Howe se hande afgekap

Forensiese uitslae van 1 000 sake uitstaande

14 February 2020 | Ministeries
Kenya Kambowe - ’n Tekort aan geld en personeel het veroorsaak dat die Nasionale Forensiese Wetenskap-instituut (NFSI) wetenskaplike ondersoeke nie betyds kan voltooi nie, wat tot vertragings by die howe lei.

Dít volgens ’n afskrif van ’n brief wat aan Namibian Sun, Republikein se susterkoerant, bekend is en deel is van twee Chinese burgers, mnre. Xuefeng Chen (29) en Zhenhai Zhou (31), se saakdossier.

Dié twee is verlede April in verband met die moord op mnr. Muyevu Andreas Haushiku by Andara in die Kavango-Oosstreek in hegtenis geneem.

Haushiku, wat vir Chen gewerk het, is na bewering koelbloedig geskiet.

Die NFSI se uitgawes in die 2017-’18-boekjaar was N$18,6 miljoen, wat na raming tot N$25 miljoen in die 2019-’20-boekjaar sou styg.

Die brief is op 20 Januarie vanjaar geskryf en het die Mukwe- rondgaande hof daarvan in kennis gestel dat die ballistiese verslag wat deel van die saak is nog nie afgehandel is nie. Dié vertraging is aan ’n gebrek aan fondse en personeel toegeskryf.

“Die NFSI beskik tans nie oor die vermoë om biologies verwante spoorelemente te identifiseer nie. Die NFSI het tans ook nie die vermoë om DNS-ontledings te doen nie. Die NFSI ervaar betekenisvolle uitdagings om aandag aan die genoemde lys van prioriteite te skenk weens ’n gebrek aan voldoende menslike en finansiële hulpbronne. Hierdie saak sal hiervolgens voorkeur geniet sodra bronne beskikbaar raak om met wetenskaplike ontleding voort te gaan,” lui die brief.

Verder is ook onthul teen 20 Januarie vanjaar het ’n totaal van 1 001 dringende sake weens vertragings in DNS- en wetenskaplike ontleding stilgestaan.

Komm. Paul Ludik, NFSI-direkteur, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Die NFSI ressorteer onder die ministerie van veiligheid en sekuriteit en is in 1993 gevestig met die doel om bewysstukke en misdaadtonele as deel van die Namibiese regsproses te ondersoek.

Chinese verdagtes

Die moordverdagtes Chen en Zhou het op 21 Januarie voor landdros Sonia Samupofu in die Mukwe- rondgaande hof verskyn. Die afwesigheid van die ballistiese verslag het veroorsaak dat Samupofu die saak na 19 Mei moes uitstel.

In hul borgtogaansoek voer die twee beskuldigdes aan hulle het uit selfverdiging opgetree ná die oorledene hulle met ’n staalhamer aangeval het.

Hulle het ook aangevoer hulle is nie ’n vlugrisiko nie en dat hul lewens nie meer in gevaar is nie omdat die publiek berus by wat gebeur het.

Die twee beskuldigdes is op 7 Oktober 2019 borgtog geweier en was sedertdien in aanhouding.

Samupofu het in haar uitspraak in die borgtogaansoek gesê sy is nie van die verdediging se betoë oortuig nie.

“Die hof het oorweeg dat dit nie in die belang van geregtigheid is om die verdagtes op borgtog vry te laat nie,” het sy gesê.

“Die oortredings waarvan die beskuldigdes aangekla word, is ernstig. Die beskuldigdes ontken nie dat hulle die oorledene geskiet het nie, wat beteken hulle het ’n saak om verantwoording voor te doen. Die staat het bewys hy het ’n sterk saak, omdat dit met ’n swaar vonnis gepaard gaan. Die moontlikheid bestaan dat hulle kan vlug. Beskuldigde nommer een het getuig hy ken die twee staatsgetuies, van wie een ’n voormalige werknemer is; daarom kan hulle moontlik met die ondersoek inmeng indien hulle op borgtog vrygelaat word.

“Die hof neem kennis daarvan dat die beskuldigdes se besighede sedert hul inhegtenisneming skade ly, maar afgesien van besigheidsregistrasiedokumente wat in die hof voorgelê is, is geen ander ondersteunende dokumente getoon om aan die hof te wys hoeveel hulle voor hul inhegtenisneming en tydens hul aanhouding verdien het nie.

“Daarom weeg die staat s’n swaarder wanneer die hof betoë en bewyse vergelyk. Met alle getuienis in ag geneem, roer die verdediging se saak my nie. Derhalwe word die aansoek geweier,” het Samupofu in haar uitspraak gesê.

Die twee verdagtes het by die hoërhof aansoek om verlof tot appèl gedoen om dié bevinding ter syde te probeer stel.

[email protected]

Soortgelyk

 

Damme voller

7 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl 99,671 Mm³ (miljoen kubieke meter) water altesaam 10 nasionale damme die afgelope week binnegevloei het, het die weerkantoor opnuut ’n waarskuwing...

Groot kommer oor sprinkaanplaag in Zambezi

7 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Plaag van bruin sprinkane uit vermoedelik Botswana teister kommunale boere by Muhundu en ander nedersettings in Katima Mulilo se landelike kiesafdeling...

Goliath, the giant

7 ure gelede | Mense

Elizabeth Joseph Born and raised in Windhoek, Romio Goliath started wrestling when he was 10. Being part of the After School Centre Wrestling...

Weerlig slaan meisie (11) dood

7 ure gelede | Misdaad

Weerlig het Saterdag die lewe van 'n elfjarige kind geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag is Aini Shilongo Saterdag omstreeks 18:00 in 'n...

Weer vir 25 Februarie

7 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Swaar storms word in die noordoostelike streke, Otjozondjupa-, Khomas- en suidelike streek verwag. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk in die...

NamWater to fix Opuwo’s supply woes

7 ure gelede | Plaaslik

Uakutura Kambaekua – Since 2017, Opuwo town has been faced with diminished water supply, a predicament blamed on high water loss in distribution systems, which...

Havana, Otjomuise powered by June

7 ure gelede | Energie

The ministry of urban and rural development has committed a total of N$14 million for electrification for the 2019/20 financial year, an amount that is...

A significant contributor to Namibia's economic landscape

7 ure gelede | Byvoegsels

Hangana Seafood (Pty) Ltd is a 100% Namibian-owned company, passionate about “Creating a future, enhancing life” for its employees, country and the people of Namibia....

Corona: Afrika 66% gereed

7 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Afrika se algehele gereedheidsvlak vir die coronavirussiekte (covid-19) staan op 66%. Volgens dr. Matshidiso Moeti, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se streeksdirekteur vir Afrika,...