Koos word Lucky

‘Ergste dieremishandeling ooit’

17 April 2019 | Plaaslik
Tanja Bause - Op 8 April omstreeks 06:30 het me. Trudie Coetzer en haar seun Jaco by hul plaashek net buite Tsumeb uitgery en ’n gruwelike ontdekking gemaak.

“Die gras by die hek is baie lank. Jaco, wat die hek geopen het, het gesê daar lê ’n hond in die gras. Ek het uitgeklim en my maag het gedraai toe ek die hond sien. Ek het onmiddellik vir Koos (haar man) by die huis gebel en gesê hy moet die hond kom help. Ek kon nie glo dat mense so wreed kan wees nie,” het Trudie gesê.

Mnr. Koos Coetzer het gekom en die hond gehelp wat toe na die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Tsumeb geneem is.

Koos, soos die DBV die hond gedoop het, was erg mishandel. Hy het oop wonde aan sy kop gehad waar hy oor ’n geruime tydperk met stokke geslaan is. Sy bek was met ’n tou toegebind. Die tou was so styf om sy bek dat die bloedtoevoer na sy lippe en tong beperk was. Die tou waarmee hy waarskynlik vir lank gewurg is, was nog om sy nek gebind. Hy was ook erg gedehidreer.

Die DBV het Koos na die Tsumeb Veterinary Clinic geneem waar dr. Erika de Jager hom behandel het.

“Dit is die ergste geval van dieremishandeling wat ek nog in my lewe gesien het,” het De Jager gesê.

“Hy het aanvanklik nie mense vertrou nie en wou glad nie hê jy moet aan sy kop vat nie. Maar wanneer hy na ’n mens toe aangekom het, het hy sy stert geswaai,” het sy gesê.

“Ons het die wonde op sy kop toegewerk en hom versorg. Hy het die tweede dag in ons sorg begin vreet en hy is agt dae nadat hy gevind is na ’n liefdevolle huis toe. Have-a-Heart het vir sy regmaak betaal. Hy is ingeënt en ontwurm. Ek is baie bly dat dinge so goed vir hom geëindig het,” het De Jager gesê.

Volgens Trudie het sy “elke dag gebel om te hoor hoe dit met hom gaan en gaan kuier, veral as dit kosgeetyd was, sodat hy aan my gewoond raak. Maandag het ek hom gaan haal en huis toe gevat,” het sy gesê.

“Ek noem hom nou Lucky. Lucky soek baie aandag en liefde. Wanneer jy hom roep, kom hy met ’n stert wat waai aangestap, en druk sy kop teen my been. Hy het nou ’n plaas waarop hy kan rondhardloop en hy kry baie liefde,” het sy gesê.

Volgens ’n mediaverklaring uitgereik deur Annie’s Animal Legal Fund, DBV Namibië en DBV Tsumeb is dit die ergste geval van dieremishandeling wat nog by die DBV in Tsumeb aangemeld is.

“Ongelukkig is Koos een van baie diere wat hierdie lot deel. Diere word as eiendom in terme van Namibiese wetgewing beskou en het nie inherente regte nie. Die uitgangspunt van die reg is dat 'n eienaar sy eiendom kan hanteer soos hy dit goed vind.

“Hierteenoor maak die Dierebeskermingswet, No. 71 van 1962, voorsiening vir die welsyn van diere, en sekere gedrag teenoor diere is oortredings. Die probleem is dat die Dierebeskermingswet in 1962 afgekondig is en sedertdien nooit hersien of opgedateer is nie,” lui die verklaring.

“Ingevolge die wet is die maksimum straf 'n boete van hoogstens N$200 of, indien 'n persoon versuim om die boete te betaal, gevangenisstraf vir 'n maksimum tydperk van ses maande. Dit dien nie as afskrikmiddel vir moontlike misbruik nie en bied feitlik geen beskerming vir diere nie.

“Annie's Animal Legal Fund, DBV Namibië en DBV Tsumeb vra vir 'n wysiging van die wetgewing. Ons werk daaraan om wetgewing in Namibië te ontwikkel wat beter beskerming aan diere bied, en ons benodig geld.

“Ons doen 'n beroep op lede van die publiek om solidariteit met Koos en die #Justice4Koos-veldtog te toon. Neem 'n foto van jouself met 'n tou, serp of band oor jou mond, met 'n teken wat sê #Justice4Koos. Plaas dit in die sosiale media met 'n belofte aan hierdie veldtog, en om vriende, familie of ander besighede aan te moedig of uit te daag om dieselfde te doen,” lui die verklaring.

Mense wat donasies wil maak, kan die DVB by 061 238 654 of vir me. Ronel Lewies van Annie’s Animal Legal Fund by 081 126 0224 skakel.

Soortgelyk

 

KOLLIG Voorblad

1 dag gelede | Byvoegsels

Swakop hou Makietie bl. 4

ECN gaan Itula se aansoek teenstaan

1 dag gelede | Politiek

Denver Kisting – Vanweë die beweerde negatiewe uitwerking van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) in die afgelope presidensiële verkiesing moet die proses tersyde gestel word.Dr. Panduleni Itula,...

Ekonomie bloei lánkal

1 dag gelede | Plaaslik

Jo-Maré Duddy – Ekonomiese groei het reeds in 2015 skerp begin tuimel sonder dat dit deur amptelike syfers weerspieël is, toon nuwe data wat gister...

NOU AAN DIE GANG

1 dag gelede | Byvoegsels

» Die Swakopmund Wetenskaplike Vereniging bied tans ‘n Kersfees-skattejag by die Swakopmund Museum aan. Dit bestaan uit twee afdelings, een vir kinders en een vir...

Geskorste raadslede van Rehoboth herkies

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting op Rehoboth – Dieselfde span raadslede wat verlede jaar deur dr. Peya Mushelenga, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, in die pad...

Weer vir 13 Desember 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Mooi weer en baie tot bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Winderige weer sal...

STEMFEITE: NAM & SA 2019

1 dag gelede | Politiek

In Namibië het Swapo persentasiegewys meer steun ingeboet as die ANC in Suid-Afrika.

NamibRe: Versekeraars moet 12,5% sedeer

1 dag gelede | Howe

Elvira Hattingh Plaaslike versekeringsmaatskappye móét voorts vir herverseke­ring by NamibRe opdok - tot tyd en wyl daar in 'n hangende hofsaak oor die wettigheid van...

CoW baklei teen beslaglegging

1 dag gelede | Regering

Denver Kisting – Die Windhoekse munisipaliteit (CoW) baklei tans verbete teen ’n beweerde beslagleggingsbevel wat poog om van hul vaste bates te konfiskeer.Veertien superintendente verbonde...