Hou vlugsout reg vir ‘Vloek’

13 September 2019 | Kuns en vermaak
Carl Bester, die geslepe speurder wat lesers ses jaar gelede in Rudie van Rensburg se debuutroman, ‘Slagyster’, ontmoet het, keer terug in sy jongste rondomtalierit, ‘Vloek’, en bevestig dat Van Rensburg waaragtig ’n wêreldklas- misdaadfiksieskrywer is, meen Jonathan Amid.

Rudie van Rensburg se eerste Kassie Kasselman-roman, Slagyster (2013), is destyds uit verskeie oorde – en redelik onregverdig – met Deon Meyer se werk vergelyk. Die woord “krimi” was toe nog volksvreemd vir plaaslike lesers (en resensente) en talle was bra skepties oor die vlaag misdaadromans wat oor die volgende paar jaar die rakke sou tref.

Selfs die uwe wat destyds ’n opbloei in dié genre voorspel het, het nie ’n idee gehad oor presies hoe gewild dit in ’n betreklik kort tyd sou word nie.

Hoewel Meyer en Van Rensburg albei oudwerknemers van Sanlam is wat albei geliefde speurfigure geskep het, was die vergelyking toe al verdag. Nou is die stand van sake van so ’n aard dat min dié twee se fiksie sou vergelyk of verwar.

Van Rensburg het daarin geslaag om sy eie slaafse gehoor op te bou. Soos ’n Lee Child, Ian Rankin, Jo Nesbo of Michael Connelly onder ons eie lesers groot aanklank vind, so is daar nou ’n Deon Meyer en ’n Rudie van Rensburg, albei met ’n reeks trefferboeke agter hul naam.

Ons kon sedertdien die goed geoliede Rudie van Rensburg-masjien aandagtig bestudeer. Hy het ’n handelsmerk en oeuvre tot stand gebring wat met reëlmaat feitlik elke boekjaar ’n uitstekende misdaadroman oplewer. Dit is ’n “resep” wat werk, maar wat voortdurend aangepas, verfyn en verdiep word.

Waar Meyer die Suid-Afrikaanse Polisiediens die spilpunt van sy vertellings maak en die klem plaas op die ondersoek van misdaad as ’n spanpoging (met die polisieprosedures wat deurgaans onderstreep word), betrek Van Rensburg ook die polisie, maar laat meer van sy verhaalgegewe berus op die lot van die skurke en boosaards. Daar kan toenemend van Van Rensburg as ’n wêreldklas-krimiskrywer gepraat word.

Onvergeetlike booswigte en bedrewe baasbreine word geskep om aktuele en dikwels netelige en komplekse maatskaplike kwessies te anker, soos die misbruik van vroue en kinders, vorme van geweld, en wraak en vergelding in die konteks van regsprosesse wat misluk het.

Wat veral aandag trek, is die misdadigers wat in ’n mate simpatiek is en moeiliker om uit die staanspoor te oordeel. Die skrywer word deur grys gebiede geboei en deurgaans word diepgang oopgeskryf en duiselingwekkende intriges georkestreer sonder om kompleksiteit en nuanse prys te gee.

Elke karakter in ’n Rudie van Rensburg-rondomtalierit het sy of haar eie storie, een wat gewoonlik op opwindende, onvoorsiene maniere met die verhale van die ander karakters, goed of sleg, skakel.

Net soos wat die verhoudings tussen karakters ontwikkel en verras, en nodes en netwerke duidelik word, verdiep ook die “verhouding” tussen die misdaadfiksie­resensent en die werk van die onderskeie skrywers. Die voortgesette gesprek tussen die romans van plaaslike skrywers in hierdie genre kom voortdurend onder die loep.

Die resensent moet dus gedurig op sy hoede wees, in der waarheid ’n speurder in die kleine, wat te alle tye bewus is van die “opgeloste sake” en “nuwe dossiere” wat so gereeld op die lessenaar verskyn.

