Kospakkies uitgedeel

Sowat 6 000 huisgesinne en byna 28 000 behoeftige inwoners gaan baat by ''n inisiatief deur die ministerie van armoede uitwissing en maatskaplike welsyn.

25 July 2016 | Gemeenskap
Augetto Graig - Nuwe hoop vlam op tussen die sinkhuisies en inwoners wat in Ongawastraat in Windhoek se Okuryangava-woonbuurt tou­gestaan het. Geregistreerde inwoners het Vrydag kospakkies van Namibië se eerste voedselbank ontvang, met 6 000 gesinne en ’n totaal van ongeveer 28 000 mense wat by die kospakkies sal baat. Dit sluit mans, vroue, bejaardes en kinders van die Tobias Hainyeko-kiesafdeling in die hoofstad in. Dié inwoners is die eerste begunstigdes van die voedselbank, met inwoners van die Samora Machel-kiesafdeling wat in Augustus húl kospakkies sal ontvang.
Volgens mnr. Simon Muhepa, ’n koördineerder vir die plaaslike straatkomitee verantwoordelik vir die uitdeel van die kospakkies, word van huis tot huis gegaan om vas te stel wat elkeen se inkomste is. Dié wat minder as N$400 per maand verdien, word dan geregistreer. “As iemand in die huis werk, vra ons die salarisstrokie en deel dan dié bedrag deur die aantal mense wat in die huis bly,” sê hy.
Volgens Muhepa is die kospakkies ’n goeie poging om mense te help wat té lank in asdromme vir kos moes krap.
“Nou is hulle gelukkig met die voedselbank en die straatkomiteelede is ook gelukkig om vir die ministerie te werk,” het hy gesê. Vir sy medekomiteelid, mnr. Leonard Haoseb, is die werkgeleentheid iets wat hy graag met meer behoeftiges wil deel.
“Ons registreer steeds baie mense. Mense het dit nie ernstig beskou nie, mense het nie geglo nie, maar nou sien hulle,” het Haoseb gesê.
Me. Hilma Laurence is sedert Mei ’n lid van die straatkomitee. Sy is reeds vir jare ’n lid van die plaaslike netwerk Mans en Vroue teen Misdaad en ’n gemeenskapsleier wat haar met naaldwerk onderhou.
“Ek het so gesukkel, maar nou is ek gelukkig om werk by die nuwe ministerie te kry.”
Die permanente sekretaris van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, mnr. I-Ben Nashandi, sê lede van die straatkomitees is opgelei om begunstigdes te identifiseer en ’n lys van name en identifikasienommers vir voedselverspreiding saam te stel. Volgens Nashandi hang die hoeveelheid kospakkies af van hoeveel mense in elke huishouding as begunstigdes geïdentifiseer is.
“Die straatkomitee is ’n gemeen­skaporganisasie-konsep, want ons weet almal in die informele nedersettings is nie strate nie. Dit gaan meer oor die maatskaplike werk wat hulle doen,” het hy verduidelik.
Die voedselbankprogram is op 30 Junie amptelik bekend gestel met die uitdeel van kospakkies wat op 12 Julie begin het. Kospakkies sal nog tot 30 Julie in die Tobias Hainyeko-nedersetting voorsien word totdat al die geregistreerde inwoners hul pakkies ontvang het.
“As gevolg van die omvang van die program, is daar ’n paar gesinne wat dalk as begunstigdes kwalifiseer, maar om verskeie redes nog nie op die lys is nie. Enige eis in goeie trou sal egter aandag geniet en as dit aan die voorgeskrewe riglyne voldoen, sál die familie ingesluit word,” het Nashandi gesê.
Die voedselpakkies word met vragmotors na die verskillende afsetpunte in die kiesafdeling vervoer om dit sodoende makliker te maak vir begunstigdes wat om gesondheidsredes, ouderdom of gestremdheid, nie ver van die huis kan stap nie.
“Daar is ’n dringende nood om met die uitdeel van die kospakkies te begin en die organisasieproses is dus nog ver van perfek, maar selfs só sal ons teen einde Julie amper 6 000 gesinne en ’n totaal van 28 000 mense in net één kiesafdeling bereik het,” het Nashandi gesê.
“Die Samora Machel-kiesafdeling is amper volledig geregistreer, danksy die werk van hul eie straatkomitee.”
Die kospakkies bevat onder meer mieliemeel, geblikte beesvleis, geblikte vis, kookolie, bruin suiker, sout, drie soorte bone, sop, broodmeel, gis en seep.

Soortgelyk

 

Senior bestuurder van Rehoboth-dorpsraad vas vir bedrog

7 ure gelede | Misdaad

ʼn Senior bestuurder van die Rehoboth-dorpsraad is saam met nog drie verdagtes in hegtenis geneem op aanklagte wat met die bedrog van 'n riooltender verband...

Lokomotief raak spoor byster

9 ure gelede | Ongelukke

Otis Finck – ‘n Lokomotief van TransNamib het gisteraand omstreeks 20:00 naby Duin 7 ontspoor.Niemand is in die voorval beseer nie.Werkers is tans besig om...

Kobi Alexander kry tronkstraf

11 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer - Die 64-jarige Kobi (Jacob) Alexander is tot 30 maande tronkstraf gevonnis.Dit volg nadat hy verlede jaar ná tien jaar as voortvlugtige in...

Susanne Hoff skuldig aan poging tot moord

18 ure gelede | Howe

Jacqueline Louw – Susanne Hoff (56), wat teregstaan op ’n aanklag van sameswering om haar man, mnr. Egbert Hoff, te vermoor, is gister deur landdros...

Vermeende rower slaan glo babaseun teen muur

18 ure gelede | Misdaad

Jessica Botes - 'n Vrou en haar tweelingbabas was gister die slagoffers van 'n gewelddadige rooftog op Swakopmund.Die vermeende rower het glo om 03:50 'n...

Vryheid, veiligheid en vernuf

18 ure gelede | Byvoegsels

Henriette Lamprecht – Dit sal hom altyd bybly, die vryheid en die veiligheid. Vryheid nie net in die natuur nie, maar ook die vrye omgang...

Verkeersman sonder 'n prys

18 ure gelede | Misdaad

Des Erasmus - 'n Karweier van Windhoek van Angolese herkoms, mnr. Vicente Fanivamwe (50), is deur lede van die teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem nadat hy...

Weer vir 24 Februarie 2017

18 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm met enkele tot geïsoleerde donderbuie oor die Noordooste en dele van die Noordweste. Elders in die binneland...

Grondgroep: Namibiërs moet bronne terugkry

18 ure gelede | Politiek

Catherine Sasman - Die Beweging vir Grondlose Mense (LPM) sê radikale transformasie is nodig om alle natuurlike hulpbronne terug in die hande van Namibiërs (en...