Hoofstad word dalk volgende slimstad
Die Chinese tegnologiereus Huawei is gereed om Windhoek in 'n slimstad te omskep.
Augetto Graig
Die Windhoekse munisipaliteit (CoW) en Huawei, die Chinese inligtingstegnologiereus, oorweeg 'n ooreenkoms om die hoofstad van 5G, kunsmatige intelligensie en groot data (big data) te voorsien.
Veral die polisie kan dié verwikkeling positief aanwend.
Huawei is die voorste verskaffer van slimstadoplossings ter wêreld, met meer as 160 slimstede in meer as 100 lande en streke.
Die hoofstad se burgemeester, me. Fransina Kahungu, het die voorstel egter by verlede Donderdag se stadsraadsvergadering vir meer duidelikheid teruggestuur.
Raadslid Brunhilde Cornelius het beswaar gemaak teen die ope aard van die aanbeveling dat dienste wat die aanvanklike ooreenkoms nie dek nie, later voorgestel kan word.
Sy wou weet hoe die ooreenkoms Windhoek sou baat.
Dié verwikkeling kom ná mnr. Muesee Kazapua, Windhoek se oudburgemeester, en 'n afvaardiging in September verlede jaar besoek aan die hoofstad se Chinese susterstad Chongqing gebring het.
Inkstonenews.com het laas jaar berig Chongqing is die stad met die meeste kringtelevisiekameras ter wêreld.
“Chongqing het sedert 2019 ongeveer 2,58 miljoen kameras wat 15,35 miljoen mense dek,” sê die webtuiste.
'n Gesprek met adjunkburgemeester Li Mingqing het op 'n samewerkingsooreenkoms tussen die stede uitgeloop. Die afvaardiging het 'n demonstrasie bygewoon wat toon hoe 5G aangewend word om toesig oor dié nywerheidstad van sowat 30 miljoen mense te hou. Besoek is ook aan Huawei se navorsing- en ontwikkelingsentrum in Shanghai afgelê.
Volgens CoW is die ooreenkoms se doel dat Huawei 'n 5G-netwerk vir die hoofstad ontwerp en bou, wat deur die stad se spesiale fonds (SPV) gefinansier sal word. “En dan moet ons aangewese vennote leer hoe om die netwerk in stand te hou.”
Windhoek bied inwoners reeds vaste gehuurde lyne, optiese vesel, kabelvrye-, punt-tot-punt- en radioseinnetwerke. Die hoofstad se strategie om geld deur middel van slimstaddienste in te vorder, is in reaksie op 'n gebrek aan bandwydte, onvoldoende en verouderde infrastruktuur, stadige internet en beperkte toegang tot die netwerk.
“Verder moet die hoofstad verseker alle kommunikasie is veilig en dat die netwerk teen indringers beskerm word, en vir bedryf as 'n bestuurstelsel gereed is,” sê CoW.
Die munisipale voorstel sou die ondertekening en toepassing van die ooreenkoms onmiddellik ná goedkeuring daarvan toegelaat het.
Die raad se besluit hieroor is tot volgende maand uitgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie