Interpol-werkwinkel teen korrupsie
Internasionale samewerking is fundamenteel in die stryd teen onwettige finansiering.
Augetto Graig
Om die stryd teen georganiseerde misdaad aan te pak, moet polisiebeamptes wêreldwyd voortdurend hierin opgelei word.
Die Namibiese polisie (Nampol) is vandeesweek gasheer vir Interpol en polisiebeamptes van Botswana, Lesotho, Malawi, Mauritius, Swaziland, Tanzanië, Zambië, Zimbabwe en Seychelle in Windhoek.
Dít vir die 18de wêreldwye werkwinkel teen korrupsie, finansiële misdaad en bateherwinning.
By die opening van die vyf dae lange werkwinkel by die Windhoek Country Club, het genl.maj. Anne-Marie Nainda, administrasiehoof van Nampol, gesê die doel van die byeenkoms is om kapasiteit te bou, samewerking te versterk en kwessies van wedersydse belang te bespreek.
Dié opleidingswerkwinkel word deur die Amerikaanse staatsdepartement gefinansier en word deur die Verenigde Nasies (VN) se organisasie teen dwelms en misdaad, asook die Namibiese regbank en die Wêreldbank ondersteun.
“Ons meganismes teen korrupsie, finansiële misdaad en bateherwinning moet ontwerp en opgestel wees om die ekonomiese grondslag van onwettige dwelmhandel, die finansiering van terrorisme, handelsmerkoortredings, mensehandel, afpersing en verwante misdade te bekamp,” het Nainda gesê.
“Die vinnige toename in georganiseerde misdaad en die internasionale dimensie van finansiële misdade en korrupsie is deesdae prominent. Dit hou 'n gevaar vir die openbare orde, veiligheid en stabiliteit in, en is 'n bedreiging vir die ekonomiese stabiliteit van ons land,” het sy gesê.
Volgens Nainda het dié tipe misdaad 'n slegte invloed op die sosioëkonomiese ontwikkeling van die land deurdat dit volhoubare ontwikkeling, etiese waardes en geregtigheid benadeel.
Sy sê dit is in die algemeen die armstes in die samelewing wat die ergste daaronder ly.
Omdat burgers staatmaak op die polisie om misdaad te bekamp, moet nuwe maniere gedurig gevind word om dié boosheid te beveg, het sy gesê.
Sy het bygevoeg opleiding is noodsaaklik om beter vir dié geveg voor te berei.
Dit is volgens haar welbekend dat geld wat op onwettige maniere bekom word, nie net in een land gebruik word om bates te koop en bedrog te finansier nie.
“Dit is 'n ernstige internasionale probleem en 'n veiligheidsbedreiging omdat die geld uit misdaad gebruik word om terrorisme en ander onwettige aktiwiteite te finansier,” het sy gesê.
Mnr. Sebastian Bley het namens Interpol gesê korrupsie en die roof van openbare bates deur korrupte amptenare het 'n groot impak op veral ontwikkelende lande.
“Korrupsie vernietig ook vertroue in openbare en private instellings en sodoende verhoed dit volhoubare ekonomiese en sosiale ontwikkeling,” het Bley gesê.
“Die teiken van en beslaglegging op die opbrengs en instrumente van hierdie misdade stuur 'n duidelike boodskap aan misdadigers en die samelewing dat misdaad nie vrugte afwerp nie,” het hy gesê.
Volgens Bley is internasionale samewerking van kardinale belang.
Hy het gesê dié wêreldwye werkwinkel is in 2012 van stapel gestuur en tot dusver is meer as 600 wetstoepassers daardeur opgelei.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie