Indiese stelsel bring weer reu00ebn
Indiese stelsel bring weer reu00ebn

Indiese stelsel bring weer reën

Nasionale damme is tans gemiddeld 56,7% vol. Terselfdertyd bestaan vooruitsigte vir méér reën die week.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Reënvooruitsigte vir die eerste week van Maart lyk belowend vir die binneland, met die Noorde en Noordooste wat swaar reënbuie en donderstorms van vandag af kan verwag.

Die Namibiese weerkantoor se Sieglinde Somses het gister aan Republikein gesê dié vogstelsel kan ook na die Suidooste en die kus uitbrei.

“Die hoogdrukstelsel wat tans oor die Indiese Oseaan hang, saam met die verdieping van die oppervlaktrog oor die Namibiese binneland, veroorsaak dat meer vog in sirkulasie oor die binneland kom.

“Gevolglik bestaan 'n beter kans vandeesweek op reën en donderstorms vir die grootste deel van die binneland. Die Noorde en Noordooste kan swaar reënbuie en donderstorms van vandag af verwag.

“Dié weer sal na verwagting Donderdag na die suidoostelike dele van die land uitbrei. Dieselfde weerstelsel kan moontlik enkele reënbuie aan die sentrale kus bring,” het sy gesê.

Ander weerdienste se voorspellings stem hiermee ooreen.

Die Nasionale Sentrums vir Omgewingsvoorspelling voorspel bogemiddelde reënneerslae in veral die Sentrale-Noorde en Sentrale-Noordweste in die komende week, met uitsondering van die verre Noordweste en Suidweste.

Volgens dié diens sal vandeesweek se beter reëns opgevolg word deur

'n heelwat droër tweede week in Maart.

Swaarder reën word vir vandag voorspel vir Katima Mulilo, Oshakati, Opuwo, Tsumeb en Grootfontein, terwyl matige reën vir Rundu voorspel word.

Otjiwarongo, Omaruru, Okahandja en Khorixas se kanse op reën vir vandag lyk besonder goed, terwyl Windhoek, Rehoboth, Arnos en Gobabis moontlik 'n ligte reënbui of bewolkte weer kan verwag.

Mariental se kanse op reën verbeter van môre af, terwyl Keetmanshoop en Karasburg dan ook ligte reën buie kan verwag.



SUIDEDAMME KRY MEESTE WATER

Suidedamme, asook die Omatakodam is die enigstes wat die afgelope week 'n betekenisvolle hoeveelheid water bygekry het.

Terselfdertyd bevat sentrale damme tans dubbel die hoeveelheid water as dieselfde tyd verlede jaar.

Die Omatakodam, een van die drie wat Sentraal-Namibië van water voorsien, staan tans op 53,3% en het sedert verlede week Maandag altesaam 9,476 Mm³ water

bygekry.

Bietjie meer as 'n maand gelede was dié dam nog dolleeg.

Dit bevat nou 23,179 Mm³ water, méér as die Von Bachdam wat tans 20,797 Mm³ (42,8%) bevat.

Die grootste van die drie sentrale damme, die Swakoppoort, is nou 12,2% vol – 'n rapsie leër as verlede seisoen se 14,2%.

Die Suide se Hardapdam het die afgelope week 13,739 Mm³ water bygekry. Dit bevat tans 200,000 Mm³ water en is 72,6% vol.

Die Nautedam staan nou op 94% (78,546 Mm³) en die Oanobdam het ook 3,703 Mm³ water bygekry.

Dit is 75,3% vol.

Die Dreihukdam het ook 3,901 Mm³ water bygekry en is nou 28,4% vol.

Verlede jaar dieselfde tyd het nasionale damme altesaam 270,880 Mm³ water bevat en was dit gemiddeld 38,7% vol.

Tans bevat dit altesaam 396,156 Mm³ en is dit gemiddeld 56,7% vol.

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer