Katrina se skoonsuster verhuur glo lyshuis
Twee behuisingsbegunstigdes wat huisies op Mariental glo wederregtelik bekom het, het vir lank nie die huise bewoon nie.
Denver Kisting
Die hoërhof in Windhoek het gister gehoor 'n skoonsuster van me. Katrina Hanse-Himarwa het glo 'n huis, wat sy wederregtelik onder die massabehuisingskema bekom het, vir minstens 'n jaar uitverhuur.
Die staat beskuldig die minister van onderwys, kuns en kultuur daarvan dat sy 'n lys van begunstigdes onwettig laat wysig het om dié skoonsus en 'n niggie te laat voordeel trek.
Hanse-Himarwa was in daardie stadium die goewerneur van die Hardapstreek.
Sy staan tans tereg op een klag van korrupsie in die hoërhof in Windhoek.
Me. Sara Gaseb, 'n afgetrede verpleegster, het gistermiddag deur 'n tolk getuig sy het vir minstens 'n jaar die huis by me. Christina Hanse gehuur.
In dié tyd het sy getrou N$2 000 se huur oorbetaal in Hanse se man, mnr. Dawid Hanse, se bankrekening.
Volgens Gaseb moes sy aanvullend vir water en krag opdok.
In Januarie 2016 het me. Hanse haar ingelig sy het 'n gesin gekry om die tweeslaapkamerhuis te huur.
Sy wat Gaseb is, is toe gevra om die huis te ontruim en by die verhuurder se skoonma – skynbaar Hanse-Himarwa se ma – 'n kamer te huur.
Gaseb het die aanbod van die hand gewys. Haar en me. Hanse se paaie het toe geskei.
Hanse-Himarwa se prokureur, mnr. Sisa Namandje, het gister gesê sy kliënt dra geen kennis van die beweerde huurooreenkoms tussen die partye nie.
Derhalwe, het hy gesê, sal hulle ook geen kapsie teen Gaseb se getuienis maak nie.
Hanse-Himarwa was gister uitgedos in 'n goue kopdoek en 'n tabberd in dieselfde kleur.
Sy was gister oudergewoonte omring deur 'n aantal ondersteuners, insluitend die oudminister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Marlene Mungunda.
Haar man, die boer en sakeman mnr. Ghenno Himarwa, was eweneens aan haar sy.
'ALMAL KEN MEKAAR'
Gisteroggend het mnr. Domingo Matheus, die Mariental-munisipaliteit se gemeenskapsontwikkelingsbeampte, getuig almal op dié Hardap-dorpie ken mekaar.
Hy kan dus bevestig die twee begunstigdes wat Hanse-Himarwa glo onwettig in Desember 2014 huisies laat kry het, is onderskeidelik haar niggie en haar skoonsus.
Boonop weet hy ook geeneen van die twee mense het die huise onmiddellik bewoon nie. Deesdae woon hulle in die huise, het hy gesê.
Matheus moes onder kruisondervraging toegee hy was nie by die beweerde fisieke wysiging van die lys van begunstigdes betrokke nie.
Hy is ook nie vertroud met die omstandighede waaronder die beweerde gepeuter met die lys plaasgevind het nie, het hy gesê.
Dit het ook tydens sy kruisondervraging aan die lig gekom “administratiewe lyste” wat glo die paneel moes help om met 'n finale lys van 19 begunstigdes vorendag te kom, is intussen vernietig.
Namandje het gereken dit wek agterdog.
Matheus het volgehou hul kriteria was op bekostigbaarheid en geslagsbalans geskoei.
Namandje het dit onder sy aandag gebring sy getuienis weerspreek dié van ander staatsgetuies wat aangevoer het dié wat eerste om 'n huisie aansoek gedoen het, is eerste gehelp.
Die prokureur wou by hom weet of hy besig is om ongerymdhede toe te smeer en vir Hanse-Himarwa skuldig wil laat lyk.
Matheus het dit ontken.
Die staat is gister deur adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze en mnr. Salomon Kanyemba verteenwoordig.
Hanse-Himarwa is vry op 'n waarskuwing.
Die verhoor hervat vanoggend voor regter Christie Liebenberg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie