Kings oor skorsing: ‘Dis sommer Bholi’

18 September 2019 | Sport
Michael Green - Robbi Kempson, die waarnemende hoofafrigter van die Southern Kings, is op die oorlogspad omdat die swaard van ’n skorsing van drie weke steeds oor die kop van die flank Thembelani Bholi hang.

Bholi en PJ van Lill, een van Namibië se slotte, is op Saterdag 7 September met rooikaarte van die veld gestuur nadat hulle op die grond baklei het.

Dié voorval het plaasgevind in ’n opwarmwedstryd wat op die Naartjiepark-skoolveld in Walvisbaai gespeel is.

’n Wêreldrugby-tugkomitee het egter enkele dae ná die voorval bevind dat Van Lill “in die konteks van die besondere gebeure” nie aan vuilspel skuldig was nie.

As sy rooikaart gestaan het, sou Van Lill weens ’n outomatiese skorsing Namibië se Wêreldbeker-wedstryde teen Italië komende naweek, asook teen Suid-Afrika en Nieu-Seeland misgeloop het.

Dít sou Namibië waarskynlik gedwing het om dié veteraan van die 2011- en 2015-toernooie met ’n ander speler te vervang, aangesien hy dan net vir die stryd teen Kanada beskikbaar sou gewees het.

“Ons is nog besig om teen Bholi se skorsing te baklei. Ons kan nie sien hoe die Namibiese speler skotvry kan kom en Bholi nie,” sê Kempson.

“Hulle (Namibië se) speler het dit begin, hy het eerste geslaan, so ons is besig met ons regsmense om Bholi ook los te kry.”

Kempson hoop om hierdie week te hoor of Bholi volgende Saterdag in die Kings se eerste Pro14-wedstryd van die nuwe seisoen teen die Cardiff Blues in Port Elizabeth sal kan speel.

Indien Bholi vir ’n paar wedstryde moet uitsit, sal Bobby de Wee straks die nommersewe-trui aantrek.

BOKKE MET MOEILIKE VRAE GEPEPER

Met die etiket as een van die gunstelinge om die Wêreldbekertoernooi (WB) te wen om die nek, raak dinge daagliks warmer vir die Springbok-rugbyspan, skryf Hendrik Cronjé.

Joernaliste van ander lande probeer – in wat na doelbewuste pogings lyk – die Bokke se onlangse probleme van die speelveld af uitbuit.

Matt Proudfoot moes gister vir die beeld van Suid-Afrikaanse rugby skerm nadat ’n Ierse joernalis hom op ’n nuuskonferensie gevra het of die gebruik van verbode middels ’n probleem in SA rugby is. Die joernalis het indirek na die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi se voorval verwys.

Maandag moes Pieter-Steph du Toit ook ’n laagvat van ’n joernalis trotseer wat wou weet hoe die spelers op gebeure van die veld af reageer. Oorsese joernaliste het kennis geneem van die Eben Etzebeth-voorval in Langebaan. Dié Bok-slot word van aanranding en rassistiese uitlatings beskuldig.

Du Toit en Proudfoot het albei hul vrae berekend geantwoord.

“Ek is die voorspelerafrigter. Jy moet die vraag aan die administrateurs vra. Ek het nie die data (oor hoeveel spelers vir verbode middels positief toets) om dit te beantwoord nie,” sê Proudfoot.

“Ek dink die beeld van Suid-Afrikaanse rugby word op die veld uitgedra. Ons is ’n mededingende nasie. As jy kyk na ons sewesspan, die juniors, die vrouespan en die Bokke, dan is dit die beeld van Suid-Afrikaanse rugby wat gehandhaaf moet word.”

Proudfoot-hulle is bewus dat die sielkundige kopspeletjies voor Saterdag se groep B-wedstryd teen die All Blacks in Jokohama begin het.

Die voorspelerafrigter van die Bokke het ook ’n vraag van ’n Nieu-Seelandse joernalis oor hoe ’n groot leemte Brodie Retallick se afwesigheid in Saterdag se toets sal laat, met ’n breë glimlag beantwoord.

