Japie loer by Staatshuis in

Vertel van jongste Mars-sending

31 May 2018 | Tegnologie
Ronelle Rademeyer - Namibië se geliefde dr. Japie van Zyl het gisteroggend gaan oë wys by Staatshuis waar hy pres. Hage Geingob tydens sy kort kuiertjie oor Nasa se jongste Mars-projek ingelig het.

Van Zyl, die boorling van Outjo wat direkteur is van sonnestelselverkenning by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL) in Pasadena, Kalifornië, sê die InSight-sending is vas op koers na die Rooi Planeet.

Die InSight-sending is op 5 Mei gelanseer en die hoëtegnologie verkenningstuig sal op 26 November, ná sy ruimtereis van meer as 400 miljoen km, daar land.

Van Zyl het gister ’n T-hemp soos die een wat die JPL-spanlede die dag met die lansering gedra het, aan Geingob geskenk en in ligte luim geskerts die president is nou een van hulle.

Hy het ook vir hom en die presidentsvrou, me. Monica Geingos, Nasa-pette gegee “om die son weg te hou” wanneer hulle op Swakopmund uitspan.

Daarna het hy verduidelik met die nuwe Mars-projek hoop wetenskaplikes om een van die tergendste vrae oor dié planeet op te los.

Dit is naamlik of Mars eens op ’n tyd ook ’n vloeibare kern, en dus ’n magneetveld, gehad het wat die atmosfeer beskerm.

Hy sê die aarde se vloeibare kern help met die dinamo-effek wat die magneetveld opwek.

“Mars het nie ’n magneetveld nie, maar as die teorieë reg is, moes Mars dit ook gehad het. Dit kan wees dat Mars se kern mettertyd solied geword het. Met hierdie sending gaan ons probeer vasstel hoekom Mars nie sy magneetveld kon behou nie,” het hy vertel.

Geingob het gesê die Namibiese nasie is trots op Van Zyl en dankbaar dat hy altyd na Namibië terugkeer om sy kennis hier te deel.

Hy het gesê in sy geval kan daar nie gepraat word van ‘n brain drain wat behels dat kennis vir die land verlore is nie, maar van ‘n brain gain omdat hy dit gereeld met sy eertydse landgenote kom deel.

Van Zyl sal juis tydens sy kort besoek aan die land weer verskeie skole besoek. Hy gee ook vanaand ’n openbare lesing by die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust).

Dié naweek vlieg hy Kaap toe om Maandag by sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, ’n lesing te gee.

Op ’n vraag van Geingob oor wat hy in sy voorlesings aan jongmense sê, het Van Zyl geantwoord hy vertel hulle dat wetenskaplikes elke dag nog iets nuuts oor die wonders van die heelal leer.

Hy vertel hulle ook dat deur hard te werk, hulle dieselfde hoogtes as hy kan bereik.

Soortgelyk

 

Voertuie deur Löwen meegesleur

12 ure gelede | Toerisme

Ronelle Rademeyer – Twee toeriste én 'n barmhartige samaritaan moes gister hulpeloos toekyk hoe beide hul voer­tuie deur vloedwater in die Löwenrivier meegesleur word.Dié twee...

Boer slag huurbeeste glo self

12 ure gelede | Misdaad

Elvira Hattingh – 'n Boer uit die Windhoek-omgewing het Donderdag sy vierde verskyning in die landdroshof in Windhoek gemaak op aanklag dat hy 'n boer...

Weer vir 19 Januarie

12 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word oor die binneland verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Namib en verre suide met 'n paar buie, andersins gedeeltelik...

Voëlgriep dalk in Namibië

12 ure gelede | Omgewing

Adam Hartman en Erwin Leuschner – Nadat voëlgriep in Suid-Afrika in die Wes-Kaap etlike maande gelede uitgebreek het, bestaan die vrees tans dat seevoëls langs...

Mense keer op keer uit riviere verskuif

12 ure gelede | Regering

Tanja Bause – Talle huise aan weerskante van 'n rivier wat parallel met Istanbulstraat in Otjomuise loop, het Sondagnamiddag oorstroom. Baie van die betrokke mense...

Pedofielsaak skuif na hoërhof

12 ure gelede | Howe

Kristien Kruger – Die vermeende pedofiel wat daarvan beskuldig word dat hy verskeie jong seuns in Windhoek verkrag en vir pornografies doeleindes misbruik het, se...

Reënseisoen skop buitengewoon swak af

12 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Ofskoon Namibië se weerkantoor opnuut wydverspreide donderbuie vir vandag oor die binneland voorspel, het die eerste helfte van die reënseisoen “baie swak”...

Noorde wag vir reën

12 ure gelede | Weer

Terwyl die sentrale en suidelike gedeeltes van Namibië hoë neerslae die afgelope paar dae aangeteken het, moet die noorde van die land nog volgens die...

Verslag: Verskaffers het Agribusdev droog gemelk

12 ure gelede | Ministeries

Mathias Haufiku – ’n Forensiese verslag oor Agribusdev se sakebedrywighede voer aan verskaffers het voorkeurbehandeling ontvang om sake met die maatskappy te doen deur prysvasstellingstaktieke...