Jonger Eagles kan taak opgelê word

Krieket

07 April 2021 | Sport
Tielman van Lill – Die Eagles durf vandag en môre met groot selfvertroue die Ugandese Kraanvoëls in twee eendagwedstryde (50 boulbeurte) by die Wanderers-veld in Pionierspark aan.

Nadat Namibië se hoër gerekende krieketspan reeds die Castle Lite-reeks se T20-gedeelte met 3-0 beklink het, bied die eendagwedstryde aan die besoekers hul laaste kans om hul afrigter, Lawrence Mahatlane, te beïndruk.

Die besoekers het wel Maandagoggend in wedstryd 2 met nuwe durf die Eagles se vlug probeer stuit, maar die gasheerspan se boul- en veldwerk was opnuut onberispelik en die besoekers se moed is spoedig geknak.

Of Mahatlane enige nuwe kolfkombinasies in die mou het, sal 'n mens moet sien. Sy aanvangskolwers het sover gesukkel om die Namibiese draaibal- en naataanval baas te raak en kon tussen hulle net 62 lopies in drie T20-wedstryde bemeester.

Ronak Patel op vier (71 lopies, 70 balle in drie kolfbeurte) was sover Uganda se beste kolwer. Riazat Ali Shah op sewe (56 van 54 b, twee), Kenneth Waiswa op ses (41 van 37 b, twee), die aanvangspaar Roger Mukasa (32 van 34 b, drie) en Arnold Otwani (30 van 43 b, drie) het almal maar so-so met die kolf gevaar.

Hamu Kayondo op drie mag dalk beseer was, want hy het net in die eerste T20 teen die Eagles kans gekry (28 van 29 b).

Saud Islam op nommer drie (10 van 16 b, twee) beleef 'n nagmerrietoer en Dinesh Nakrani op vyf (18 van 28 b, drie) vaar nie juis beter nie.

Die Kraanvoëls se T20-boulsyfers is ewe min indrukwekkend.

Die regterarmnaatbouler, Riazat Ali Shah, het wel die beste syfers (3/23 in 4 boulbeurte) in die tweede T20 gelewer, maar in die ander twee het hy vir 0/63 in 6 boulbeurte deurgeloop.

Die 19-jarige Cosmas Kyewuta (regterarmnaatbouler) is in twee wedstryde vir 2/57 in agt boulbeurte (ekonomie 8.14 per beurt) gestraf. Moontlik kan die linkerarmnaatboulers Dinesh Nakrani (2/48 in 6 bb, twee) en Jonathan Sebanja (1/28 in 4 bb, een) onder minder druk beter in die eendagwedstryde vaar.



HEF IN DIE HAND

Dat Pierre de Bruyn, hoofafrigter van die Eagles, aan sy span kan torring sonder om dit beduidend te verswak, lyk heel moontlik. Stephen Baard het in die T20-reeks net een keer die kolfbeurt geopen en kan dalk met die langer weergawe weer sy gebruiklike plek inneem.

Namibië se vinnigste snelbouler, Ruben Trumpelmann, het saam met Divan la Cock, Mauritius Ngupita, Michael van Lingen, Dewald Nell en Shaun Fouche die T20-reeks net van buite van die grenstou af dopgehou. Die kanse is goed dat hulle iewers op die proef gestel kan word.

De Bruyn het aan Republikein gesê: “Die twee eendagwedstryde is natuurlik ons brood en botter, want ons het tydens die Wêreldkrieketliga 2 internasionale eendagstatus verwerf.

“Eendagkrieket is ons belangrikste formaat en die volgende twee dae is vir ons van kardinale belang. Ek moet nogtans die volgende twee kragmetings gebruik om die jonger spelers 'n kans te gee om te sien hoe hulle op hierdie vlak die druk hanteer en hoe hulle presteer.

“Ons werk hard om die diepte van die Eagles-spelersgroep te vergroot. Ons kan nie net op 13 spelers staatmaak nie. Daar kom nog baie internasionale krieket, so ons moet verseker daar is genoeg talent beskikbaar.

“Ek voel ons het ná die afgelope naweek se T20-wedstryde ons doel bereik en die Eagles se internasionale ranglysposisie suksesvol verdedig.

“Die volgende twee dae is 'n dobbelspel, maar ek sien geweldig uit na die uitdaging. Omrede die eendagwed­stryde op agtereenvolgende dae gespeel word, sal van die boulers 'n blaaskans kry. Van hulle was die afgelope ruk in 14 wedstryde betrokke, wat baie vir 'n bouler is.

“Ons gaan (vandag) 'n meer onervare boulaanval sien, wat goed is vir ons krieket. Ek is opgewonde om te sien hoe die nuwe spelers die druk hanteer. Maar dié stap verander geensins die manier waarop ons elke wedstryd benader om te wen en die wenkultuur voort te sit nie.

“Ons wil graag vir die Eagles se ondersteuners wys dat ons gereed is vir die volgende jaar of twee wat voorlê as dit by internasionale eendagkrieket kom.”



SKOONSKIP IN T20-REEKS

Die Eagles het Maandagnamiddag in hul laaste Castle Lite T20-botsing by Wanderers die reeks met 3-0 beklink.

