Kolbe inspireer sewesspelers met Bok-drome
Rugby
Marnus Kok
Cheslin Kolbe se sukses as Springbok nadat hy vroeër in sy loopbaan die Blitsbokke verteenwoordig het, dien as inspirasie vir baie van die nuwe geslag sewesspelers.
Dít is die mening van Danwel Demas, 'n voormalige Suid-Afrikaanse sewesspeler, oor verskeie nasionale sewesspelers wat aspirasies het om die Bok-trui in vyftienman-rugby te dra.
'n Blitsbok soos Seabelo Senatla sluit hom ná die Kaapstad-toernooi, wat môre begin, weer by die Stormers aan. Hy het reeds verskeie kere aangedui dat dit sy droom is om die Springbok-trui oor sy kop te trek.
“Die ding is dit is die droom van die meeste van daardie ouens by die sewes om 'n Springbok te word. Dit is maar die uiteindelike ideaal.
“Deesdae het die sewesspelers baie meer blootstelling en hulle word makliker raakgesien. Dink maar aan Werner Kok wat in Frankryk (as leenspeler vroeër vanjaar vir Toulouse) gespeel het.
“Maar spelers sien wat iemand soos Cheslin regkry en dit motiveer hulle meer,” sê die 38-jarige Demas, wat die Blitsbokke tussen 2003 en 2008 verteenwoordig het.
Die 26-jarige Kolbe was sensasioneel vir die Springbokke sedert hy in 2018 sy toetsbuiging as vleuel gemaak het. Boonop was hy vanjaar 'n benoemde vir Wêreldrugby se Speler van die Jaar-prys. Hy speel sy klubrugby vir Toulouse in Frankryk en is laat in November vereer as die Top14 se Speler van die Seisoen.
Kolbe het in 2012 sy buiging vir die Blitsbokke gemaak.
Nog 'n speler, Jaco Pretorius, wat in sy speeldae soos Kolbe die suksesvolle oorgang van Blitsbok tot Springbok gemaak het, sê die invloed van sewes kan nie misgekyk word nie.
“Sewes het 'n wêreldsport geword. Cheslin speel met ongelooflike selfvertroue en dit is iets wat hy by die Blitsbokke gekry het.
“Vandag is hy een van die wêreld se mees gesogte spelers, en hy inspireer beslis spelers,” sê Pretorius (40) uit Melbourne in Australië, waar hy vandeesweek die Presidentebeker-gholftoernooi bywoon.
Hy het in 2002 sy buiging vir die Blitsbokke gemaak en dié span ook aangevoer, voordat hy in 2006 sy buiging vir die Springbokke gemaak het. Pretorius sê sewes het hom help slyp vir vyftienman-rugby.
“Dit het my baie gehelp omdat dit soveel ander vaardighede slyp. Ons het ook destyds daarna gestreef om die Bok-trui te dra.”
Pretorius is vol hoop dat die Blitsbokke goed kan vaar by die Kaapstad-sewestoernooi.
“Ons het ouens met goeie vaardighede soos Senatla, maar daar is ook spelers soos Rosko (Specman) wat oor magic beskik.”
Kolbe en Kwagga Smith, wat ook deel van die Springbok-groep by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi was, vorm deel van die Blitsbokke se beplanning vir 2020 se Olimpiese Spele.
Albei was deel van die Suid-Afrikaanse sewesspan wat die bronsmedalje by 2016 se Spele in Rio de Janeiro verower het. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie