Kamma-polisieman in bobeen geskiet oor speelgoedpistool
Kamma-polisieman in bobeen geskiet oor speelgoedpistool

Kamma-polisieman in bobeen geskiet oor speelgoedpistool

Yandi Du Plessis
’n Man wat daarvan verdink word dat hy hom as ’n polisiebeampte voorgedoen het, is deur ’n Namibiese polisiebeampte geskiet nadat hy glo ’n speelgoedpistool uitgepluk het toe die polisie hom Maandag op Swakopmund weens dié nabootsing en afpersing in hegtenis wou neem.
Die polisie het in ’n voorvalverslag wat gister (Dinsdag) uitgereik is, gesê die verdagte is in die bobeen geskiet nadat NamPol ’n klag van ’n 78-jarige dokter ontvang het oor SMS’e van ’n manspersoon wat homself as ’n polisiebeampte geïdentifiseer het.
“Na bewering het die verdagte die klaer laat glo dat hy (verdagte) as ’n polisiebeampte met die staatsaanklaer gepraat en gevra het dat die 78-jarige dokter se seun op borgtog teen ’n bedrag van N$5 500 vrygelaat kon word.
“Die seun was sedert Maart vanjaar in polisie-aanhouding oor hy glo in besit was van vermoedelik gesteelde goedere,” lui die verslag.
Verder word vermeld dat die verdagte op ’n ander dag ’n ontmoeting met die klaer in Mondesa gereël het, sodat die klaer die borgtoggeld van N$5 500 aan die verdagte kon oorhandig. In hierdie stadium het die dokter N$8 000 onttrek en die N$5 500 aan die verdagte oorhandig, wat toe die res van die geld ook by die dokter gegryp het.
Tydens ’n ander voorval het die verdagte glo ’n nuwe selfoon aangevra en daarna die klaer se selfoon gegryp.
In reaksie hierop het die polisie ’n geheime operasie van stapel gestuur en twee verdagtes is op heterdaad betrap terwyl hulle geld by die dokter gevat het.
“Nadat die polisie opgemerk is, het een van die twee verdagtes ’n mes uitgepluk om die beampte wat hom genader het, te steek. Na bewering het die verdagte ook, terwyl hy hom teen inhegtenisneming verset het, sy hemp opgelig om te wys dat hy ’n vuurwapen dra. Om dié rede het die beampte die verdagte in sy regterbobeen geskiet. Dit is eers later ontdek dat dit ’n speelgoedpistool was,” lui die verslag.
Die gewonde verdagte is in ’n stabiele toestand na die Swakopmund-staatshospitaal geneem en is tans onder polisietoesig. Albei verdagtes is in hegtenis geneem.
’n Saak van poging tot moord is aanhangig gemaak teen die polisiebeampte wat die verdagte geskiet het. Die ondersoek duur intussen voort. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer