Ivermektien: Nog geen amptelike aansoek

‘Kwessie van lewe en dood’

09 June 2021 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Die Medisynebeheerraad van Namibië (NMRC) het “nog nooit in die geskiedenis van die raad” ’n amptelike aansoek ontvang om Ivermektien vir menslike gebruik goed te keur nie.

“Ons het nog geen aansoek met geverifieerde inligting van proefnemings, voldoende, behoorlik gestaafde data, ontvang nie,” het ’n lid van die beheerraad gesê in reaksie op ’n petisie deur ’n lys dokters vir die goedkeuring deur die NMRC en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir die behandeling van Covid-19 met Ivermektien.

“As ’n tradisionele vervaardiger ’n aansoek met bewese data indien, sal ons dit evalueer,” het hy gesê.

’n Dokter wat teen die gebruik van die middel gekant is, het aan Republikein gesê hy is radeloos, want “mense gebruik nou eerder dit as om hulself te laat inent. Ek het pasiënte gehad wat gesterf het, al het hulle dit gebruik,” het hy gesê.

Volgens BMJ Evidence-based Medicine (ebm.bmj.com), wat wetenskaplike navorsing ondersoek en ’n navorsings- en etiese beleid volg, word die evaluering van Ivermektien vir die behandeling van matige tot ernstige Covid in “voorafdrukke en protokolbewaarplekke” (preprints and protocol repositories) gepubliseer wat nie die voorgestelde proses volg om kwaliteit standaarde in publikasies te verseker nie.

Dit terwyl portuurbeoordeelde verslae (beide waarnemings- en eksperimentele studies) stadig hul verskyning maak, maar tog metodologies beperk word deur heterogeniteit in die bevolking wat Ivermektien ontvang het, die dosis wat ontvang is, sowel as onbeheerde mede-ingrypings.

Daar word ook verwys na ’n onlangs gepubliseerde sistematiese oorsig wat die doeltreffendheid en veiligheid van farmakologiese ingrypings vir Covid-19 in gehospitaliseerde pasiënte ondersoek het. In 110 studies (78 gepubliseerde en 38 ongepubliseerde studies) is ’n hoë dosis Ivermektien verbind met ’n verminderde sterftesyfer in pasiënte wat kritiek siek is. Volgens BMJ was die algehele sekerheid van die bewyse “baie laag in alle uitkomste en het die vermoë vir aanbeveling verminder”.

Met verwysing na studies wat wyd op sosiale media oor die voordele en doeltreffendheid van Ivermektien versprei word, sê BMJ dit word gedoen sonder om enige metodologiese riglyne te volg.

“Dié webtuistes sluit nie protokolregistrasie met metodes, ondersoekstrategieë insluitend kriteria of kwaliteitevaluering van die ingeslote studies in nie.”

BMJ volstaan dat navorsing vir gebruik van Ivermektien teen Covid “ernstige metodologiese beperkings het wat lei tot ’n baie lae sekerheid van bewyse”.

“Gebruik behoort gebaseer te wees op betroubare bewyse, sonder konflik van belange, met bewese veiligheid en doeltreffendheid in etiese, goedgekeurde kliniese proefnemings.”

Die petisie deur die groep dokters wat vir die gebruik van Ivermektien vra, onder wie die kardioloog dr. Simon Beshir, verwys op hul beurt na ’n “onlangse meta-ontleding van 58 studies” wat ’n verbetering van 78% in pasiënte getoon het wat in ’n vroeë stadium van Covid-19 hiermee behandel is.

Vir pasiënte wat in die gevorderde stadium van die siekte was en onder meer suurstof nodig gehad het, was die verbetering 46%. Die sterftesyfer het volgens dié ontleding met tussen 53% en 81% gedaal.

Indië word as ’n voorbeeld gebruik, waar die eerste golf in die land “suksesvol” en “net deur Ivermektien en sosiale afstand” bestuur is. Die reusagtige tweede golf het volgens die ondersteuners van die petisie saamgeval met die afskaffing van die gebruik van Ivermektien.

Volgens die groep dokters sal die noodgoedkeuring van die middel die behoefte uitskakel dat pasiënte dit op hul eie sonder enige mediese advies en toesig gebruik.

“Dié besluit kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”

[email protected]

Soortgelyk

 

27 sterftes, 1 649 nuwe gevalle

23 ure gelede | Gesondheid

Die sterftesyfer skiet met nog 27 - nege in Rehoboth, agt in Windhoek, drie in Keetmanshoop, twee in Walvisbaai en een elk in onderskeidelik Karasburg,...

Mental well-being suits us all

2 dae gelede | Mense

DR JOHN STEYTLERMental health is a subject which we are only starting to scratch the surface of in Namibia and it is not talked about...

Diva of finesse and fitness

2 dae gelede | Mense

Jeanette DiergaardtLiezel Ndjaronguru, a 32-year-old businesswoman, allows fitness enthusiasts to bring their best attitude to the table when working out. In 2013 the owner of...

Bonifatius Kantori Paulino is the Managing Director at Alexander...

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Since Paulino joined Alexander Forbes, he spent some time to familiarise himself with the areas of responsibility of the position of...

Streng vereistes vir gebruik van blitstoetse

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) het opgedateerde regulasievereistes vir die verkoop, verspreiding en gebruik van antigen-blitstoetse vrygestel.Die NMRC sê antigeen diagnostiese blitstoetse (Ag-RDT’s)...

Sterftes neem sesvoudig toe

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die Covid-sterftes vir Namibië het bykans sesvoudig die afgelope ses maande toegeneem – vanaf 16 sterftes per week in Desember verlede jaar...

'Woestynpsalm' nou in pylvak

2 dae gelede | Byvoegsels

Bosman Films, 'n jong produksiemaatskappy in die Namibiese filmbedryf, het opgewonde aangekondig dat produksie vir hulle eerste film, Woestynpsalm, onlangs afgehandel is. Woestynpsalm is 'n...

High-flyer Samantha Geyser soared to customer service executive at...

2 dae gelede | Mense

Staff reporterSamantha Geyser dreamed of becoming a pilot when she was a young girl. She admired Amelia Earhart for her achievement of being the first...

Gweri Vintage Collection – the brand that keeps on...

2 dae gelede | Mense

Zulu Boy sets the trend for creativity Created by Namibians for international consumption The Gweri Vintage Collection is a brand focused on providing exclusive and...