“Is jy seker hy (Brodie) gaan nie speel nie? Meneer (Steve) Hansen het in sy laaste nuusverklaring gesê hy het ’n volle groep om uit te kies. Ek sal nie verbaas wees as hulle ’n verrassing (met Brodie) in die mou voer nie.”

Retallick het sy skouer in die toets in Wellington teen die Bokke beseer. Onsekerheid bestaan oor of hy reg is.

“As hy speel, is hy ’n groot speler vir hulle. Hy is ’n speler van wêreldgehalte. Speel Brodie wel nie, het hulle uitstekende plaasvervangers in Scott Barrett en Patrick Tuipulotu,” sê Proudfoot.

“Die All Blacks het ’n uitstekende agttal. Dit help dat hulle spelers soos Sam Whitelock en Kieran Read in Brodie se moontlike afwesigheid het. Hul agttal sal (Saterdag) inklim.”

Proudfoot glo die uitslag van Saterdag se toets is belangrik, maar albei spanne sal ongeag daarvan perspektief behou.

“Deur dié wedstryd te wen, sal jy nie skielik die groot gunsteling wees om die Wêreldbeker te wen nie. Net so sal jou veldtog nie ontspoor as jy verloor nie. Daar is soveel spanne wat uitstekend voorberei het,” sê hy.

“Ons geniet dit net om teen die All Blacks te speel. Ons kyk nie verder as dié wedstryd nie. Ons verwag dat Nieu-Seeland met iets nuuts vorendag sal kom. Hulle het aan sekere aspekte van hul aanval gewerk.”

• Trevor Nyakane het gister saam met sy spanmaats aan hul lynstaanwerk op die velde van die Shining Arcs, ’n Japanse klubspan, geoefen.

Bevestiging of hy Saterdag teen die All Blacks ná sy kniebesering sal speel, sal vandag verkry word wanneer Rassie Erasmus sy 23-tal aankondig. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Weduwee en haar eks lank tronk toe vir moord...

14 ure gelede | Howe

Denver Kisting – Rachel Rittman (48) en haar 35-jarige eks, Ryno du Preez, is vanoggend onderskeidelik lewenslange tronkstraf en 30 jaar opgelê vir die moord...

Spuite, pille nie by klinieke

1 dag gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Tekorte aan voorbehoedmiddels wat voorbehoedpille en –inspuitings insluit, word tans by openbare gesondheidsgeriewe in die land ondervind.Die direkteur van die ministerie van...

Sakkepakke op Lüderitz

1 dag gelede | In beeld

Tanja Bause - Die eerste trein in meer as 20 jaar het Lüderitz in Augustus vanjaar binnegery. Die trein, wat uit twee lokomotiewe en 20...

Gróót oë op Jan Taks

1 dag gelede | Ministeries

Jo-Maré DuddyVerbruikers wat voortaan BTW van 15% op suiker sal moet betaal, is een van die rits belastingaankondigings wat in vanmiddag se halfjaar-begrotingshersiening verwag word.Kenners...

Drie dae, sewe kinders glo verkrag

1 dag gelede | Misdaad

Sewe minderjarige meisies, waarvan die jongste vier en die oudste 15 jaar oud is, het na bewering binne ’n kwessie van drie dae die jongste...

Pushing the boundaries

1 dag gelede | Skole

Ester Kamati “I enjoy coming up with ideas, often random, often impractical, but occasionally valuable,” says young businesswoman of the year Hilja Eelu. Eelu is...

Children need to move

1 dag gelede | Onderwys

Children spend the majority of their day sedentary, behind desks or in front of a screen.The power of movement has been stolen from these children....

Weer vir 22 Oktober

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Noordooste, andersins sonnig en baie tot bloedig warm. Winderige toestande sal oor die binneland voortduur. KUS: Gedeeltelik...

Elke refleks ’n spesifieke doel

1 dag gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht - Primitiewe refleksbewegings wat baba vanaf bevrugting en dwarsdeur hul eerste lewensjaar uitvoer, bedraad die brein en versterk die liggaam.Vir elke refleks is...