Hepatitis E tref Erongo
Die simptome van sommige Hepatitis E-gevalle wat op Swakopmund aangeteken is, het reeds opgeklaar.
Henriette Lamprecht - Vier bevestigde gevalle van Hepatitis E is in die DRC-informele nedersetting op Swakopmund aangeteken. Volgens dr. Amir Eskander Shaker, waarnemende direkteur van gesondheid vir die Erongostreek, is ’n verdere 32 gevalle vir die siekte getoets, met die uitslae van 22 gevalle wat nog uitstaande is.
Shaker het aan die waarnemende permanente sekretaris van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Petronella Masabane, bevestig beheermaatreëls is reeds in werking. Volgens hom is daar “tot op hede geen ernstige gevalle nie” en het simptome in sommige gevalle reeds opgeklaar.
Die nuwe gevalle in die Erongostreek volg op uitbrekings in die Khomasstreek (Windhoek) en in die Omusatistreek. Die siekte het in dié twee streke die lewens van 18 mense geëis, terwyl ’n totaal van 1 703 gevalle in die Khomas- en Omusatistreek aangemeld is.
Die jongste uitbreking in die Erongostreek is teen druktyd deur Masabane bevestig.
Die uitbreking is deur die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Cleophas Mutjavikua, in ’n brief aan die burgemeesters van Walvisbaai, Swakopmund, Hentiesbaai en Arandis bevestig.
Volgens Mutjavikua is hy deur dr. Amir Eskander Shaker, waarnemende direkteur van gesondheid vir die Erongostreek, oor die uitbreking ingelig.
Shaker sou vervolgens met plaaslike owerhede oor moontlike voorsorgmaatreëls in verbinding tree.
Volgens dr. Lillian Kahuika, ’n epidemioloog verbonde aan die ministerie, het die aantal Hepatitis E-gevalle in Windhoek op 24 Junie op 1 630 gevalle gestaan.
Dié gevalle is sedert Oktober verlede jaar aangemeld. Sestien mense het in die hoofstad aan die siekte gesterf. Die gevalle is in die Havana-, Goreangab, Katutura-, Hakahana-, Green Well Matongo- en Ombili- informele nedersettings aangemeld.
Volgens Kahuika is 73 gevalle van die siekte in die Omusatistreek teen 24 Junie aangeteken.
Hiervan is 14 deur ’n laboratorium bevestig.
Twee mense is in dié streek aan die siekte dood. Die meerderheid was uit die Tsandi-distrik afkomstig. Die eerste uitbreking van die siekte in Namibië is in 1983 in Rundu met nege bevestigde gevalle aangeteken. Die laaste uitbreking was ook in Rundu in 1995.
Simptome van hepatitis E sluit onder meer akute geelsug, donker urine, anoreksie, erge moegheid en ongemak in.
Die inkubasietydperk vir die siekte wissel van twee tot 10 weke, met die meeste gevalle wat van vier tot ses weke ná blootstelling voorkom. In streke waar die siekte en uitbrekings algemeen voorkom, is dit meestal weens rioolbesmette water.
Die siekte begin gewoonlik met akute virale simptome soos 'n ligte koors, kopseer en moegheid, wat dikwels met 'n verlies aan eetlus en naarheid gepaardgaan.
Met die aanvang van bogenoemde simptome ontwikkel die pasiënt binne 'n paar dae donker urine en 'n geel vel.
Die beste voorkomingsmaatreëls is om drinkwater te kook en om hande gereeld met seep en water te was.
Tipe 1 en 2 word met uitbrekings geassosieer wat deur water versprei. Gemeenskapslede moenie hul hande in stilstaande water was nie. Mense moet ook hul hande was voor hulle kos maak of eet, ná hulle die toilet gebruik het en ná babadoeke omgeruil is.
Gevalle word klinies gediagnoseer wanneer mense al die simptome van hepatitis E toon sonder dat laboratoriumtoetse gedoen is om te bevestig dat die pasiënt wel hepatitis E onder lede het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie