Jong Georgiërs oorleef nét
Rugby
Andrew Poolman - Namibië se Welwitschias XV het hul voorseisoense vriendskaplike opwarmwedstryd teen Georgië se o.20-span gister by die veld van Paarl Gimnasium met 24-20 verloor.
Afrigter Phil Davies se manne het uiteindelik, in hul derde wedstryd van die toernooi, met tye selfvertroue op die aanval begin wys, hoewel heelwat werk nog vir Davies en sy afrigterspan voorlê om die vele ongedwonge foute te beperk wat die afgelope week vir hulle gekenmerk het.
Rustyd was die Namibiërs met 17-3 agter, met net 'n strafdoel deur PW Steenkamp om vir hul moeite te wys.
Die Namibiese lynstane het nie gevlot nie. Soms het Georgië se teenspringers tussenin gekom, of ander kere kon die hakers Obert Nortjé en Niël van Vuuren eenvoudig nie hul springers vind nie. Só het baie besit verlore gegaan waarmee die Namibiërs hul opponente onder druk kon gehou het.
Die agterstand met rustyd het vir nog 16 minute geduur, totdat die flank Rohan Kitshoff 'n losbal opgetel en reguit pale toe gehardloop het vir Namibië se eerste drie, wat Cliven Loubser oorgeskop het (10-17).
Georgië se gerekende skrummers, wat vroeër vir Suid-Afrika probleme gegee het, het egter tweede gekom teen die Welwitschias. Die Namibiërs het meer strafskoppe met sterk skrums afgedwing, terwyl haker Obert Nortjé 'n goeie dryfmaalbeweging met 'n welverdiende drie afgerond het.
Plaasvervangers soos Eugene Jantjies, in die plek van 'n wisselvallige JC Winkler, en die stormram-agtsteman Adriaan Booysen het ook 'n verskil teweeg gebring om te verseker dat die Namibiërs die tweede helfte sterker afgesluit het.
Buitesenter Janry du Toit het ná een van Booysen se vele sterk lopies die bal op die voorvoet gekry om Namibië se derde drie te gaan druk.
Was dit nie vir 'n ongewone afdag wat PW Steenkamp met sy stelskopwerk gehad het nie, kon Namibië gewen of minstens gelykop gespeel het. Hy het met een strafdoel geslaag, maar met nog 'n ewe eenvoudige vroeë poging het hy die regoppaal getref en hy kon ook nie Nortjé of Du Toit se drieë verdoel nie, wat vir Namibië 'n welverdiende gelykopuitslag kon beteken het.
Vir die Welwitschias-oefengroep het die vriendskaplike toernooi op uitnodiging teen die o.20-spanne van Suid-Afrika, Argentinië en Georgië gedien om op die komende provinsiale SuperSport-uitdaagreeks voor te berei. Dit begin op 27 April met 'n tuiswedstryd teen die Goue Leeus, voor die besoek aan Loftus Versfeld en die Blou Bulle 'n week later.
• Argentinië se opwindende o.20-span, wat in Juniemaand die tuisvoordeel by die o.20 wêreldkampioenskap sal hê, het gister sy klas gewys deur Suid-Afrika met 34-33 te verslaan en die vriendskaplike toernooi onoorwonne af te sluit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie