KSA het sy plek aan die tafel by die IKR verloor.
“Daar is ’n kans dat die mag van die Groot Drie (Australië, Indië en Engeland) weer gekonsolideer kan word. Ons sien toenemende bepalings tussen dié lande, tot die nadeel van die ander lande,” sê Lorgat.
“KSA moet egter sy huis in orde kry sodat ons ’n betekenisvolle rol in die IKR kan speel.”
Rihan Richards, die president van KSA se lederaad – die hoogste gesag in krieket, bestaande uit die uniepresidente – stem egter nie saam met Lorgat nie.
Richards het in 2020 vir Greg Barclay gestem in die verkiesing van die IKR se nuwe voorsitter.
Greg Barclay van Nieu-Seeland en Singapoer se Imran Khawaja was die twee kandidate. Barclay is gesien as ’n kandidaat wat die Groot Drie goedgesind is, terwyl Khawaja die kleiner lede se belange op die hart gedra het.
Barclay het die verkiesing gewen.
Richards het Vrydag gesê hy glo nie Barclay se verkiesing versterk die mag van die Groot Drie nie.
• Nicolaou het bevestig dat KSA se akte van inlywing, oftewel sy grondwet, met behulp van Michael Katz van ENS Africa, hersien is.
’n Hersiende akte van inlywing is vandeesweek aan die tussentydse raad en die lederaad voorgelê vir verdere hersiening.
’n Nuwe akte van inlywing sal op ’n spesiale algemene vergadering vroeg in Maart ingestel word.
Dié akte van inlywing sal “die grondslag vorm” vir KSA se jaarvergadering, wat vir iewers tussen 10 en 17 April beplan word.
Die tussentydse raad sal dan ontbind en ’n nuwe, voltydse raad sal verkies word. Die nuwe raad sal, volgens die nuwe akte van inlywing, ’n meerderheid van onafhanklike raadslede bevat.
• Die tugsake teen die sekretaris, Welsh Gwaza, en geskorste waarnemende uitvoerende hoof, Kugandrie Govender, duur ook voort.
– Netwerk24

FOTO
Daar was groot spanning op die veld toe die Aussies laas, in 2018, vir ’n toetsreeks in Suid-Afrika was. Nou is daar spanning tussen Suid-Afrika en Australië in die raadsale. Foto Gallo Images

Soortgelyk

 

Okavango-alliansie vra vir moratorium op oliesoektog

1 uur gelede | Omgewing

'n Alliansie van plaaslike en internasionale burgerlike organisasies en aktiviste, Save Okavango's Unique Life (Soul), wil hê 'n moratorium moet geplaas word op ReconAfrica se...

Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan "onder die beste...

3 ure gelede | Gesondheid

Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan teen Covid-19 is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as "een van die beste in die wêreld" beskryf. Volgens die minister van...

N$583 miljoen vir Namibië se Covid-19 Ontplooiings- en Immuniseringsplan...

4 ure gelede | Gesondheid

Die totale voorgestelde begroting vir Namibië se Ontplooiings- en Immuniseringsplan vir Covid-19-entstowwe is N$583 miljoen waarvan N$484,8 miljoen vir die aankoop van die entstowwe is....

Covid-19-regulasies geld tot 31 Maart

4 ure gelede | Gesondheid

Pres. Hage Geingob het pas by Staatshuis aangekondig die huidige Covid-19-maatreëls geld vir die volgende 36 dae vanaf middernag tot 31 Maart (Onafhanklikheidsdag op 21...

Metro spoils its customers

6 ure gelede | Plaaslik

Metro Namibia celebrated its birthday in style once again by spoiling five lucky customers each to a trailer of their own, stocked with N$5,000-00 worth...

Knopvelsiekte breek in Omaheke uit

15 ure gelede | Landbou

Knopvelsiekte het by Eiseb in die Omahekestreek uitgebreek en die beweging van beeste in dié gebied is tot verdere kennisgewing opgeskort.Dr. Albertina Shilongo, hoof-veeartsenybeampte in...

Vrou woon in haar motor by hospitaal

15 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

15 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

15 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...