Die Eagles, wat eerste gekolf het, het 189/3 in 20 boulbeurte (9.45 per boulbeurt) opgestapel.

Die ervare Craig Williams (81 van 49 b, 12x4, 1x6) was baas van die plaas in die ietwat ongewone rol as aanvangskolwer en het gewys dat De Bruyn inderdaad vir dié rol op sy knoppie kan druk. Hy is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

Stephen Baard (23 van 23 balle, 1x4), JP Kotzé (37, 32 b, 2x4, 2x6), JJ Smit (35* van 13 b, 3x4, 2x6) en Gerhard Erasmus (4*, 3 b) het vir die res van die Eagles se lopies gesorg.

Uganda, wat 190 moes behaal, is nie veel beweegruimte deur die Namibiese boulers gegun nie.

Tangeni Lungameni (3/30 in 4 boulbeurte), Jan Frylinck (3/21 in 4), Bernard Scholtz (2/23 in 3) en Ben Shikongo (1/16 in 4) het die Kraanvoëls se vlerke geknip vir 124 almal uit.

Vir Uganda het Kenneth Waiswa (2/41 in 4) van Williams en Kotzé ontslae geraak toe hulle onderskeidelik deur Jonathan Sebanja en Saud Islam uitgevang is. Hul eerste sukses was toe Stephen Baard deur Dinesh Nakrani skoongeboul is.

Die beste kolfteenstand is deur aanvangskolwer Arnold Otwani (21 van 29 b, 2x4), die kaptein en paaltjiewagter, gelewer. Riazat Ali Shah het heel belowend gelyk met drie sesse en 'n vier, maar ná 'n goeie aflewering van Tangeni Lungameni is Shah (33 van 17 b) vanweë 'n misverstand tussen hom en Dinesh Nakrani blitsig deur Kotzé uitgehardloop.

• Williams se aanskoulike 81 lopies – sy hoogste internasionale T20-telling – volg op die mylpaal dat hy in die oggendwedstryd die 2 000 lopiekerf in alle T20-krieket verbygesteek het.

Sy 2 090 lopies sover is van 1 595 aflewerings behaal (91 kolfbeurte in 95 wedstryde, gemiddeld 26.79) en sluit 147 viere en 94 sesse in. Hy behaal twee honderdtalle en nege vyftigtalle en sy hoogste telling is 125.

Die 37-jarige Williams se internasionale T20-lopierekord staan ná 16 kragmetings en 15 kolfbeurte (drie nie uit nie) op 344 lopies (van 276 balle) teen gemiddeld 28.66. Dit sluit twee vyftigtalle, 29 viere en elf sesse in.

• Geen toeskouers word by Wanderers toegelaat nie, maar regstreekse videodekking kan op Krieket Namibië se Facebook-blad, of op NBC2 gevolg word.– [email protected]

Soortgelyk

 

Heckmair-verhoor verder vertraag

1 uur gelede | Misdaad

Stefan Noechel van die Allgemeine Zeitung berig:Die verhoor van die Amerikaanse beskuldigdes, mnre. Marcus Thomas en Kevin Townsend, wat na bewering in 2011 vir mnr....

Skoolseun in selle oor video van geweld

2 ure gelede | Misdaad

‘n Sewentienjarige seun wat op ‘n video ‘n dogtertjie van vyf aanrand, is in hegtenis geneem.Die video is wyd in die sosiale media versprei en...

Jong dokter verskyn vir verkragting

5 ure gelede | Misdaad

Die leerlingdokter wat vir die beweerde verkragting van ‘n pasiënt by die Katutura-staatshospitaal in Windhoek in hegtenis geneem is, het vanoggend sy eerste verskyning in...

Leerlingdokter verkrag glo pasiënt

16 ure gelede | Misdaad

Tuyeimo Haidula – ’n Manlike leerlingdokter by die Katutura-hospitaal is in hegtenis geneem nadat hy na bewering Sondag ’n pasiënt met kopbeserings verkrag het.Volgens ons...

Bejaardes op Swakop en plaas aangeval, beroof

16 ure gelede | Misdaad

Erwin Leuschner en Ronelle Rademeyer – Drie gemaskerde, ­ge­wa­pen­de mans het gisteroggend by 'n huis in Vineta op Swa­kop­mund in­gebreek en twee vroue aangeval en...

O die donkie, die donkie is ‘n wonderlike ding...

16 ure gelede | Mense

‘Ons korrespondent in die Suide, Elizabeth Joseph, het dié gesin van Snyfontein padlangs raakgeloop met hul hoofvervoermiddel – ’n donkie en ’n karretjie.

Covid-19 teister skole in Hardap

16 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Skole in die Hardapstreek word deur Covid-19 geteister, met drie skole net op Schlip wat aanvanklik hul klasse moes opskort. Die pandemie...

Weer vir Woensdag 14 April

16 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Winderige en bloedig warm toestand duur oor die kus voort, terwyl sandstorms in die Namib voorkom.BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die Namibwoestyn met...

Bure help hul buurte skoonhou

16 ure gelede | Infrastruktuur

Augetto Graig – Die gemeenskap van Samora Machel-kiesafdeling is voorlopers in die toepassing van die gemeenskapsgeleide totale sanitasie-inisiatief (CLTS), waardeur hul omgewing vanaf 'n ashoop...