'IEB in nuwe formaat is hier om te bly'

Gelykstaande aan Gevorderde Vlak

24 February 2021 | Onderwys
Henriette Lamprecht – Die nuwe leerplan vir skole in Namibië wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-stelsel volg, is vergelykbaar met die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS) op Gevorderde Intermediêre Vlak (AS).

Dit, volgens die Nasionale Eksaminerings-, Evaluerings- en Sertifiseringsraad (NEACB).

Universiteite Suid-Afrika (Usaf) het volgens die IEB-skoolhoofdeverteenwoordiger in Namibië, mnr. Henry Mc Carthy, ook ná evaluering bevestig 'n kandidaat wat die Senior Sekondêre Sertifikaat (IEB) behaal, voldoen aan die minimum vereistes vir graadstudies aan enige openbare en private tersiêre instansie in Suid-Afrika.

Mc Carthy sê IEB-skole in Namibië is tans in gesprek met die Nasionale Kwalifikasieowerheid (NQA) en die ministerie van onderwys, kuns en kultuur oor elke rolspeler se verantwoordelikhede ten opsigte van die akkreditasie en kwaliteitswaarborge van die nuwe leerplan.

Volgens hom het die betrokke skole in Namibië op aanbeveling van die NEACB en met die steun van die ministerie 'n brief aan die Suid-Afrikaanse departement van basiese onderwys gestuur om die uitfasering van die IEB (Nasionale Senior Sertifikaat) te verleng.

“Laasgenoemde is gedoen om ons tyd en beweegruimte te gee indien die suksesvolle implementering van die Senior SS (IEB) langer vat as wat beplan is. Ons aansoek vir uitstel word nou deur 'n tegniese komitee van die departement van basiese onderwys in Suid-Afrika hanteer,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon indien Namibiese skole volgende jaar die eerste SSS-(IEB)-eksamen skryf, sal 'n groot deel van die eksamen vir alle vakke wat tans in Namibië aangebied word, “inhoudelik dieselfde wees ten einde leerlinge in staat te stel om net so goed te doen as leerlinge wat in die vorige jare die IEB (NSC)-eksamens geskryf het”.

“Die voorkoms en struktuur van die vraestel mag dalk hier en daar verskil, maar sal grotendeels dieselfde wees as waaraan ons (IEB) leerlinge gewoond is. Dit was (en is) die ooreenkoms met die NEACB en die IEB.”

Volgens Mc Carthy sal dit onbillik wees om van onderwysers en leerlinge te verwag om binne die bestek van ses maande 'n hele nuwe leerplan onder die knie te kry.

“Die migrasie na die SSS (heeltemal onafhanklik van die NSC) sal oor 'n tydperk van drie jaar moet plaasvind. Dit was (en is) die ooreenkoms met die NEACB en die IEB. Die IEB is dus hier om te bly,” het hy verseker.

Mc Carthy het beklemtoon IEB ondergaan bloot 'n gedaanteverwisseling van die IEB Nasionale Senior Sertifikaat (NSC) na die IEB Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS).

“Die IEB in sy nuwe formaat is dus hier om te bly ná 2021.”

Met verwysing na die nuwe leerplan sê hy die kwalifikasie is op senior sekondêre skole van toepassing en dien as 'n skoolverlatings- en universiteits­toelatingskwalifikasie.

Die vaksillabusse bou voort op alle toepaslike kurrikula vir primêre en junior sekondêre skole wat tans in die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) in werking is.



SILLABUSSE

“Die spesifieke vaksillabusse waarop die assessering van die kwalifikasie gebaseer word, is in ooreenstemming met die verwagte inhoud, vaardighede en vlakke wat aan die einde van die sekondêre skoolopleidingsfase benodig en verwag word.

Voorsiening is vir differensiasie gemaak ten opsigte van die aanbiedinge en die kategorisering van die tipe slaag in die kwalifikasie.”

Volgens die ontwerp is die nuwe leerplan op Vlak 4, ofte wel Gevorderde Intermediêre Vlak (AS-vlak) en sluit ook vakke in wat gelykstaande is aan die IEB se Gevorderde Programme (Advanced of A-Level).

Mc Carthy verduidelik die SSS kan op een van drie vlakke behaal word, naamlik SSS, SSS met Verdienste en SSS/Gevorderd.

Die SSS met Verdienste is vergelykbaar met toelating tot graadstudies - Gevorderde Intermediêre Vlak (AS). Die SSS Gevorderd bevat vakke wat op dieselfde standaard is as die gevorderde programvakke van die IEB of wat ontwerp is om vergelykbaar te wees met gevorderde programvakke (Advanced of A-Level).

Volgens hom sal die leerplanne en vakaanbiedinge spesifieke streekkontekste (SADC) in vakke akkommodeer waar dit relevant is. Die leerplanne en eksamens sal ook in beide Engels en Afrikaans (leer- en onderrigtale) beskikbaar wees.

Met verwysing na eksamens sal die vraestelle deur die IEB opgestel word wat ook die interne moderering sal verseker.

Eksterne moderering en ander toepaslike kwaliteitsversekeringsprosesse sal deur die IEB se gehalteversekeringsagentskap vir die SSS uitgevoer word.

Regsbeperkings in Suid-Afrika het veroorsaak dat die minister van basiese onderwys in die buurland in 2016 aangedui het die voortgesette aanbieding van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSC) en waaraan die IEB gekoppel is, sal ná 2019 nie meer buite die grense van dié land geskryf mag word nie. Die uitsteldatum is onlangs deur Suid-Afrika se minister van basiese onderwys tot 2021 verleng.

– [email protected]

Soortgelyk

 

Windhoekers met agterstallige rekeninge se water en ligte gaan...

51 minute gelede | Infrastruktuur

Die Windhoekse munisipaliteit sê inwoners van die hoofstad wie se water- en ligterekeninge 30 dae en meer agterstallig is, het tot Dinsdag 6 April om...

Sluitingsdatum vir Shining Light verleng

1 uur gelede | Kuns en vermaak

Die sluitingsdatum vir die Shining Light juweliersontwerpkompetisie is tot 30 April verleng. Me. Helena Mootseng, woordvoerder van die Namibian Diamond Trading Company (NDTC) sê...

Hoërskool Rehoboth gesluit tot ná Paasnaweek

4 ure gelede | Onderwys

Hoërskool Rehoboth is vanaf vandag tot Dinsdag 6 April gesluit. Volgens die bestuur van die skool sal dié tyd gebruik word om die skoolperseel deeglik...

Waarskuwingskote stuit vermeende diewe

15 ure gelede | Misdaad

Vermeende diewe is vroeër vandag in Robert Mugabelaan naby Bank of Namibia in die hoofstad in hegtenis geneem nadat skote afgevuur is. "Twee waarskuwingskote is...

Robberts bly in aanhouding

15 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

15 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

15 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

15 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...