Kontrakte in Frankryk wink vir slotbroers

Rugby

10 June 2021 | Sport
Andrew Poolman – Terwyl rugby as kontaksport tans in Namibië stilstaan, groei sy kontingent van spelers in die buiteland binnekort verder aan.

Die broers Ruan Ludick (26) en Adriaan Ludick (22) het onlangs hul kontrakte onderteken om binnekort by verskillende klubs in Frank­ryk aan te sluit.

Beide is slotte, wat tot nou aan FNB Wanderers in Windhoek verbonde was.

Ruan het egter net die eerste twee van die Wit Hingste se NRU premierliga-klubwedstryde hierdie seisoen gespeel, naamlik in die oorwinning teen FNB Western Suburbs en die verloorwedstryd teen FNB Rehoboth.

Vroeg in laasgenoemde wedstryd op die suidedorp het hy egter op die ongelyke veld in 'n gat getrap en sy enkel beseer, wat hom tot nou toe van enige verdere speeltyd weerhou het. “Die enkel is darem weer 100 persent en ek oefen reeds weer kliphard, al is dit nou sonder spanmaats,” sê Ruan.

Ruan, sedert sy skooldae by Windhoek Gimnasium bekend op die bynaam Skroef, en sy jongboet was beide ingesluit in die nasionale oefengroep wat bestem was om binnekort die land se eerste verteenwoordigende rugby te speel vandat die viruspandemie die internasionale spel ná die 2019 Wêreldbeker tot stilstand gebring het.

Namibië sou komende naweek en op 19 Junie eers weg en dan tuis teen Zimbabwe in vriendskaplike kragmetings opgeweeg geword het, wat egter vanweë die moratorium deur die mat geval het. Die aanbieding van Rugby Afrika se groeptoernooi in Windhoek (tussen Namibië, Ivoorkus en Madagaskar) het ook in die slag gebly.

Die deurbraak om in Frankryk te gaan speel – hoewel vir verskillende klubs – is dus vir beide broers 'n gulde geleentheid.

Ruan is bestem om vroeg in Julie by Pamiers-rugbyklub in die suide van Frankryk aan te sluit. Dit is sowat 350 kilometer van die tuiste van Adriaan se nuwe klub, USA Limoges.

Beide hierdie klubs ding in Fédérale 1 mee – die hoogste vlak van amateurrugby in Frankryk, net onder die twee professionele ligas (Top 14 en Pro D2).

Indien Namibië hierdie winter toetsrugby sonder sy buitelandse beroep­spelers sou aanpak en net op die plaaslike manne staatgemaak het, sou Ruan met sy 18 toetse sedert 2016 straks die mees ervare spanlid gewees het.

Met deelname aan verskeie provinsiale veldtogte met die Windhoek Draught Welwitschias was hy ook deurentyd op 'n hoë vlak blootgestel en hy het bitter naby aan insluiting in die 2019 WB-groep na Japan gedraai.

Adriaan se rugby-CV is korter, maar sluit spanne soos Privaatskool Elnatan, Paarl Gimnasium en toere met die Nami­biese o.20's in, terwyl hy ook 'n paar seisoene in die Blou Bulle se junior strukture was voordat Phil Davies as afrigter hom op toetsvlak beproef het.

Van Adriaan se drie toetse vir Namibië, almal op die November-toer van 2018, was twee in die beginspan – eers teen Rusland in Kasnodar saam met sy broer Ruan en twee weke later teen Portugal in Coimbra saam met Tjiuee Uanivi. Op die naweek tussenin is hy teen Spanje in Madrid van die bank af opgestuur.

Ruan bied meer lengte (2,06 meter, 116 kg), terwyl Adriaan se mates tans 2.00 meter en 135 kg is.

“'n Rugby-agent vir ons die geleentheid in Frankryk beding. Ek het vir een seisoen by Pamiers geteken – uiteraard met die voorneme om só te presteer dat ek my langer daar kan vestig. Adriaan se kontrak is ook vir een jaar, met die opsie van 'n verlenging van nog 'n jaar. Ons wag nou net vir ons visums om goedgekeur te word,” het Ruan aan die koerant gesê.
[email protected]


FOTO’s
Van Adriaan Ludick (links) se drie toetse vir Namibië was twee in die beginspan (saam met sy broer Ruan en met Tjiuee Uanivi, regs) en een van die bank af. Foto Getty Images


Adriaan Ludick vat ’n onbetwiste lynstaanbal vir die Namibiese o.20-span teen Hongkong in 2018. Foto worldrugby


Ruan Ludick wag vir ’n strafskop deur Uruguay se stelskopper tydens die November 2017-toetsreeks in Windhoek. Foto Andrew Poolman

Soortgelyk

 

27 sterftes, 1 649 nuwe gevalle

23 ure gelede | Gesondheid

Die sterftesyfer skiet met nog 27 - nege in Rehoboth, agt in Windhoek, drie in Keetmanshoop, twee in Walvisbaai en een elk in onderskeidelik Karasburg,...

Mental well-being suits us all

2 dae gelede | Mense

DR JOHN STEYTLERMental health is a subject which we are only starting to scratch the surface of in Namibia and it is not talked about...

Diva of finesse and fitness

2 dae gelede | Mense

Jeanette DiergaardtLiezel Ndjaronguru, a 32-year-old businesswoman, allows fitness enthusiasts to bring their best attitude to the table when working out. In 2013 the owner of...

Bonifatius Kantori Paulino is the Managing Director at Alexander...

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Since Paulino joined Alexander Forbes, he spent some time to familiarise himself with the areas of responsibility of the position of...

Streng vereistes vir gebruik van blitstoetse

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) het opgedateerde regulasievereistes vir die verkoop, verspreiding en gebruik van antigen-blitstoetse vrygestel.Die NMRC sê antigeen diagnostiese blitstoetse (Ag-RDT’s)...

Sterftes neem sesvoudig toe

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Covid-sterftes vir Namibië het bykans sesvoudig die afgelope ses maande toegeneem – vanaf 16 sterftes per week in Desember verlede jaar...

'Woestynpsalm' nou in pylvak

2 dae gelede | Byvoegsels

Bosman Films, 'n jong produksiemaatskappy in die Namibiese filmbedryf, het opgewonde aangekondig dat produksie vir hulle eerste film, Woestynpsalm, onlangs afgehandel is. Woestynpsalm is 'n...

High-flyer Samantha Geyser soared to customer service executive at...

2 dae gelede | Mense

Staff reporterSamantha Geyser dreamed of becoming a pilot when she was a young girl. She admired Amelia Earhart for her achievement of being the first...

Gweri Vintage Collection – the brand that keeps on...

2 dae gelede | Mense

Zulu Boy sets the trend for creativity Created by Namibians for international consumption The Gweri Vintage Collection is a brand focused on providing exclusive and...