Die grens tussen die populêre en die literêre val ook stadig maar seker weg. Dit is belangrik om tred te hou met die maniere waarop krimiskrywers en dié met ’n meer “letterkundige” benadering in gesprek tree. Is romans deur Etienne van Heerden, Rudie van Rensburg of Chris Karsten in 2019 regtig nog so ver verwyder van mekaar?

Slagyster – ’n titel wat betekenismoontlikhede aktiveer, gekoppel aan die stryd om oorlewing en om inhegtenisneming en tronkstraf vry te spring, maar in retrospek ook lees as ’n wonderlike kopknik na die gevare van voorspelbaarheid en ’n afgesaagde struktuur – was wel die roman wat die potsierlike filatelis en flinkdinker Kassie Kasselman aan die Afrikaanse leserspubliek bekend gestel het. Tog het ’n ander, meer geslepe kalant, speurder Carl Bester, die voortou in dié krimidebuut geneem.

Slagyster was om verskeie redes opspraakwekkend: Eerstens het die Afrikaanse misdaadfiksielandskap heel anders daar uitgesien toe Van Rensburg se debuut verskyn het; Deon Meyer het nog loshande die etiket van “gunsteling” onder lesers geniet en mense soos Martin Steyn, Irma Venter, Dibi Breytenbach, Madelein Rust en ’n rits ander was nog geensins as krimikoppe van formaat gevestig nie.

Om te debuteer in ’n veel minder versadigde en mededingende mark is een ding, maar Slagyster was ook besonders omdat die skrywer nie ’n tradisionele speurverhaal van stapel gestuur het nie. Kassie Kasselman en Carl Bester se paaie het wel gekruis, maar die roman in sy geheel het die ondersoek van misdadigheid en korrupsie in die polisiediens op ambisieuse wyse met ’n transnasionale fokus versoen: die stryd in Nigerië en die Nigerdelta, gedryf deur die magstryd tussen ’n paar monopolieë om die olievelde te beheer.

Slagyster het die toets geslaag wat betref geloofwaardigheid en deeglike navorsing, maar wat veral die aandag getrek het, was die morele ambivalensie waarvoor Van Rensburg in sy vertelling voorsiening gemaak het.

Hoewel die Nigeriese misdadige kabaal en Kassie Kasselman onderskeidelik die bose en goeie teenpole gevorm het, het die skrywer in Carl Bester ’n karakter geskep wat iewers tussen dié pole nes skop. ’n Gevalle maar skerp speurder wat sy hand lekker diep in die cookie jar druk. Maar wag ’n bietjie: As daar beslag gelê is op etlike miljoene in ’n reuse-dwelmsaak, en jy het jou lewe op die spel geplaas om die saak op te los, is dit nie dalk meer reg as verkeerd dat jy ook in die vreugdes van die vangs deel nie? Is korrupsie ooit meer geregverdig, ietwat “sagter”, minder skreiend?

In die konteks van grootskaalse staatskaping, waar die varke 24/7 ter trogge staan, word ’n feilbare figuur soos Carl Bester die beste soort antiheld: Hy is steeds een van die geregsdienaars wat die komplekse groter prentjie verstaan en die sisteem uitbuit ondanks die risiko’s. Die macho-held het ’n swak vir sexy vroue en ’n weelderige leefstyl, twee hebbelikhede wat hom vinnig in die sop kan laat beland.

’n Dekade later (in storietyd) en ses jaar ná die verskyning van Slagyster is Carl Bester terug. Hy word gevrywaar van vervolging mits hy meedoen aan ’n internasionale ondersoek waar moord en die stryd om mag onvoorspelbaar en gekompliseerd bly.

Min lesers sal met my stry dat jy dikwels in ’n Rudie van Rensburg-roman mooi moet kophou. Met Vloek is dit nie soseer die naatloos verweefde verhaallyne en die veelvlakkige intriges wat jou konsentrasievermoëns uitdaag nie, maar iets veel meer opwindends: Die skrywer onderneem met Vloek om die leser te trakteer op ’n verbys­terende vlaag van feite wat netjies in die verhaal ingebed is en wat deurentyd interesseer, prikkel en jou kennis oor ’n sekere onderwerp uitdaag en verdiep.

Neem twee verhaallyne as voorbeeld: Die een behels die “minerale en moord”- verhaallyn, wat inzoem op die myn van kolumbiet-tantaliet (coltan), wat die metaal tantaal bevat. Die Griekse mitologie bevat die mitologiese figuur Tantalus, seun van Zeus, wat as straf in die doderyk gegooi is met takke vol vrugte wat net buite sy bereik hang en water wat hom skraps ontgaan sodra hy wil drink.

Die “vloek van Afrika” soos dit verduidelik word in die roman, word treffend met hierdie nimmereindigende, verwoestende soeke op letterlike en metaforiese vlak geskakel en ontgin.

Die tweede verhaallyn wat ontsaglik deeglike navorsing met ’n trefseker intrige en spanningslyn kombineer, is die “Nasionalisme en Neo-Nazi”-gegewe. Namate verregse bewegings anderkant die water én op eie bodem groei en aandag trek en “die middel” wegkwyn, probeer ons almal sin maak van die beweegredes van ekstremiste en die opbloei in verregse organisasies en politieke partye. Vloek, met die antagonis Guido aan die spits, delf met mening om te verduidelik presies hoe ’n aanhanger van verregse ideologie sou dink en optree om sy ideale wêreld te verwesenlik.

Hier word ’n na aan volmaakte balans tussen storie en karakter gevind. Sir Philip Sidney se idee dat misdaadfiksie die vermoë het om te “instruct” en “delight” word op bevredigende, besielende wyse versoen met die skrywer se onmiskenbare flair en vernuf.

Kry solank die vlugsout gereed, want Vloek is ’n krimi wat jou sal laat terugdeins én swets van die lekkerkry.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch. - Netwerk24

Soortgelyk

 

Hardap kry 19 Mm³ water sedert Maandag

1 uur gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Sedert die afgelope Maandag het die Hardapdam ’n reusehoeveelheid water bygekry, naamlik 19,523 Mm³ (miljoen kubieke meter). Die dam is nou 27,2%...

Nóg twee kietsies kry nekbande

2 ure gelede | Omgewing

Nóg twee swartpootwildekatte is in die vroeë oggendure met nekbande toegerus. Prof. Morgan Hauptfleisch en sy span van die Black-Footed Cat Working Group is tans...

Okahandja-kleinhoewe oorstroom weer

13 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl die polisie gistermiddag bevestig het ‘n vrou is nog soek nadat die Okahandjarivier haar vroeg gisteroggend meegesleur het, was ‘n kleinhoewe-eienaar...

Geingob stil oor kleiner kabinet

13 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Ten spyte van die groot gewag daaroor in sy Oujaarsrede weet Namibiërs nog nie hoe groot pres. Hage Geingob se verkleinde kabinet...

Eerste swartpootwildekat kry nekband

13 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Daar is geskiedenis gemaak toe Namibië se eerste swartpootwildekat vandeesweek met 'n nekband toegerus is. "Om die klein katjies op te spoor,...

Weer vir 27 Februarie 2020

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Verspreide donderbuie sal oor die noordelike streke en Omaheke- en Khomasstreek voortduur waar kitsvloede verwag word. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik...

Drie stroop glo renoster in Etosha

13 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Nege verdagtes is verlede week in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary in hegtenis geneem. Vanaf 17 tot 23 Februarie is beslag op...

Droogte: Baie boere wurg nog

13 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Foto’s van vol riviere, opgaardamme waarvan die vlakke styg en panne water langs die pad en in die veld het die afgelope...

PDM, ECN hof toe gesleep

13 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Mnr. Norman Tjombe, die Windhoekse prokureur wat vier ontstoke Popular Democratic Movement (PDM)-lede verteenwoordig, het gister bevestig hulle gaan hof toe.Alle aanduidinge...